Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Skuld skiet op nog voordat inperking verbruikers knel

Al wou Suid-Afrikaners geld leen in die aanloop tot die Covid-19-pandemie, was instansies wat geld uitleen vroeg reeds langtand om te veel krediet aan hulle toe te staan.

Suid-Afrikaners het al voordat die staat van inperking ingestel is, gesukkel om hul skuld te betaal. Foto: Pixabay

Dit blyk uit die kredietburo TransUnion se nuutste verslag oor verbruikerskrediet wat Dinsdag uitgereik is.

Carmen Williams, TransUnion se navorsingshoof, sê in ’n verklaring dat hul voorspelling in April vanjaar dat daar ’n afname gaan wees in die koers waarteen nuwe lenings en krediet toegestaan gaan word, in die kol was.

Dit blyk veral banke te wees wat baie huiwerig was om nuwe lenings toe te staan.

“Met die staat van inperking wat eers teen die einde van die eerste kwartaal begin het, het die vraag na verbruikerskrediet groot gebly.

“Terselfdertyd het uitleners egter reeds op die uitdagende voorpandemie-toestande begin reageer, en het hulle toe reeds begin om hul risiko-aptyt dienooreenkomstig aan te pas. Dit het beteken dat daar wel groei in sommige dele van die mark was, maar in ander dele was dit reeds teen ’n laer koers,” sê sy.

Luidens TransUnion se verslag het die aantal persoonlike lenings wat by banke aangegaan is, met 0,5% gedaal teenoor ’n jaar tevore. Dit is teenoor ’n jaar-tot-jaar-styging van 30,5% in die vierde kwartaal van 2019.

Die groei in die aantal nuwe kredietkaartrekeninge was 1,7%. Dit is soortgelyk as die jaar-tot-jaar-groei van 1,8% in die vorige kwartaal.

Suid-Afrikaners het hulle, net soos aan die einde van 2019, steeds na ander finansiëlediensteverskaffers gewend om geld te leen. Daar is 10,6% meer nuwe lenings by dié verskaffers aangegaan as ’n jaar tevore.

Suid-Afrikaners maak net soos voorheen nie net meer nuwe kredietgeriewe oop nie; die bedrae wat hulle leen of krediet voor kry, styg ook.

Waar die groot probleem inkom, is dat die syfers wys dat Suid-Afrikaners sukkel om hul skuld betyds te betaal.

In 28,2% van die gevalle betaal mense laat of glad nie aan die persoonlike lenings wat hulle uitgeneem het nie. Dit is ’n soortgelyke syfer (26,3%) waar dit by lenings kom by ander finansiëlediensteverskaffers.

Wat kredietkaarte betref, betaal mense in 13,7% van die gevalle laat, of glad nie.

krediet

Williams sê gegewe die onlangse gebeure wat betref die Covid-19-pandemie, verwag hulle dat Suid-Afrikaners in 2020 onder beduidend groter druk gaan wees rakende die hoeveelheid krediet wat hulle gaan nodig hê om kop bo water te hou, asook met hul vermoë om die terugbetalings te kan bybring.

Sy sê die ware impak van die staat van inperking sal eers gesien word wanneer die ekonomie weer heeltemal oopgestel word, en soos wat die betaalvakansies wat aan verbruikers gegee is, verstryk.

Die meeste Suid-Afrikaanse banke het betaalvakansies van gemiddeld drie maande aan hul kliënte gebied.

TransUnion sê ’n onlangse peiling wat hy gedoen het, wys dat 83% van verbruikers gesê het dat hul huishoudelike inkomste negatief geraak is deur die pandemie. 91% het gesê hulle is bekommerd oor hoe hulle hul rekeninge gaan betaal.

Meer oor:  Transunion  |  Geldsake  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Krediet  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.