Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Skuld uitgewis: Banke sê dié wet is slegte nuus

Banke is “uiters bekommerd” oor die Wysigingswet op die Nasionale Kredietwet, wat pres. Cyril Ramaphosa pas bekragtig het.

Mense wat minder as R7 500 per maand verdien, kan binnekort aansoek doen om skuld te laat afskryf.

Dié wet maak voorsiening vir die “uitwissing van skuld na willekeur”.

Terselfdertyd het die vakverbond Cosatu die wet verwelkom as een van die “mees pro-armoede- en pro-werker-”wette wat die parlement nóg goedgekeur het.

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) sê die wet in sy huidige vorm gaan banke se vermoë beperk om aan laerinkomstegroepe geld te leen. Dit gaan die koste van krediet vir dié mense verhoog omdat banke hoër rentekoerse sal moet vra om hulle vir die hoër risiko van wanbetaling te vergoed.

Dowe ore

Volgens Basa het sy versoekskrif aan Ramaphosa om nie die wet in sy huidige vorm te onderteken nie, op dowe ore geval.

Die vereniging het aangebied om met die presidensie te vergader om die redes vir ’n versoekskrif teen die wet te bespreek. Geen antwoord is ontvang nie.

Die bekragtiging van die wet is ’n verdere voorbeeld van hoe die regering op ’n manier optree wat die vertroue in die ekonomie wegvreet.
Bankvereniging van Suid-Afrika

“Basa het in goeder trou herhaaldelik aan die regering en die president uitgewys dat die wysigings aan die Nasionale Kredietwet nie ’n volhoubare maatstaf vir die verligting van skuld gaan wees nie omdat dit nie ’n balans handhaaf tussen die regte van verbruikers en van kredietverskaffers nie,” sê Basa.

Cosatu het weer op sy beurt gesê dit word verwelkom dat Ramaphosa die wet bekragtig het ondanks die “meedoënlose en gevoellose teistering en teenkanting van Basa.

“Ons is bly die president het sterk bly staan en die pleidooie om die wetsontwerp terug te stuur parlement toe verwerp.”

Volgens Cosatu gaan die wet “bitter nodige skuldverligting bring aan miljoene verbruikers wat diep in die skuld is”.

Die tesourie en die banksektor het beraam dit gaan miljarde rande se skuldverligting meebring.

Wie word gehelp?

  • Werkloses en mense wat die voorafgaande ses maande minder as R7 500 per maand verdien het, mag aansoek doen vir die afskrywing van korttermynskuld wat R50 000 of minder beloop.
  • Die wet laat die minister van handel, nywerheid en mededinging ook toe om verligting te soek vir sektore wat onder natuur- of ekonomiese rampe deurgeloop het. Dit teiken spesifiek ook verligting vir huishoudings waar kinders aan die hoof van die huis is, gestremdes en vroue, volgens Cosatu.

“Dit is nie roekeloos soos Basa beweer nie. Dit is redelik, gebalanseerd en gee ’n helpende hand aan dié wat dit die nodigste het.”

Fidusiêre plig

Basa het gesê banke het ’n fidusiêre plig om die spaargeld en beleggings van deposante, werkers en ondernemings te beskerm.

Banke benut deposante se geld om dit uit te leen.

“Banke kan nie ander mense se geld uitleen as hulle nie seker is die lenings kan terugbetaal word nie.”

Die wysigingswet maak voorsiening dat skuld na willekeur uitgewis kan word, volgens die vereniging.

“Deur voorsiening te maak vir die willekeurige uitwissing van skuld, gaan die wet effektiewelik banke verhinder om op verantwoordelike wyse krediet te voorsien, veral aan laerinkomstegroepe, wat dit dikwels die nodigste het.”

Só gaan dit werk

Cosatu het gesê die wet laat verbruikers wat diep in die skuld is wat geregtig is op die skuldverligting om aansoek te doen vir skuldverligting om:

  • Hul skuldterugbetalings oor vyf jaar te herstruktureer;
  • Indien dit nie moontlik is nie, om hul betalings op te skort vir 12 tot 24 maande, met gereelde hersiening van die situasie;
  • Om die skuld uit te wis of ’n persentasie daarvan ná twee jaar uit te wis as die verbruiker steeds nie in staat is om die skuld te betaal nie; en
  • Landdroste te bemagtig om ’n rentekoers tot selfs 0% te verlaag.

Dié maatstawwe is net moontlik indien alle bestaande opsies vir skuldverligting aan verbruikers uitgeput is, volgens Cosatu.

Verbruikers wat van dié skuldverligting gebruik maak, sal dan vir ’n sekere tydperk nie meer vir krediet kan aansoek doen nie.

Volgens Cosatu beskerm dit ook noodsaaklike huishoudelike items van beslaglegging, soos skoolklere en -boeke, beddegoed en kombuistoerusting.

Knou beleggersvertroue

Die wet is nog nie in die Staatskoerant gepubliseer nie.

Basa het gesê totdat dit gedoen word, is daar geen duidelikheid oor wanneer dit in werking tree nie.

“Die bekragtiging van die wet is ’n verdere voorbeeld van hoe die regering op ’n manier optree wat die vertroue in die ekonomie wegvreet.”

Die vereniging sê sy lede vergader in die komende dae om sy opsies te oorweeg oor die “ernstige situasie wat die wet in die kredietmark skep”.

Cosatu het op sy beurt ’n dringende beroep gedoen op die departement van handel, nywerheid en mededinging en die Nasionale Kredietreguleerder om haastig te wees met die publikasie van die relevante regulasies.

Meer oor:  Lenings  |  Nasionale Kredietreguleerder  |  Krediet  |  Skuld  |  Cosatu  |  Banke  |  Basa  |  Bankbedryf  |  Kredietwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2101,05 (1523)
  • Top 40 51801,53 (65598)
  • All Share 57853,9 (73012)
  • Resource 10 44319,86 (18680)
  • Financial and Industrial 30 79247,89 (123696)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.