Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Skuld uitgewis: Klerewinkels erg bekommerd

Klerewinkelgroepe, wat klere op krediet verkoop, is baie bekommerd oor die Wysigingswet op die Nasionale Kredietwet, wat verlede week deur pres. Cyril Ramaphosa bekragtig is.

Winkelrekeninge vir die koop van klere is ’n belangrike leerkurwe vir verbruikers en help later dat hulle verantwoordelike huis- en motorkopers word, glo die bedryf. Foto: Pixabay

Michael Lawrence, uitvoerende direkteur van die bedryfsorganisasie Nasionale Klerekleinhandelfederasie (NCRF), sê daar is potensieel grondwetlike probleme met die wet omdat verbruikers se skuld uitgewis kan word.

Die wet maak voorsiening vir ’n proses van skuldverligting vir skuldbelaaide verbruikers wat minder as R7 500 per maand verdien en ongesekureerde skuld van minder as R50 000 het.

Die verbruikers sal by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) kan aansoek doen daarvoor om hul skuld te laat uitwis. Die NKR sal bepaal of die persoon oorbelas is met skuld en in aanmerking moet kom vir skuldverligting.

Die bankbedryf het reeds groot kommer oor die wet uitgespreek.

LEES OOK: Skuld uitgewis: Banke sê dié wet is slegte nuus

Dit is die tweede keer in drie jaar wat wetgewing ingestel word wat moontlik ’n groot invloed op kleinhandelaars kan hê.

Netwerk24 het voorheen berig Truworths, Mr Price en TFG het die NKR hof toe geneem oor regulasies wat in werking getree het wat dit verpligtend maak dat verbruikers drie salarisstrokies moet toon voordat hulle krediet mag kry. Dié winkelgroepe het uiteindelik geslaag in hul aansoek.

Die regulasies het ’n baie groot invloed op hul kredietverlening gehad.

LEES OOK: Foschini-groep verwelkom uitspraak oor krediet

Volgens Lawrence val baie verbruikers in klerewinkelgroepe se verbruikerskuldboek in dié breë kategorie waarna die nuwe wet verwys.

Kredietverskaffers gaan voortaan baie huiwerig wees om aan dié kategorie mense geld te leen omdat sulke verbruikers potensieel kan aansoek doen om hul skuld te laat uitwis.

Klerewinkelgroepe glo hulle speel ’n belangrike rol in die “kredietreis” van verbruikers, vanaf die punt waar hulle krediet begin gebruik totdat hulle eendag ’n motor of ’n huis kan bekostig.

Jou kredietreis moet op die een of ander punt in jou lewe begin. Krediet by kleinhandelaars is ’n baie konstruktiewe manier om daardie reis te begin.
Michael Lawrence

“Jou kredietreis moet op die een of ander punt in jou lewe begin. Krediet by kleinhandelaars is ’n baie konstruktiewe manier om daardie reis te begin. Dit is doelgerig en opvoedkundig.”

Michael Lawrence, uitvoerende direkteur van die Nasionale Klerekleinhandelfederasie (NCRF).Foto:

Volgens hom toon hul statistieke ’n hoë persentasie van mense wat hul klererekeninge op ’n verantwoordelike wyse afbetaal, sit die reis verantwoordelik voort. “Nou wil hulle ’n grondliggende boublok van die kredietreis uitsny.”

Hy meen die wet gaan ’n invloed op almal in die kredietbedryf hê, self al is dit ondernemings wat net huislenings verskaf.

“Want die gevaar is dat jy oor vyf tot tien jaar minder kredietwaardige verbruikers in die stelsel het en dit kan stelselprobleme veroorsaak. Hoe gaan jy die kredietwaardigheid van iemand bepaal wat nooit deel van die kredietmark was nie?”

Lawrence sê die grondwetlike implikasies van die skuld wat uitgewis word, word deur hul regsadviseurs bekyk. “Dit kom daarop neer as iemand jou geld skuld, is dit ’n vorm van eiendom op jou balansstaat, en die wet ontneem eiendom wat wetlik joune is.”

Ander regsimplikasies word ook nog bepaal.

Terselfdertyd word ander kredietverskaffers se bedryfsliggame ook gekonsulteer oor wat nou gedoen moet word.

“Ons probeer bepaal wat die bedoeling van die wet is, want kredietverskaffers is veronderstel om gesien te word as ’n belangrike deel van ’n groeiende ekonomie. Belangrike gesprekke moet nou plaasvind oor hoe die ekonomie gegroei gaan word.”

Wat is ongesekureerde krediet?

Ongesekureerde krediet is winkelrekeninge en persoonlike lenings wat nie aan ’n bate gekoppel word wanneer dit toegestaan word nie. ’n Kredietverskaffer vra nie enige kollateraal vir die lening nie.

Gesekureerde skuld is wanneer ’n lening verskaf word om ’n huis, motor of meubels te koop. Die bate is kollateraal vir die lening.

Hulle gaan nie nou voor die voet hof toe storm nie: “Dit is nie ons voorkeurreaksie om die hof te nader nie; dit gaan nie ’n refleksreaksie wees nie.”

Hulle hoop in die nuwe parlement en onderhewig aan die verhouding wat die president predik hy met die sakebedryf wil hê, dat ’n sinvolle gesprek nog kan plaasvind wat meer gerusstelling bied as die wet.

Die bedryf hoop ook op gesprekke met Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging.

Die skielike stap deur Ramaphosa om die wet te onderteken, het die bedryf onkant gevang.

“Ons het gehoop op ’n soort verdere konsultasie, gegewe die soort kommer wat geopper is en die wyse waarop die wetsontwerp deur die vorige parlement gehaas is,” sê Lawrence.

Hennie Ferreira, uitvoerende hoof van MircoFinance South Africa (MFSA), sê almal het gedink dit gaan voor die verkiesing onderteken word. “Ons persepsie was dit is deurgedruk om voor die verkiesing onderteken te word, maar toe is dit nie gedoen nie.”

Hennie Ferreira, uitvoerende hoof van MircoFinance South Africa (MFSA).

Die wetsontwerp is deur die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid voorgestel en behartig.

Daar is vrae of ’n maatskaplik-ekonomiese impakstudie gedoen is voordat die wet deur die parlement goedgekeur is.

Ferreira sê die invloed van die wet is groot op sy lede omdat hulle juis die laerinkomstemark bedien. Sowat 90% van die MFSA se lede se inkomste kom van ongesekureerde krediet af.

“Ons bedien die mense in die laerinkomstemark wat moeilik regkom by banke. Ons is die laaste plek in die ketting waar iemand nog formeel goedgekeurde krediet van ’n geregistreerde kredietverskaffer kan kry. Die volgende plek vir iemand wat nie by ons lede regkom nie, is om na die ondergrondse mark (sogenaamde loan sharks) te gaan.”

Ferreira sê die wet gaan sakemodelle beïnvloed en beleggers afskrik.

Die volgende plek vir iemand wat nie by ons lede regkom nie, is om na die ondergrondse mark (sogenaamde loan sharks) te gaan.
Hennie Ferreira

“Effektief word die regte van beleggers en ondernemings oornag aangetas. Is dit die begin? Gaan ons dit elke twee jaar sien, en voor elke verkiesing?”

Michael Mark, uitvoerende hoof van Truworths, het verlede week op ’n aanbieding van die maatskappy se resultate gesê baie van dié kleinhandelaar se klante val in dié kategorie wat in aanmerking kom vir die skuldverligting. Dis egter ’n klein deel van hul verbruikerskuldboek.

Hy glo omdat die wet so lank bespreek is, is dit waarskynlik dat baie van die skuld reeds afgeskryf is of kleinhandelaars voorsiening gemaak het vir die afskrywing daarvan.

“Die invloed gaan op kort termyn waarskynlik nie beduidend wees nie. Die kommer wat kleinhandelaars het, is oor die sielkundige invloed, en wat gaan gebeur as mense dink dat hulle op ’n punt nie meer hul skuld hoef terug te betaal nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.