Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Skuld: Uitstel, maar betaal sál jy
’n Grasietyd vir die terugbetaling van skuld help dalk nou, maar jy sal straks veel langer moet betaal.

As jy met vakansie gaan, beteken dit noodwendig jy moet weer eendag huis toe kom en terugkeer na die werklikheid.

So is dit ook met ’n grasietydperk vir skuldterugbetalings – oftewel ’n betaalvakansie. Die geld wat jy skuld, sal terugbetaal moet word – en heel moontlik teen ekstra koste.

Die uitbreking van die Covid-19-pandemie en die inperking plaas ongekende druk op huishoudings se geldsake en in baie gevalle het dit vir mense moeilik of selfs onmoontlik geword om die paaiemente op hul huisverband, lenings of kredietkaart ten volle te betaal.

Talle Suid-Afrikaaanse banke en ander finansiële instellings het hul kliënte tegemoet gekom – óf met verminderde terugbetalings óf met ’n grasietydperk wat mense toelaat om paaiemente oor te slaan indien hulle vooraf met die bank of uitlener daaroor ooreengekom het.

Wat banke doen

Kliënte met ’n goeie kredietgeskiedenis by hul bank en wat op datum is met hul betalings, maar nou swaar trek weens die impak van Covid-19 op hul bedrywighede en finansies, sal eerste deur hul bank gehelp word.

Besonderhede van hulp aan diegene wat reeds voor Covid-19 finansieel gesukkel het, is meer kompleks en heelwat werk moet nog hier gedoen word, blyk uit inligting van handelsbanke oor maatreëls om verbruikers en sakeondernemings te help wat in die moeilikheid beland omdat hul kontantvloei geraak is, hul sakebedrywighede tot stilstand gekom het of hul werk verloor het.

Die meeste banke het reeds maatreëls aangekondig om hul kliënte by te staan.

Banke is dit eens kliënte wat in finansiële moeilikheid is, moet hulle so gou moontlik kontak sodat ’n werkbare oplossing tot voordeel van albei partye gevind kan word.

Kontak jou bank om te hoor watter oplossings tot jou beskikking is.

Opsies is:

  • Betaalvakansies op lenings of kleiner maandelikse paaiemente;
  • Betaalvakansies vir klein en middelslagondernemings met ’n omset van minder as R20 miljoen (Standard Bank);
  • Verligting vir heeltydse studente met studentelenings;
  • Die herstrukturering en konsolidasie van skuld;
  • Bykomende krediet;
  • Tydelike opskorting van Saswitch-gelde (wanneer jy ’n kitsbank van ’n ander bank gebruik);
  • Pasgemaakte oorbruggingsfinansiering waar nodig;
  • Waar moontlik hulp met die verwerking van kredietversekeringseise;
  • Kort- en langtermynbetalingsplanne;
  • Omvattende skuldhersiening;
  • Herfinansiering vir eiendom; en
  • Gepaste individuele oplossing op enige leningsooreenkoms met die bank vir kontantvloeiprobleme wat uit Covid-19 spruit.

Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB, sê as ’n eerste fase sal FNB-kliënte gehelp word wat voor Covid-19 finansieel stabiel was.

FNB wil verseker dié kliënte kan oor twee of drie maande normaal met hul bedrywighede voortgaan eerder as dat Covid-19 hulle in die knyp laat beland.

Verligting aan dié groep individue en sakeondernemings geld van 1 April tot 30 Junie.

Sowat 50% van FNB se kliënte het ’n kredietverhouding met die bank en sowat 80% van hulle het ’n goeie kredietprofiel, sê Celliers.

Van die verslappingsmaatreëls wat die Reserwebank aangekondig het, maak dit vir handelsbanke moontlik om hul eie kapitaal te gebruik om die kliënte te help.

Daar is ook riglyne gegee oor hoe banke ingevolge die internasionale finansiële verslagdoeningstandaarde (Ifris) kliënte kan help sonder om die bank se inkomste­staat te benadeel, sê hy.

“Nou het ons die vermoë en kan ons besluit waar om te help.

“Waar kliënte terugbetalings vir drie maande uitstel, sal FNB dit finansier en dit oor drie of vier jaar laat terugwerk.”

Celliers sê dis ’n duur belegging en groot deel van die bank se kapitaal sal daaraan bestee word, maar dit is beter om hierin te belê as dat daardie kliënte ná dié krisis nie weer hul deure kan open nie.

Wat kliënte betref wat voor die Covid-19-uitbreking gesukkel het, lê baie werk nog voor en hier sal hulp van die regering en skenkers nodig wees, sê Celliers.

Om die aansoekproses so maklik en vlot moontlik te laat verloop, is daar ’n spesiale Covid-19-ikoon op die FNB-app. Kliënte kan ook die bank via ander kanale kontak.

Kliënte hoef nie elke afdeling van die bank te kontak waar hulle ’n lening het nie. Celliers sê daar is nie tyd vir hope papierwerk en dae lange frustrasie nie.

Die volumes is groot en sal waarskynlik in die volgende paar weke aansienlik toeneem en FNB wil nie sloer met ’n uitgerekte proses voordat mense gehelp word nie.

Standard Bank sê daar kan in enige sake- of persoonlike finansiële siklus uitdagings wees wat beteken ondernemings of individue sukkel om hul finansiële verpligtinge na te kom, en dat die uitdagings vererger kan word deur ’n ekonomiese afswaai of krisis.

Hoe gouer dié wat in die moeilikheid is, hul bank kontak, hoe beter vir albei.

“Dit is nie in Standard Bank se belang dat enige onderneming ondergaan of enigeen sy huis verloor nie. Dit is in albei partye se belang om ’n werkbare oplossing te vind.”

Geoff Lee, uitvoerende bestuurder van huislenings, kleinhandel- en besigheidsbanksake van Absa in Suid-Afrika, sê alle gevalle van kliënte wat sukkel word individueel oorweeg en hang van die spesifieke kliënte se besonderhede af.

“Dit sluit in kliënte wat op datum is met hul betalings en wat nou finansiële druk ervaar weens Covid-19.”

Bytplekke

Rita Cool, finansiële adviseur van Alexander Forbes, sê mense wat dit kan bekostig om hul maandelikse paaiemente te betaal moet voortgaan om dit te doen.

“In baie gevalle word rente steeds gehef op die lening gedurende die grasietydperk en dit verleng bloot die tydperk waarin jy jou skuld sal moet delg,” sê sy.

“Onthou, daar is nie iets soos ’n gratis middagete nie, net ’n middagete waarvoor jy met jou kredietkaart betaal het wat jy later moet terugbetaal.”

Benay Sager, bedryfshoof van die skuldberader DebtBusters, het aan Rapport gesê ’n betaalvakansie of grasietyd wat paaiemente betref, gaan gewoonlik gepaard met bepalings en voorwaardes.

“Een daarvan is dat die rente sal oploop en dat jou balans oor drie maande hoër sal wees as die balans vandag as jy geen betalings doen nie.”

Sager skets twee scenario’s: waar iemand steeds sy volle paaiement betaal en waar iemand ’n betaalvakansie te neem.

terugbetaling

Scenario 1

Persoon A is veronderstel om R1 857 per maand terug te betaal aan ’n R50 000-lening teen ’n rentekoers van 22% oor vier jaar wat sy ses maande gelede uitgeneem het.

Tot nou toe het sy die volle uitstaande bedrag wat van haar verwag word, betyds betaal. Dit is ’n delging van R11 142 (6 x R1 857) ten opsigte van die oorspronklike lening. Daar is dus nog R74 699 uitstaande.

Ná vier jaar sou sy R85 841 terugbetaal het – rente en maandelikse gelde ingesluit.

Scenario 2

Persoon B neem dieselfde lening teen dieselfde rentekoers uit, maar neem ’n betaalvakansie van drie maande. Hy sal uiteindelik 5% of R4 108 ekstra betaal benewens die R85 841. Betaalvakansies kos jou dus meer, soos die tabel illustreer.

Sager benadruk dat betaalvakansies ’n welkome opsie is vir iemand wat korttermyn-kontantvloeiprobleme ondervind.

“Dit is definitief iets wat oorweeg kan word, solank jy besef daar is ’n moontlikheid dat die rente sal ophoop vir die tydperk wat jy nie betaal nie.”

Meer oor:  Geld  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Skuld  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Covid-19  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.