Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Skuld vreet byna 10% van inkomste
Meer as 10 miljoen Suid-Afrikaners se kredietwaardigheid is bedenklik. Foto: Foto24

Suid-Afrikaners bestee gemiddeld amper 10% van hul huishoudelike inkomste om skuld te betaal.

Dit blyk uit die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se jongste verslag oor finansiële stabiliteit wat pas gepubliseer is. Die goeie nuus is dat die verhouding tussen skuld en besteebare inkomste tussen 2009 en 2018 gedaal het, wat daarop dui dat mense hul skuld effens beter bestuur.

Huishoudelike skuld as persentasie van inkomste staan nou op sowat 72,5% teenoor 86,5% in 2008.

Maar luidens die verslag maak ongesekureerde skuld (algemene lenings, kredietkaarte en oortrokke geriewe) ’n groter deel van totale huishoudelike skuld uit as voorheen. Dit het ook in 2019 steeds teen ’n vinniger pas gegroei as gesekureerde skuld.

Die groei in ongesekureerde skuld was verlede jaar 10,2% op ’n jaargrondslag, vergeleke met groei van 6,6% in 2018. Gesekureerde skuld het met onderskeidelik 5,3% en 4,2% gegroei op ’n jaargrondslag.

“Die relatief hoë koste en die aard van ongesekureerde skuld wat tipies vir gebruik is eerder as vir beleggings, behels dit hou ’n groter risiko vir banke in as gesekureerde skuld.”

Luidens die verslag word die risiko verhoog omdat die gemiddelde terugbetalingstermyn van die lenings ook die laaste paar jaar al hoe langer geword het.

Tien jaar gelede was sowat 70% van nuwe ongesekureerde skuld betaalbaar binne drie jaar of minder, en die res oor langer termyne. Nou is sowat 30% van nuwe ongesekureerde skuld vir termyne tot drie jaar en die res is oor langer tydperke betaalbaar.

Volgens die SARB is sowat 33% van 2019 se nuwe ongesekureerde skuld toegestaan aan individue wat minder as R15 000 per maand verdien. Minder as 1% van verbandlenings en ander gesekureerde skuld is aan dié inkomstegroep toegestaan.

Die finansiële welstand van laerinkomsteverdieners het dus ’n groter invloed op die prestasie van ’n finansiële diensverskaffer se ongesekureerde kredietportefeulje, sê die SARB.

Benay Sager, bedryfshoof van die skuldberadingsfirma DebtBusters, sê hul skuldindeks vir die eerste kwartaal wys verbruikers gaan meer skuld aan om hul inkomste aan te vul wat in reële terme (aangepas vir die uitwerking van inflasie) gedaal het.

Volgens Sager is daar ’n skerp styging in gemiddelde lenings om dalende netto inkomste aan te vul. Totale skuld is gemiddeld 33% hoër vergeleke met die eerste kwartaal van 2016 en selfs totale skuld vir topverdieners is nou 63% hoër.

Die getal verbruikers met huis- en voertuigfinansiering wat om skuldberading aansoek doen, neem ook toe. Vir mense wat R20 000 of meer huis toe neem, staan die verhouding van hul skuld tot hul jaarliks inkomste op 142%, wat onvolhoubaar is, sê Sager.

“Die silwer randjie is dat skuldberading baie doeltreffend is. Die getal kliënte wat die proses suksesvol voltooi het, het met 65% per jaar gestyg oor die afgelope vier jaar.”

Intussen wys Momentum/Unisa se indeks oor die finansiële welstand van Suid-Afrikaanse huishoudings dat huishoudings se reële netto welvaart van die vierde kwartaal in 2019 tot die eerste kwartaal van 2020 met ’n geraamde R828,2 miljard gedaal het tot ’n geraamde R6 215 miljard.

Johann van Tonder, navorser en ekonoom by Momentum, sê dis veral weens die skerp daling in die reële waarde van huishoudings se pensioengeld (-R427,6 miljard) en ander beleggings soos effektetrusts (-R364 miljard).

Die huidige verliese, erger as in die derde kwartaal van 2008 tydens die wêreldwye finansiële krisis, het gevolg op wêreldwye inperkings wat die internasionale en plaaslike ekonomieë swaar getref het. Boonop is Suid-Afrika se staatskuld tot sub-beleggingsgraad afgegradeer.

Hy sê in die komende maande sal huishoudings se welvaart ook die wind van voor kry soos talle mense se inkomste verminder of hulle hul werk verloor.

Van Tonder sê dis goeie nuus dat internasionale en plaaslike aandele en effekte sedert die einde van die eerste kwartaal kop opgetel het danksy optimisme oor vinniger ekonomiese herstel, dat ’n entstof teen Covid-19 moontlik voor einde vanjaar beskikbaar sal wees en dat sentrale banke se stimulusmaatreëls die negatiewe uitwerking van die pandemie kan versag.

Gevolglik is sowat 60% van die daling in die reële welvaart van huishoudings teen einde April teruggewen.

Van Tonder waarsku dat as die ekonomiese herstel nie so vinnig realiseer of ’n entstof nie so vinnig ontwikkel word soos gehoop nie, kan aandele (waarin baie pensioengeld belê is) weer waarde inboet en die reële waarde van huishoudings se bates kan slae kry.

Meer oor:  Kredietkaart  |  Skuld  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Kredietrekord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.