Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Skuldberading se skadukant

As jy eers ín skuldhersiening is, is dit baie moeiliker om daar uit te kom as wat mense besef, het ’n volbank van die hooggeregshof in Johannesburg nou laat blyk.

As jy eers ín skuldhersiening is, is dit baie moeiliker om daar uit te kom as wat mense besef.

Twee verbruikers, Hermanus Adriaan Janse van Vuuren en Fabian Matthias Nel, het ’n bloutjie geloop toe Debt Rescue hulle gehelp het om onder skuldhersiening geplaas te word, maar nie om daar uit te kom toe hulle wou nie.

Albei skuldenaars het gesê hul geldelike posisie het tot so ’n mate verbeter dat hulle weer hul normale paaiemente kan betaal, maar die skuldberader het geweier om hulle van skuld­hersiening te verlos.

Dié mans het hulle weer vasgeloop toe regter Roland Sutherland namens die volbank bevind het die hof kan ook niks aan hul heil doen nie.

Met dié uitspraak is teenstrydige opinies bygelê en daar is nou eenstemmigheid in die hooggeregshowe van die Wes-Kaap, Gauteng, Limpopo en KwaZulu-Natal dat howe nie verbruikers kan help om los te kom uit skuldhersiening wat hulle self gekies het nie.

Die kans dat ’n hooggeregshof in een van die ander afdelings van die land anders gaan beslis, is uiters skraal.

Die Nasionale Kredietwet het ’n proses van skuldhersiening geskep om verbruikers te help wat nie hul terugbetalings kan bybring nie.

Die doel is om ’n beter alternatief te skep vir sekwestrasies: Die verbruiker kry ’n blaaskans deur nie sy huis of kar te verloor nie, en terselfdertyd verbeter dit die kans van skuldeisers om hul geld terug te kry.

Voordele van skuldhersiening
Jou skuldeisers mag jou nie dagvaar nie. Premies word gewoonlik minder en meer bekostigbaar. Wanneer jy suksesvol skuldhersiening ondergaan het, word jou kredietgeskiedenis byna dadelik herstel. Sekwestrasie, daarenteen, kan jou kredietwaardigheid vir baie langer as ’n dekade ruïneer.

’n Skuldberader ondersoek die aansoeker se geldsake. As hy of sy meen die skuldenaar het inderdaad te veel skuld, word die saak na die landdroshof geneem vir ’n bevel om die paaiemente te herstruktureer. Skuldenaars betaal dan net die premies wat hulle kan bekostig, al neem dit langer om die skuld terug te betaal.

Sutherland beklemtoon die aanloklike wortel van skuldhersiening: “Die voordele van immuniteit teen skuldeise tree dadelik in werking.”

Die groot lat van skuldhersiening is egter dat die verbruiker van daardie oomblik af nie ’n enkele sent verder mag leen nie. Dit beteken ook hy of sy kan byvoorbeeld ook nie eens ’n selfoonrekening oopmaak nie . . .

En dié situasie duur voort totdat álle korttermynskuld – omtrent alles behalwe ’n huisverband en motorfinansiering is uitdruklik ingesluit – tot die laaste sent afbetaal is.

In Van Vuuren se geval het hy eintlik net 18 maande nodig gehad om weer op sy voete te kom. Nel wou al ná net meer as ’n jaar uit skuldhersiening kom en het weer vrywillig sy normale paaiemente betaal, maar die skuldhersieningsvlaggie het op sy kredietgeskiedenis gebly.

Nie een van hulle het al luidens die uitspraak álle korttermynskuld gedelg nie, maar hulle sê hulle het nie meer skuldhersiening nodig nie.

Nadele van skuldhersiening

Daar is verskeie en groot koste hieraan verbonde. Jy word geldelik erg beperk. Nie net mag jy geen skuld aangaan nie, maar die skuldberader en hof sal ook bepaal hoeveel geld jy nodig het om beskeie te leef. Die res sal aan skuldterugbetalings gaan.

Sutherland sê in sy uitspraak die wet is baie duidelik dat dit nie moontlik is nie.

“Die beleidsvraag oor of verbruikers in dié posisie toegelaat behoort te word om uit skuldhersiening te tree, is nie een wat ons onder dié omstandighede moet antwoord nie. Dit kan dalk ’n goeie idee wees of nie.”

Maar vir eers, bevind Sutherland, kan geen landdroshof of selfs hooggeregshof ’n skuldberader dwing om jou “vry te spreek” as daar ’n hofbevel was vir die herstrukturering van skuld nie.

Indien daar nog nie ’n hofbevel was nie, soos in Nel se geval, kan hy na die landdroshof gaan en verduidelik waarom dit nie meer gepas sal wees vir hom om onder skuldhersiening te wees nie.

Maar Janse van Vuuren se turf sit. Hy het net een uitweg, en dit is om eers al sy korttermynskuld te vereffen en dan ingevolge art. 71 van die Nasionale Kredietwet sy skuldberader te vra om ’n klaringsertifikaat uit te reik.

Indien sy skuldberader onredelik weier, mag hy die Nasionale Verbruikerstribunaal nader om sy skuldberader te dwing.

Dit is die enigste gepaste forum waar verbruikers onder skuldberading hul lot kan gaan bekla.

Wat is die alternatiewe?

Regter Roland Sutherland verwys in sy uitspraak na die “tussen-in”-gevalle: mense wat nie die paaiemente kan bybring nie, maar eintlik ook nie in skuldhersiening hoort nie.

In daardie gevalle is regstreekse onderhandelinge met jou krediteure ’n opsie.

Dit kan veral ’n uitkoms bied wanneer een of twee groot paaiemente jou begroting wurg. Met kredietkaarte, byvoorbeeld, is banke dikwels bereid om die skuld te herstruktureer tot die begrotingsfasiliteit sodat die paaiemente minder word.

Regstreekse onderhandeling is egter net ’n opsie indien jy regtig die nodige dissipline het om op te hou leen en binne jou begroting te bestee.

’n Onafhanklike finansiële beplanner kan jou bystaan met advies en ’n objektiewe mening oor hoe jy uit die skuldgat kan kom. Hoe langer jy wag, hoe dieper raak die gat.

Die koste van skuldhersiening behels:

Maand 1:

  • ’n Skuldhersieningstarief van R10 350 of jou nuwe maandelikse paaiement vir krediteure, ook bekend as die “maandelikse rehabilitasiebedrag”;
  • ’n Aansoektarief van R57,50;
  • Admin.-geld van R345.

Maand 2:

  • Maandelikse rehabilitasiebedrag (nuwe paaiement);
  • ’n Regskoste-tarief gelykstaande aan jou maandelikse rehabilitasiebedrag;
  • Admin.-geld van R1 725 om ’n ondersoek te doen na roekelose krediet. Indien ’n krediteur roekeloos vir jou krediet toegestaan het, kan dit onder sekere omstandighede aangeveg word.

Maand 3 tot die einde:

  • Maandelikse rehabilitasiebedrag.
Die rehabilitasiebedrag behels:
 Geld wat onder jou krediteure verdeel word, ’n maandelikse “nasorgtarief” van 5,75% van jou paaiement aan jou skuldberader, en ’n betalingsverdelingstarief van R15 per rekening wat afbetaal word. Die skuldenaar betaal die rehabilitasiebedrag maandeliks in een betaling wat dan verdeel word. 

Meer oor:  Skuld  |  Likwidasie  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.