Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
‘Skuldwet kan jóú sak ook ruk’

Die land se banke sê krediet gaan nou vir almal duurder word nadat pres. Cyril Ramaphosa pas die hoogs omstrede Wysigingswet op die Nasionale Kredietwet onderteken het.

Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika. Foto: Kopano Tlape

Die wet maak onder meer voorsiening om sekere gebruikers se skuld af te skryf en banke of kleinhandelaars sal die verliese moet dra. Kritici van die wet sê dit kom neer op die onteiening van banke en kleinhandelaars se bates – die geaffekteerde skuldboeke – omdat hulle gedwing word om dit weg te gee.

Die voorstel vir die wet het in Maart 2016 gekom toe die ANC voorgestel het dat daar ’n soort skuldvrystellingsprogram vir armes ingestel moet word.

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) het Vrydag mond uitgespoel omdat pres. Ramaphosa die wet onderteken het sonder om hulle te raadpleeg, soos hulle versoek het.

Basa sê die wet gaan verskeie onbedoelde gevolge hê soos dat mense met ’n lae inkomste baie moeiliker krediet gaan kry en dat die koste van kredietverlening vir almal duurder gaan word.

Die wet maak voorsiening vir “skuldingryping”, wat ’n skoon kredietgeskiedenis en ’n nuwe blaadjie vir skuldenaars kan beteken, in gevalle waar:

  • Hulle in die voorafgaande ses maande minder as R7 500 per maand verdien het of werkloos is;
  • Dit ’n ongesekureerde lening of kredietooreenkoms is soos ’n klere- of kredietkaartrekening, maar nie ’n motorlening of huislening nie;
  • Die skuld minder as R50 000 is;
  • Die individue te veel skuld het of nie hul skuld kan betaal nie, “hetsy weens ’n verandering in persoonlike omstandighede of ander omstandighede”;
  • Die individu se boedel nie reeds gesekwestreer is of onder administrasie is nie; en
  • Die individue probeer het om die skuld te herstruktureer en dit af te betaal. As ’n verpligte afbetalingsreëling onsuksesvol is, kan die Krediettribunaal ná 24 maande beslis dat die skuld gedeeltelik of in geheel afgeskryf word.

Die oogmerk met die wet is om arm mense met baie skuld, wat nie aanloklike besigheid vir skuldberaders bied nie, te help.

Business Day berig die nasionale tesourie se beraming in Augustus verlede jaar het aangedui tot R20 miljard se skuld val tans in dié kategorie.

Basa en verskeie kleinhandelaars het deurentyd beswaar gemaak teen die wet deur te sê hulle het reeds maatreëls ingestel om dié individue by te staan en dit sal die verkeerde boodskap uitstuur as hul skuld net volgens wet afgeskryf moet word.

Cas Coovadia, Basa se hoof, sê die bedryf het in 2017 ingevolge bestaande wetgewing sowat R30 miljard se skuld geskrap.

Wetgewing maak reeds voorsiening dat kredietverskaffers in sommige omstandighede skuld moet afskryf, soos as hulle roekeloos was om die skuld in die eerste plek toe te staan.

“Banke het ook vrywillig rente en gelde verbeur wat R4 miljard beloop het om individue wat onder skuld gebuk gaan, te help.”

Coovadia sê Basa het die president versoek om nié die wetgewing te bekragtig nie, maar hy het nooit daarop gereageer nie.

“Banke kan eenvoudig nie geld uitleen as hulle nie seker is dat dit terugbetaal kan word nie. Deur voorsiening te maak vir die arbitrêre afskryf van skuld, sal die wet banke in wese verhoed om krediet verantwoordelik toe te staan – veral aan lae-inkomstehuishoudings wat dit die meeste nodig het.”

In September 2018 het die konsultantegroep Eighty-20 aan parlementslede gesê daar is sowat 9,5 miljoen mense in die land wat minder as R7 500 per maand verdien en ongesekureerde skuld van minder as R50 000 aangegaan het. Dit dui daarop dat sowat 9,2 miljoen mense in die land reeds vir skuldingryping in aanmerking kan kom.

Volgens Dean Macpherson, DA-woordvoerder oor handel en nywerheid, sal dit sowat R100 miljoen kos om die liggame te finansier om dié soort ingrypings te fasiliteer.

Macpherson sê een van die flagrante tekortkominge in die beraadslaging van die konsepwet is dat die komitee nie ’n idee het van die maatskaplik-ekonomiese impak wat die wet op die staat en die ekonomie sal hê nie.

Michael Lawrence, uitvoerende direkteur van die sambreelliggaam van klerekleinhandelaars (NCRFSA), het aan Rapport gesê kleinhandelaars het reeds moontlike grondwetlike probleme uitgelig. “Ons het dit ook onder die president se aandag gebring en gehoop die geleentheid sou hom voordoen om dit met die president te bespreek.”

Lawrence wou nie uitwei oor of die federasie regstappe oorweeg nie.

“Dit is enigiemand se reg om regstappe te doen, maar dis nie iets wat ’n mens uit die staanspoor wil doen of as ’n dreigement gebruik nie.”

Meer oor:  Nasionale Kredietreguleerder  |  Krediet  |  Skuld  |  Kredietwet  |  Armoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2101,05 (1523)
  • Top 40 51801,53 (65598)
  • All Share 57853,9 (73012)
  • Resource 10 44319,86 (18680)
  • Financial and Industrial 30 79247,89 (123696)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.