Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Só lyk jou kans om groot in die lotto te wen
lotto
Die kans dat jy die lotto gaan wen, is baie skraal.

Kort-kort hoor ’n mens van iemand wie se Lotto-kaartjie hom oornag ’n miljoenêr gemaak het. Maar die kans dat jy die gelukkige wenner sal wees, is bitter skraal.

Tog probeer miljoene mense elke dag hul geluk met allerlei dobbelspeletjies. Gaan kyk maar hoe lyk die casino’s se dobbelvloere op enige weeksaand, of loer hoeveel mense Saterdae by jou plaaslike Spar ’n Lotto-kaartjie saam met hul braaivleis koop. Op enige gegewe oomblik is daar iewers ’n tannie, ’n sakeman of ’n jong mens besig om ’n paar rand uit hul pensioen, salaris of sakgeld te waag. Want, so glo almal, volgende keer wen hulle.

Dis heerlik om te droom, maar as jy weet wat jou kanse régtig is om die groot prys by die Lotto (en ander lotery-speletjies) te wen, sal jy dalk twee keer dink.

Die gewone Lotto se speletjie werk so: Jy kies ses syfers uit 52 moontlike syfers en merk hulle uit op ’n weddenskap-vormpie. Jy dien die vorm in by ’n geregistreerde winkel/vulstasie en kry dan ’n bewys met jou nommers terug.

’n Rekenaarprogram genaamd die Random Number Generator (RNG) word gebruik om die wennommers te kies. As die RNG nie werk nie, word ’n fisieke masjien en balletjies gebruik.

Volgens die Nasionale Lotery se webtuiste word die masjiene en balletjies gereeld deur kundiges van die Universiteit van die Witwatersrand geïnspekteer.

Jou kanse om al ses nommers reg te raai en dus die boerpot te wen, is net 1:20 358 520.

Lotto Powerball werk so: Deelnemers mag twee keer per week (op Dinsdae en Vrydae) vyf syfers uit 45 syfers kies en een syfer uit 20 syfers. Die gekose syfers word dan by die algehele trekking ingereken. Jou kanse om al vyf syfers plus die Powerball (die een uit 20) reg te raai, is 1:24 435 180 (jy sal dan 54,4% van die boerpot wen). Om net die vyf syfers reg te raai, is jou kanse 1:1 286 062 (dan wen jy 9,7% van die boerpot). Sou jy net die Powerball kon reg raai, wen jy R10.

Lotto Sportstake 8

Hier moet jy die rustydtellings van agt sokkerwedstryde korrek voorspel. Jou kanse om al 16 helftes reg te voorspel, is teoreties 1:43 046 721.

Lotto Sportstake 13

Hier moet jy die uitslae van 13 sokkerwedstryde korrek voorspel. Jou kanse om al 13 reg te hê, is teoreties 1:1 594 323.

Die Daily Lotto

Deelnemers kan elke dag vyf uit 36 syfers kies. Jou kans om al vyf reg te raai, is 1: 376 992 (jy sal dan 35,6% van die boerpot wen). Jou kans om vier syfers reg te raai en 8,2% van die boerpot te wen, is 1:2 432.

EAZiWIN Online het ’n verskeidenheid aanlyn speletjies. Jy kan op die plek iets wen en hoef nie te wag vir ’n gelukkige trekking nie.

Hier is van die speletjies se pryse en jou kanse om iets te wen:

  • Tic Tac Toe kos R5 of R10 om te speel en jou kanse om ’n prys te wen, is 1:3,54.
  • Treasure Hunt kos R3, R5 of R10 om te speel en jou kanse om te wen, is 1:3,05.
  • Lucky Jersey kos R5 of R10 om te speel en jy het ’n 1:3,16 kans om te wen.
  • Candy Cash kos R3 of R5 om te speel en jy het ’n 1:3,05 kans om te wen.
  • Soccer League kos R3 of R5 om te speel en jy het ’n 1:3,77 kans om te wen.

Volgens thebalanceeveryday.com, wat eksklusief skryf oor kompetisies waar geld of duur goedere te wen is, is jou kanse om in die casino te wen, beter as jy blackjack en roulette speel – ’n kans van amper 50% om iets te wen.

Met die kaartspeletjie Blackjack speel jy teen die uitgeër, en dit verg ’n mate van vaardigheid. Almal probeer om hul kaarte se waarde so na as moontlik aan 21 te kry. Maar sodra die somtotaal van jou kaartjie meer as 21 raak, verloor jy alles. Meer as een mens speel op ’n slag, maar almal probeer die uitgeër klop. Volgens The Balance Everyday is jou kans 49% om iets te wen.

Roulette is ’n wiel met die syfers 1 tot 36 daarop in rooi en swart en die syfers 0 en 00 in groen. Die uitgeër laat val ’n balletjie in die draaiende wiel en die balletjie eindig op ’n syfer. Jy wed basies of die balletjie op rooi of swart sal val (amper ’n 50-50-kans om iets te wen weens die twee groen syfers) of deur op ’n spesifieke syfer te wed of op ’n reeks syfers (bv. 1-12). As jy die syfer of reeks syfers reg raai, sal jou uitbetaling hoër wees, maar jou kanse om iets te wen veel laer.

Casino-speletjies met die slegste kanse om te wen, is die fortuinwielen die slotmasjiene. Die fortuinwiel het segmente met verskillende geldwaardes en een speelman (joker) daarop gemerk. Jy plaas ’n weddenskap en die wiel draai. Waar die wiel stop, is wat jy sal wen. Die speelman het ’n 36 (x jou weddenskap)-uitbetaling, maar die huis het ’n 24%-voordeel, volgens Forbes.com.

Dus is jou kanse maar iewers tussen 26% en 39% om iets te wen.

Alhoewel slotmasjiene se kanse verskil afhangend van hoe die spesifieke speletjie opgestel is, is jou kanse steeds maar so 1:49 836 032 om die boerpot te wen. Betoclock.com beaam dié kanse. Gewoonlik is jou kanse beter om iets te wen by die masjiene waar jy meer moet bestee om die hefboom te trek en die rolle nommers/prente te laat tol.

Meer oor:  Geld  |  Lotto  |  Dobbelbedryf  |  Dobbel  |  Rykdom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.