SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Geldsake
Só maak SAID as jy oorsee geld kry

Baie Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, is net vaagweg bewus van die onlangse veranderinge aan belastingwetgewing wat hulle raak. Reabetswe Moloi, ’n prokureur van Tax Consulting South Africa, verduidelik wat verander het en hoe dit Suid-Afrikanersin die buiteland raak.

Baie Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, is net vaagweg bewus van die onlangse veranderinge aan belastingwetgewing wat hulle raak.

’n Onlangse wysiging aan art. 10(1)(o)(ii) van die Inkomstebelastingwet wat die kwytskelding van belasting ophef vir Suid-Afrikaners wat oorsee werk, het gelei tot grootskaalse paniek en kommer.

Ingevolge die wysiging sal Suid-Afrikaanse belastingpligtiges wat in die buiteland werk, van 1 Maart 2020 af belasting betaal op ’n buitelandse inkomste van meer as R1 miljoen.

Voorheen was hulle op sekere voorwaardes hiervan kwytgeskeld. Kwytskelding van art. 10(1)(o)(ii) is vroeër deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ingestel om te verhoed dat mense se inkomste onderhewig is aan dubbele belasting tussen Suid-Afrika en die land waar hulle werk.

Sekere lande hef egter min of geen belasting op verdienste nie en die SAID het bevind dít is strydig met die doel waarvoor die kwytskelding ingestel is.

Om dus te verseker dat alle Suid-Afrikaanse belastingpligtiges belas word op dít wat hulle in hul werk verdien, het die SAID bepaal die kwytskelding sal voortaan net van toepassing wees op die eerste R1 miljoen van die individu se verdienste.

Wat sê die wet nou en wat gebeur ná 1 Maart 2020?

Ingevolge art. 10(1)(o)(ii), voor die wysiging, is enige Suid-Afrikaner wat vergoeding verdien in die vorm van ’n salaris, verlofbetaling, oortydbetaling, bonusse, toelaes, kommissie of gelde vir dienste gelewer buite Suid-Afrika, geregtig op kwytskelding van normale belasting op sulke verdienste.

Om daarvoor te kwalifiseer, moet aan die volgende vereistes voldoen word:

  • Daar moet ’n werkgewer-werknemer-verhouding wees;
  • Vergoeding moet ontvang word vir die dienste gelewer;
  • Die persoon moet gedurende enige tydperk van 12 maande vir altesame meer as 183 dae buite Suid-Afrika wees; en
  • Die persoon moet buite die landsgrense wees vir ’n aaneenlopende tydperk van 60 dae gedurende daardie tydperk van 12 maande.

Van 1 Maart 2020 af sal net die eerste R1 miljoen van dit wat Suid-Afrikaanse belastingpligtiges in die buiteland verdien, van normale belasting kwytgeskeld wees.

Vergoeding bo die R1 miljoen-drempel sal onderhewig wees aan normale belasting en volgens die SAID se bestaande statutêre belastingtabelle belas word.

Die vereistes om vir die kwytskelding tot R1 miljoen te kwalifiseer, bly onveranderd.

Die impak van die wetswysiging

Die belastingplig wat dié wysiging op Suid-Afrikaanse belastingpligtiges plaas op dít wat hulle in die buiteland verdien, het daartoe gelei dat al hoe meer Suid-Afrikaners wat oorsee werk, maniere soek om hul belastingpligtigheid in Suid-Afrika ingevolge die wet te minimali­seer of dalk heeltemal daarvan ontslae te raak.

Van die maniere wat gebruik word om dit te doen, is finansiële emigrasie, dubbelbelastingooreenkomste of belastingbeplanning.

  • Finansiële emigrasie: Dit verwys na die proses om formeel jou status as geregistreerde Suid-Afrikaanse belastingpligtige deur ’n proses by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Reserwebank prys te gee.

Wanneer jy nie meer ’n Suid-Afrikaanse belastingbetaler is nie, is jy nie meer verplig om jou buitelandse inkomste te verklaar nie en sal jy net belasting moet betaal op die inkomste wat jy van ’n Suid-Afrikaanse bron verdien.

Om vir finansiële emigrasie te kwalifiseer, moet ’n mens ’n bedoeling hê om permanent buite Suid-Afrika te bly.

Vir mense wat reeds ’n paar jaar oorsee woon, of dié wat nou die land verlaat en nie beplan om terug te keer nie, is finansiële emigrasie ideaal.

Hulle kan hul status as nie-Suid-Afrikaanse belastingbetalers formaliseer en so verhoed dat die SAID inkomstebelasting op hul buitelandse verdienste hef.

  • Dubbelbelastingooreenkoms: Indien daar enigsins ’n moontlikheid is dat jy ná ’n paar jaar in die buiteland na Suid-Afrika kan terugkeer, is die beste opsie om die dubbelbelastingooreenkoms tussen Suid-Afrika en die land waar jy werk, te gebruik.

Dit verwys na internasionale ooreenkomste deur twee lande vir die doel om dubbele belasting op sekere inkomste van ’n belastingbetaler in dieselfde tydperk te verhoed.

Daar is ’n algemene wanopvatting dat, bloot omdat twee lande so ’n ooreenkoms het, dit outomaties van toepassing is. Dit is onwaar.

Belastingbetalers wat die voordeel hiervan wil hê, moet aansoek doen, waarna die valbyl-toets op die individu se omstandighede toegepas sal word. Dit is ’n toets wat verskeie faktore in ag neem en waar enige van die faktore onweerlegbaar in die guns van een van die lande is, word die toets gestaak en die persoon sal beskou word as ’n belastingburger van daardie land.

Die gebruik van die dubbelbelastingooreenkoms word dikwels oorweeg deur mense wat vir ’n kort tyd buite Suid-Afrika sal wees, maar wat gewone belastingpligtiges in Suid-Afrika bly.

Die dubbelbelastingooreenkoms sal geskik wees vir iemand wat in diens geneem is om vir 3 tot 5 jaar buite die landsgrense te werk, en dus saam met sy gade en gesin na ’n ander land sal verhuis vir daardie tydperk. Die plan is om daarna na Suid-Afrika terug te keer.

  • Belastingbeplanning: Individue wat nie aan die vereistes vir finansiële emigrasie voldoen nie of nie die dubbelbelastingooreenkoms kan gebruik nie omdat hulle steeds Suid-Afrikaanse belastingbetalers is, kan belastingbeplanning oorweeg.

Die doel met belastingbeplanning is om individue te help om die minimum belasting te betaal op enige inkomste bo die R1 miljoen-drempel.

Dit behels om buitelandse belastingkrediete te eis en voordeel te trek uit toelaatbare kwytskeldings en aftrekkings.

Oor die publikasie
Die Lexis Nexis-publikasie Expatriate Tax - South African Citizens Working Abroad and Foreigners in South Africa, onder redaksie van Tax Consulting South Africa, gee inligting oor die belastingoorwegings tot beskikking van Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk of internasionale belange het, en buitelandse wat in Suid-Afrika woon en werk.  Tax Consulting South Africa is een van die grootste onafhanklike belastingpraktyke in die land met meer as 90 professionele kenners – meestal toegelate prokureurs, geoktrooieerde rekenmeesters, belastingspesialiste en kenners van internasionale mobiliteit.  Die handboek is gemik op die  breë publiek – van belastingspesialiste tot die leek wat sy belastingverpligtinge wil verstaan. 

Die SAID wil hê wat hom toekom . . .

Die nuwe benadering het die teenoorgestelde uitwerking as wat die SAID beoog het.

Al hoe meer Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, wil permanent of tydelik bande met die SAID verbreek, of andersins op wettige maniere hul belastingplig soveel moontlik verminder deur behoorlike belastingbeplanning.

Die situasie waarin Suid-Afrikaners wat oorsee werk, hulle bevind, het ook gelei tot ’n publikasie soos die jongste Expatriate Tax – South African Citizens Working Abroad and Foreigners in South Africa, wat Suid-Afrikaners in die buiteland inlig oor die implikasies van hul migrasie sodat hulle ingeligte keuses oor hul belastings kan maak.

Die Lexis Nexis-publikasieExpatriate Tax - South African Citizens Working Abroad and Foreigners in South Africa, onder redaksie van Tax Consulting South Africa, gee inligting oor die belastingoorwegings tot beskikking van Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk of internasionale belange het, en buitelandse wat in Suid-Afrika woon en werk.

Tax Consulting South Africa is een van die grootste onafhanklike belastingpraktyke in die land met meer as 90 professionele kenners – meestal toegelate prokureurs, geoktrooieerde rekenmeesters, belastingspesialiste en kenners van internasionale mobiliteit.

Die handboek is gemik op die breë publiek – van belastingspesialiste tot die leek wat sy belastingverpligtinge wil verstaan.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Inkomstediens  |  Said  |  Jan Taks  |  Belasting  |  Inkomstediens  |  Inkomste  |  Geldsake  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.