Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Só besteel kaartboewe Suid-Afrikaners rot en kaal

Dames en here, klou vas aan jul beursies: Die diewe is weer besig om wild en wakker te plunder.

Wees versigtig as jy geld by ’n kitsbank onttrek. Maak veral seker niemand kan jou geheime PIN afloer nie.Foto: Unsplash

Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) het Woensdag sy jongste bevindinge oor bankkaartbedrog bekend gemaak.

Daarvolgens het Suid-Afrikaners in 2018 meer as R870 miljoen aan misdadigers afgestaan, 18% meer as in 2017.

Die totale verliese weens kredietkaartbedrog beloop bykans R484 miljoen. (Sien ook grafika hiernaas.)

Kalyani Pillay, uitvoerende hoof van Sabric, sê dit is kommerwekkend dat misdadigers steeds nuwe maniere vind om kliënte se geld te steel.

Sabric sê daar was veral ’n skerp toename in gevalle waar boosdoeners ’n kliënt bel en voorgee hy of sy skakel van die bank af.

Die boewe oorreed dan die kliënt om sensitiewe inligting, waaronder aanmeldbesonderhede vir internetbankdienste bekend te maak.

“Jou bank sal jou nooit bel vir sulke inligting nie,” sê Pillay.

“As jy so oproep ontvang, druk onmiddellik die foon dood.”

Wenke
  • Moet nooit enige bankbesonderhede in ’n e-pos of per telefoon bekend maak nie.
  • Moenie op skakels klik in e-posse waarvan jy nie die oorsprong ken nie.
  • Tik altyd die webadres van jou bank self in eerder as om op ’n skakel daarheen te klik.
  • As jy skielik ’n tydelike PIN per SMS ontvang, maar jy is nie besig met banksake nie, kontak jou bank onmiddellik.
  • Wysig gereeld jou wagwoord vir jou internetbankdienste.

Al hoe meer geld aanlyn gesteel

Digitale misdaad in die bankwese skiet ook steeds die hoogte in. Volgens Sabric was daar 23 466 gevalle van digitale bankbedrog in 2018, ’n styging van 75% vergeleke met die vorige jaar. Die randwaarde waarvan is 4,9% hoër. Digitale bedrog sluit in apps, internetbankdienste en mobiele dienste wat met USSD-kodes werk.

Daar was veral ’n skerp toename in gevalle van bedrog met banke se apps, het Sabric bevind.

Dit is hoofsaaklik omdat al meer kliënte van hierdie toeganklike metode gebruik maak om banksake af te handel.

Boosdoeners kloon kliënte se selfone deur middel van ’n SIM-kaartomruiling en bekom so belangrike kodes waaronder die tydelike PIN wat banke stuur voordat transaksies in die app voltooi kan word.

LEES OOK: Bedrog met identiteit: Dis wat jy moet weet

Ook internetbankdienste loop deur met ’n toename van bykans 38% in aangemelde gevalle van bedrog.

Die bedryf het in 2018 meer as R129 miljoen weens bedrog met internetbankdienste verloor, wel ’n skerp afname vergelyke met die bedrag wat in 2017 verloor is, maar steeds rede tot kommer, sê Sabric.

Verreweg die meeste van dié tipe misdaad is gepleeg nadat kliënte onverskillig op skakels in e-posse klik, wat hulle na ’n aanmeldblad herlei wat net soos dié van hul bank lyk, maar eintlik deur ’n dief opgestel is.

Só word aanmeldbesonderhede maklik deur die diewe bekom.

bankbedrog

Waar bestee die diewe die geld?

Interessant genoeg vind die meeste bedrog met Suid-Afrikaners se kredietkaarte in die buiteland plaas. Meer as 61% van gevalle is buite die land se grense, meestal in lande soos die VSA, Brittanje, Nederland, Luxemburg en Australië. China, Spanje en Ierland huisves ook ’n hele paar diewe van Suid-Afrikaners se geld.

Volgens Sabric vind bykans 80% van misdade met Suid-Afrikaners se kredietkaarte plaas sonder dat die boef enigsins die kaart besigtig het.

Dit beteken diewe slaag daarin om kliënte se mees sensitiewe bankinligting op ander wyses te bekom.

    Meer oor:  Sabric  |  Kuberkrakers  |  Bedrog  |  Banke  |  Kubermisdaad  |  Bankbedryf
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Sakegesprek

    Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.