Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Só styg kospryse vir armste gesinne

Melk, eiers, piesangs, wortels en rooivleis is reeds vir miljoene Suid-Afrikaners produkte wat ongereeld of nooit voorgesit word nie – en in 2021 gaan selfs minder mense dit kan bekostig.

Mieliemeel, rys en hoenderstukke is onder die produkte wat arm gesinne eerste sal koop as die geld vir kos min is.

Dit is juis dié “luukses” wat die grootste voedingswaarde het, wat beteken miljoen kinders se groei word gekniehalter deur ’n tekort aan voedsame kos – en te min kos in die algemeen.

Volgens die indeks van huishoudelike bekostigbaarheid wat die welsynsorganisasie Pietermaritzburg Economic Justice & Dignity Group (PMBEJD) meet, het basiese kossoorte in Februarie effens goedkoper geword as in Januarie, maar dis grootliks omdat winkels in Februarie voete met spesiale aanbiedinge probeer lok.

Genoeg basiese, voedsame kos om sewe mense ’n maand lank vol te hou, kos nou R4 001,17, R50,03 of 1,2% goedkoper as in Januarie. Dis egter R144,84 of 3,8% duurder as ses maande gelede.

Die mandjie kernkosprodukte het egter met R114,93 oftewel 5,6% tot R2 065,71 gestyg.

Mervyn Abrahams, programdirekteur van die PMBEJD, sê skerp stygings in die koste van vervoer, krag en kos word vanjaar verwag, terwyl lone en toelaes nie ewe skerp styg nie.

Die indeks meet die prys van kos en skoonmaakmiddels soos waspoeier en seep in arm dele van Johannesburg, Durban, Kaapstad, Pietermaritzburg en Springbok. Vroue wat die inkopies doen vir huishoudings van tot sewe mense – grootouers, kinders en uitgebreide familielede ingesluit – word in die peiling gebruik.

Die PMBEJD doen nou al jare lank ’n gesaghebbende indeks onder arm mense in die Pietermaritzburg-omgewing, maar het dit in September landwyd uitgebrei.

Kernkosprodukte is die kos wat vroue eerste koop en verteenwoordig werklik die mees basiese produkte wat hulle reken nodig is om hul gesinslede se mae vol te kry. Groente, eiers, suiwelprodukte en rooivleis is onder die produkte wat eerste uit die trollie gegooi word as geld vir kos te min is.

k

Die PMBEJD reken dat die opeenvolgende stygings in brandstof vanjaar alle goedere en dienste vir arm mense duurder sal maak.

Taxigeld gaan na verwagting met tussen 7% en 25% styg. Arm huishoudings moet taxigeld prioritiseer om by die werk te kan kom of te kan werk soek.

Daarby het Eskom pas goedkeuring gekry om sy tariewe met 15,63% duurder te maak. Die PMBEJD raam dat lae-inkomste-huishoudings minstens R101,20 méér vir krag nodig sal hê.

k

Kospryse, wat tans met gemiddeld sowat 5,4% jaar op jaar duurder word, kan met tot 10% duurder word weens die duurder brandstof en ander faktore wat kospryse opjaag.

Toelaes styg te min

Baie arm huishoudings maak op een salaris, dikwels in die omgewing van die nasionale minimum loon, en staatstoelaes vir bejaardes of kinders staat – en albei dié bronne van inkomste hou nie tred met kosprysstygings nie.

Abrahams meen die lae jaarlikse verhogings (van so min as 1%) in staatstoelaes wat Tito Mboweni, minister van finansies, verlede week aangekondig het, is ’n “belediging” vir armes en gaan tot die groeiende krisis van honger bydra.

Nagenoeg 3,67 miljoen pensioentrekkers ontvang die staat se ouderdomstoelae, en dit word in baie huishoudings gebruik om kos te koop vir kleinkinders.

LEES OOK: Skok oor toelaes vir arm bejaardes, pleegouers

Die PMBEJD meen ook die styging van 93c per uur waarmee die nasionale minimum loon op 1 Maart gestyg het – tot R21,69 gaan weggevreet word deur ander prysstygings.

“Miljoene Suid-Afrikaanse werkers gaan vanjaar armer wees as verlede jaar.”

Nagenoeg 30% van seuns en 25% van meisies in Suid-Afrika is klein vir hul ouderdom weens honger.

“Die regering sien nie die groter prentjie dat honger kinders stadig vorder nie, en as hulle oorleef om volwassenes in die werkplek te word, sal ons toekomstige arbeidsmag sukkel om kritiese denkers, produktief en vaardig te word.

“Deur nie te verseker dat ma’s hul kinders behoorlik kan voed nie, bring dit mee dat Suid-Afrika se volgende generasie volwassenes en werkers hul ouers tot in die intergenerasie-armoedestrik volg. Dié strik sal Suid-Afrika se toekomstige ekonomiese groei kniehalter.”

Die PMBEJD gebruik die syfers om te velde te trek teen Mboweni se begroting – wat die strewe na skuldkonsolidasie insluit wat daarin vervat is.

“Suid-Afrika se huidige begrotingstekort is 80,3%. Die gemiddelde begrotingstekort wêreldwyd is 100% of meer. En tog bestee ons nie en ons leen nie (genoeg nie) in die ergste ekonomiese krisis en gesondheidspandemie nóg. Dis verregaande dat ons selfs mik na ’n begrotingsoorskot teen 2025. Dit gaan waarskynlik ’n paar ryk Suid-Afrikaners en maatskappye bevoordeel, maar nie die meerderheid Suid-Afrikaners nie. Armoede sal verdiep en dit sal ons langer neem om uit die armoedestrik te klim waarheen huidige beleidsbesluite ons neem.

“Terwyl die meeste lande in die wêreld hul pad uit die krisis belê of bestee omdat hulle weet as hulle dit nie doen nie, sal hul ekonomie in duie stort, kies Suid-Afrika om dit nie te doen nie. Suid-Afrika pas hardkoppig besuinigingsmaatreëls toe wat enige ekonomiese herstel waarskynlik sal vertraag.”

(Mboweni het spesifiek gesê hy beskou die begroting nié as ’n besuinigingsbegroting nie.)

k

Volgens Statistieke Suid-Afrika is die kos-armoedegrens R585 per maand. Dis die minimum wat nodig is om te verseker dat iemand genoeg kilojoules kan inneem om nie honger te wees nie. Die armoedegrens as ander uitgawes ingesluit word, is ’n band van tussen R840 en R1 268 per maand.

13,8 miljoen oftewel 25,2% van Suid-Afrikaners leef onder die kos-armoedegrens (R585 per maand), en 30,4 miljoen (55,5%) leef onder die boonste armoedegrens (R1 268 per maand).

Meer oor:  Kospryse  |  Hongersnood  |  Kosprysinflasie  |  Nasionale Minimum Loon  |  Toelaes  |  Armoede  |  Minimum Loon  |  Honger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.