Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Spaar: Jy kan SA ’n ‘wonderwerk’ help maak

Suid-Afrikaners moet hul bestedingsgewoontes aanpas tot hul eie voordeel en dié van die land. Maar hulle gaan hulp van die staat en private sektor nodig hê, al is dit net deur wetgewing wat keer dat hulle hul aftreegeld onttrek wanneer hulle van werk verander, sê Investec.

  

Jou spaarvarkie se gesondheid is belangrik vir die ekonomie. Foto: AP

In lande soos Suid-Korea, Chili en Singapoer is die spaarkoers van huishoudings tussen 15% en 20% - teenoor Suid-Afrika se -0,1%. 

Huishoudelike spaarkoers verwys na die persentasie geld wat huishoudings uit hul besteebare inkomste spaar en belê nadat hul besteding en hul skuld afgetrek is. ’n Negatiewe spaarkoers beteken dus huishoudings maak skuld, eerder as wat hulle ryker word deur te spaar en te belê.

“Elke ryk nasie was in die een of ander stadium arm,” sê dr. Adrian Saville, professor in ekonomie aan die Gordon Institute of Business Science (Gibs) aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die samesteller van Investec en Gibs se Spaarindeks.

“Net so is nie een van die ‘ekonomiese wonderwerke’, wat ook as ‘spaarsterre’ bekend staan, met spaarlepeltjies in die mond gebore nie.”

gibs
Dr. Adrian Saville van die sakeskool Gibs.

Saville het gaan ondersoek instel na die “geheime” van dié lande en of dit gebruik kan word om Suid-Afrika van besteders in spaarders en beleggers kan verander.Die Spaarindeks was in die vierde kwartaal van 2018 op 60 punte, die laagste vlak nóg. ’n Punt van 100 sou as “slaag” beskou kon word, volgens René Grobler, hoof van kontantbeleggings by Investec.

Navorsing van die Spaarindeks identifiseer die strukturele bestanddele wat welvaart bou. Dis soortgelyk in al die lande wat as “ekonomiese wonderwerke” geïdentifiseer word, soos Chili, Costa Rica, Estland, Pole, Taiwan en Suid-Korea.

Saam help dié ses “bestanddele” om per capita-inkomste te verhoog, ongelykheid te verminder en dinge soos lewensverwagting en opvoedingsvlakke te verhoog:

  • ’n Hoë spaarkoers;
  • Toegang tot verbeterende gesondheidsorg;
  • Toegang tot verbeterende onderrig;
  • ’n Gunstige demografiese struktuur;
  • ’n Stabiele beleidsomgewing met doeltreffende instellings; en
  • Ekonomiese openheid.

Saville sê die spaarkoers is die heel belangrikste faktor.

“Vir Suid-Afrika om ’n jaarlikse groeikoers van 5,4% te behaal, die syfer wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan as amptelike mikpunt gestel word, het ons ’n spaar-en beleggingskoers van nagenoeg 30% nodig. Suid-Afrika se koers is nagenoeg die helfte daarvan, op 15% of 16%,” sê Saville.

Dié koers sluit egter alle sektore van die land in – maatskappye, die regering en huishoudings.

Op die oomblik dra maatskappye die meeste tot netto besparings in Suid-Afrika by.

Die regering het ’n begrotingstekort, wat beteken die regering “ontspaar”, maar Saville sê dis normaal vir ’n ontwikkelingstaat wat veronderstel is om infrastruktuur te bou.

Die enigste manier hoe Suid-Afrika as land sy spaarkoers kan verbeter, is as huishoudings meer spaar.

Op die oomblik “ontspaar” huishoudings as geheel.

Die enigste manier om die gewoonte [van spaar] aan te leer, is om daarmee te begin. Dit vereis selfdissipline, maar as die gewoonte eers gevestig is, is jy ’n spaarder.
René Grobler van Investec

“Die skokkende waarheid is dat Suid-Afrika se huishoudelike spaarkoers nul is. Daar is uiteraard huishoudings wat spaar deur bydraes tot pensioenfondse, uittreeannuïteite, effektetrustfondse en beleggings in hul huise en eiendom. Maar vir elke rand wat een huishouding spaar, ‘ontspaar’ die volgende huishouding deur ’n motor op skuld te koop of geld op ’n kredietkaart te bestee,” sê Saville.

Saville sê huishoudings sal nie kan spaar sonder steun van die regering en sakesektor nie. Mense kan uiteraard nie spaar indien hulle nie ’n bron van inkomste het nie. Die ekonomie moet gestimuleer word, byvoorbeeld deur dit vir kleinsakeondernemings makliker te maak om sake te doen, sodat meer werk geskep word sodat huishoudings ’n inkomste kan skep.

Daarby moet alle sektore saamwerk om spaar en beleggings te bevorder. “Chili het spaar vir aftrede byvoorbeeld in die 1980’s verpligtend gemaak. Mense het nie ’n keuse gehad nie – hulle moes bydra tot ’n nasionale pensioenfonds. As jy bedank het, het jou pensioenfondsbydrae in die fonds gebly tot en met jou aftrede.”

In Suid-Afrika mag jy ál jou aftreegeld onttrek wanneer jy voor aftrede van werk verander. Jy betaal wel belasting op die geld.

Spaar is aangeleerde gedrag, sê Grobler. “Spaar kan een van die voordeligste gewoontes wees wat jy vir jou toekomstige welstand kan aanleer, en jou toekomstige self sal jou beslis daarvoor bedank. Die enigste manier om die gewoonte aan te leer, is om daarmee te begin. Dit vereis selfdissipline, maar as die gewoonte eers gevestig is, is jy ’n spaarder.”

investec
René Grobler, Investec se hoof van kontantbeleggings.

Haar drie beste wenke om dit te bereik, is:

1. Gebruik tegnologie tot jou voordeel

Stel byvoorbeeld geskeduleerde betalings van jou primêre bankrekening tot ’n spaarrekening op. “Dis een van die maklikste maniere om ‘outomaties’ te spaar en te verseker jy prioritiseer spaar voor besteding op luukse items.”

2. Skeduleer ’n jaarlikse afspraak met jou finansiële raadgewer

Hersien jou finansiële omstandighede, kyk na hoe jou spaargeld aangroei, ontleed jou beleggingsopsies en verseker dat jou opbrengs na wens is, in ag genome jou eie risiko-aptyt.

3. Benut belastingvoordele

Dit sluit in dat jy in belastingvrye spaarprodukte en aftreeprodukte, wat ook belastingvoordele inhou, spaar. Grobler sê die bykomende aansporing dat jy minder belasting betaal, moedig baie mense aan om te spaar.

“Daar is ’n werklike geleentheid vir Suid-Afrika om die volgende ekonomiese wonderwerk in Afrika te word. Dit begin met elke individuele huishouding en mens in daardie huishouding. Neem die eerste tree deur ’n bietjie elke maand te spaar en dit in ’n gewoonte te omskep.”

Meer oor:  Investec  |  Spaarmaand2019  |  Spaar  |  Spaarmaand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.