Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Spaarmaand: 15+ wenke om op tegnologie te spaar

Ons léwe aanlyn, nou selfs meer as voor die inperkings vir die Covid-19-pandemie. Die koste van groter datapakkette, stromingsdienste en selfs nuwe televisies het gestyg. Probeer dié Spaarmaand weer die koste in toom te hou.

  

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Maak seker jy jou foon herken die Wi-Fi-netwerk van vriende en familielede sodat jou foon outomaties verbind wanneer jy by die deur instap. Foto: Gallo Images
1. Hou op om net die nuutste en blinkste te soek

Soms skaf ons nuwe tegnologie aan omdat ons dit nodig het. Ons selfoon of skootrekenaar werk nie meer so lekker nie of die skerm is gekraak.

Dis alles goed en wel, maar soms skaf ons iets doodeenvoudig aan omdat dit nuut is en ons daarvan hou en wil deel wees van die nuwe mode. Elke selfoonmaatskappy stel elke jaar sy topmodelle bekend, maar die waarheid is dat jy nie elke jaar of twee ’n nuwe selfoon nodig het nie.

As jy regtig geld wil spaar, sal jy vergelyk wat jy tans het en of dit steeds werk teenoor wat jy wil hê.

2. Evalueer jou tuis-internet gereeld

Kyk so elke jaar of twee na jou tuis-internetpakket. Soos meer diensverskaffers in jou buurt begin sake doen, en soos selfoonmaatskappye hul netwerke uitbrei, word goedkoper pakkette wel bekend gestel.

’n Reuse-pakket is net ’n goeie kopie as jy dit kan benut. ’n Spoed van 100 Mbps klink fantasties, maar baie min huishoudings het dit regtig nodig!

3. Doen navorsing oor produkte

Dit klink ooglopend, maar dit kan baie help. As jy iets nuuts wil koop, moet jy seker maak dat wat jy koop eintlik beter is, anders bestee jy geld onnodig.

Kyk na hoe oud of lank produkte reeds op die mark is.

Vind uit wanneer nuwe produkte of modelle uitgereik word.

Vergelyk die spesifikasies van ouer en nuwer modelle, en weeg spesifikasies op teen die prys.

Vergelyk die produkte van maatskappye wat soortgelyke produkte maak en wat hulle bied daarmee.

Vat jou tyd – enige oorhaastige aankoop gaan jou meer geld kos.

4. Vra jouself af of jy regtig meer lugtyd of data benodig

Vodacom, MTN, Cell C en Telkom sal jou gereeld kontak om te vra of jy nie jou lugtyd- of datapakket vir ’n paar rand meer wil opgradeer nie of soms selfs vir ’n paar rand minder, maar net as jy ’n nuwe tweejaarkontrak sluit.

Jy het nie die vinnigste internet nodig vir tuis werk en fliek kyk nie. Foto: Pixabay

Jy het dalk die vorige maand ’n klein bietjie meer lugtyd of data gekoop – hulle monitor natuurlik jou gebruik en let op wanneer mense dalk vatbaar sal wees vir ’n aanbod.

As jy weet jy het net die vorige maand meer oproepe gemaak as normaalweg, om watter rede ook al, is daar geen rede om op te gradeer nie. As jy egter gereeld oor jou begroting gaan, sal jy tog moet kyk of die opgradering nie sal uitwerk nie.

5. Behou kontrakte soos dit was

As jy ’n nuwe foon koop of ’n nuwe kontrak oorweeg, sal selfoonmaatskappye jou probeer oorreed om ook ’n beter, meer uitgebreide kontrak te kies. As jy uitgekom het met die data en lugtyd van jou vorige kontrak, moenie opgradeer nie. Hou wat jy gehad het saam met jou nuwe foon.

Maak ook seker dat jy nie vir ekstras betaal nie. Kanselleer datakontrakte wat jy nie meer gebruik nie wanneer dit verval.

Onthou dat jy nie ’n nuwe tweejaarkontrak móét aangaan nie. As jou slimfoon nog werk, kan jy ’n maand-tot-maand-kontrak aangaan of jy kan ’n tweejaarkontrak net vir dienste aangaan, sonder om ’n nuwe foon te kry.

6. Moenie aanvaar dat die duurste produk die beste gehalte is nie

In baie gevalle as jy deesdae ’n nuwe TV of selfoon koop, sal die verkoopspersoon bykomende artikels aanbied. In die geval van ’n TV sal hulle jou ’n HDMI-kabel aanbied en in die meeste gevalle sal die verkoopspersoon net die duurste een vir jou gee.

As jy nie ’n kabel met die TV kry nie, maak seker wat jy benodig vir die TV om te werk. As jy nie ’n 4K-TV koop nie, is daar geen rede vir jou om ’n kabel te vat wat 4K kan hanteer nie.

Hou ook daarom in gedagte dat jy moet koop na gelang van jou gebruiksbehoeftes. As jy dus ’n groot kamer het en videospeletjies gaan speel, moet jy ’n bietjie meer ondersoek doen en seker maak jy kry die regte kabel vir jou konsole.

Moenie net aanvaar wat vir jou aangebied word nie. Soms kan die goedkoper artikel ook net so goed wees.

Dieselfde geld selfone. Saam met die nuwe Samsung- en Apple-modelle kry jy nie ’n herlaaiblok nie. Dit beteken jy moet een bykoop. In baie gevalle is die generiese modelle net so goed soos die handelsnaamproduk.

7. Koop gebruikte of opgeknapte produkte

Sommige mense hou tog hul produkte in ’n goeie toestand en daarom is dit ’n goeie opsie om na te kyk.

Dit maak nie saak wat dit is nie – ’n skootrekenaar, slimfoon of konsole – veral as dit ’n model is wat al ’n rukkie bestaan, is dit ’n goeie idee om te kyk watter gebruikte produkte beskikbaar is. Baie mense maak gebruik van Facebook se Marketplace, OLX of Gumtree.

Opgeknapte (refurbished) produkte kan net so goed soos nuwe produkte wees, aangesien hulle noukeurig getoets en ondersoek is om seker te maak dat dit in ’n werkende toestand is – dis veral waar as jy dit by die vervaardiger of ’n betroubare handelaar koop. Op dié manier sal jy ook artikels met ’n waarborg kry.

8. Kanselleer onnodige dienste

Van Netflix en Showmax tot Deezer en Apple Music – ons digitale lewe is baie bedrywig deesdae!

Doen ’n slag ’n oudit van al die apps, stromingsdienste en digitale inskrywings waarvoor jy en die res van jou gesin betaal. Maak seker daar is geen oorvleueling nie en dat julle nie betaal vir dienste wat nie veel gebruik word nie. As julle ’n gesin is, kies ’n pakket wat vir gesinne geskik is, eerder as wat elkeen individueel inteken op ’n diens.

Gaan ook jou selfoonrekening ’n slag na en kyk of jy nie dalk eenkeer ingeteken het op ’n diens of produk wat jy nie meer gebruik nie.

9. Soek eerste gratis apps

Dikwels kry jy interessante apps wat jy vir ’n ruk (sê maar 14 of 30 dae) gratis kan gebruik voordat jy moet betaal. Met ’n bietjie navorsing en tyd sal jy iets soortgelyks kan kry wat moontlik gratis is.

10. Vermy die verlengde of uitgebreide waarborg

Elke keer as jy iets nuuts koop, soos ’n TV of nuwe selfoon, sal hulle aan jou ’n verlengde waarborg of versekering probeer verkoop. Dit verhoog nie net die koste van die produk nie, maar dit is ook nie altyd die moeite werd nie.

Moenie dadelik opgradeer wanneer ’n nuwe konsole op die mark kom nie. Wag totdat dit heelwat goedkoper geword het. Foto: Pixabay

Byvoorbeeld, as jy ’n selfoon koop, bied die maatskappy jou dalk versekering aan, maar dan is dit net vir iets soos as die skerm breek en niks anders nie. Maak seker jy verstaan wat die waarborg of versekering behels wat vir jou aangebied word. Kyk ook wat die bybetaling sal wees.

As jy wel weet jy laat val jou foon gereeld, oorweeg skermversekering. Dis egter moontlik goedkoper om jou foon saam met jou motor- en huisinhoud as allerisiko-dekking te spesifiseer, maar kyk weer eens eers na die voorwaardes en bybetaling.

11. Koop videospeletjies op afslag

As jy ’n PlayStation 4 besit, bied PlayStation elke maand afslag op speletjies. As jy net wag, sal jy speletjies goedkoper kan kry. Jy kan ook ou speletjies met vriende uitruil of gebruikte speletjies koop. Dieselfde geld Xbox-speletjies.

As jy ’n rekenaar besit, kan jy gereeld afslag kry as jy aan Steam behoort.

12. Onthou om dinge soos student- of groepafslag te gebruik

Probeer vasstel of jou werkgewer enige afslag kry as werknemers tegnologie aanskaf. Benut afslag as jy ’n student of pensioentrekker is.

13. Wag eers

As iets nuuts uitkom, sal dit duur wees. As jy doodeenvoudig net ’n paar maande wag, sal jy heel moontlik die artikel goedkoper kan kry. Die prys van tegnologie bly verander nadat dit uitgekom het. Kyk ook ná gewilde kooptye soos Kersfees. Jy kan wag vir promosies op Swart Vrydag, maar maak seker jy ken jou pryse sodat jy weet of iets wél goedkoper word.

14. Verkoop ou tegnologie

As jy ’n ou skootrekenaar het wat net rondlê en stof opgaar, verkoop dit eerder.

Of as jy ’n PlayStation, selfoon of kamera het, of selfs speletjies of CD’s wat jy nie meer gebruik nie, verkoop dit. Hoe vinniger jy dit verkoop, hoe meer kan jy daarvoor vra.

Dis ook hier waar dit belangrik is om jou tegnologie se boks en kabels in ’n goeie toestand te hou As jy ’n artikel met die oorspronklike boks en bykomstighede kan aanbied, sal jy nie net meer kan vra nie, dit sal ook meer belangstellendes lok.

15. Kry meer uit jou ou tegnologie

In sommige gevalle is jou ou tegnologie tot meer in staat as wat jy dink. In die geval van ’n rekenaar se sentrale verwerkingseenheid of videokaart kan jy dit “oorklok”. Jou ou selfoon kan jy ook Root (Android) of Jailbreak (iPhone). Dit is wanneer jy die bestaande sagteware op die foon verander om jou beter verwerkingskrag te gee.

16. Stel ’n kredietlimiet

Besluit wat die maksimum is wat jy op jou foonrekening kan bekostig en vra dat jou selfoonmaatskappy ’n limiet instel. Dit beteken jy sal dan nooit ’n skok kry soos ’n rekening van derduisende rande nie.

17. Gebruik gratis Wi-Fi

As jy onbeperkte internet by die huis of by die werk het, maak seker jou foon is geregistreer om op die Wi-Fi aan te meld. Vra ook altyd in ’n winkelsentrum, restaurant, konferensiesentrum of hotel of hulle gratis Wi-Fi het en meld aan – dit is baie algemeen.

En vra jou vriende of familielede of jy op hul Wi-Fi kan aanmeld as jy by hulle kuier – as hulle baie of onbeperkte data het, sal hulle glad nie omgee nie.

Wees net versigtig met Wi-Fi: Maak seker jy meld wel aan op ’n veilige netwerk – moenie net op enige gratis platform aanmeld nie.

18. Spaar data

As jou data gereeld opraak, skakel ligging- en ander datadienste af wanneer jy nie op Wi-Fi is nie en stel jou apps dat dit slegs bywerk as jy wel op Wi-Fi is.

19. Stel streng reëls vir jou kinders

Ons wil almal hê ons kinders moet veilig wees en ons kan kontak in ’n noodgeval. Daarby is ’n selfoon vir tieners ’n bykans onontbeerlike vorm van vermaak.

Moet egter nie vir ’n kind wat te jonk is ’n foon gee nie, en veral nie ’n nuwe foon nie. Jong kinders sal fone maklik verloor of laat val, tot jou skade. Kleiner kinders kan hoogstens op Ma of Pa se foon speel of ’n ou foon vir speletjies “erf”.

Wanneer jou kind ’n foon kry, moet hulle weet wat hulle mag of nie mag doen nie.

Vir tieners moet jy maar ’n pakket (hetsy kontrak of voorafbetaal) met genoeg data kies – hulle kommunikeer op WhatsApp en boer op YouTube of Google.

Stel vir tieners ’n streng perk op besteding. Byvoorbeeld, kom ooreen dat jy R200 per maand van hul selfoonkoste sal betaal; as hulle meer bestee, moet dit uit hul sakgeld kom. As jy ’n kontrak met gratis minute, data en lugtyd vir hulle kies, moet hulle binne daardie perke bly – of self lag en betaal.

Meer oor:  Spaarwenke  |  Slimfoon  |  Spaarmaand  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.