Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Spaarmaand: 22 wenke om op jou pienkvoet te spaar

Alle ouers (om van grootouers nie te praat nie!) wil die beste en mooiste goed vir hul pienkvoete gee. Hoe balanseer ’n mens daardie behoefte teen jou begroting? Hier is wenke wat geldslim ma’s in die Netwerk24-span oor die jare heen versamel het.

  

baba generies
Jou baba het liefde nodig, nie ’n ontwerperskamer nie. Foto: Pixabay
1 . Onthou die lang reis voor jou

Te midde van fraai babakleertjies en oulike speelgoed is dit maklik om te vergeet dat jy aan die begin staan van ’n baie lang reis met jou kind.

Daar is baie belangriker uitgawes voor jou – skoolgeld, klasgeld, potensiële mediese uitgawes (ons hoop jy het min daarvan) en jy droom dalk ook daarvan om jou kinders te help motor koop of huis opsit of om vir hulle ’n stewige erfporsie na te laat.

Hou die lang termyn altyd in jou agterkop – van die oomblik dat jy die babakamer se dekor beplan tot wanneer jy voor ’n rak vol oulike babakleertjies staan.

2. Vind uit hoeveel geld jy tydens kraamverlof kry

Laat jou mensehulpbron-afdeling voordat jy met kraamverlof gaan, vir jou die somme maak oor hoeveel geld jy kan verwag. Werkgewers verskil ten opsigte van hoeveel geld hulle uitbetaal.

Sommige werkgewers eis self van die Werkloosheidsversekeringsfonds. As jy self moet eis, kry vooraf al die vorms en besonderhede. Dit is maar soms ’n nagmerrie – maak seker iemand kan jou met die eisproses help ná jou baba se geboorte.

Wanneer jy weet hoeveel jy gaan uitkry, begroot. ’n Mens moet dikwels maar die rieme stywer sny as jy ’n baba kry – jy kry dalk minder geld én het die bykomende uitgawes wat ’n kleinding meebring.

3. Verseker jou vermoë om áltyd te kan sorg

As jy ’n nuwe lewe die wêreld inbring, kom dit saam met ’n enorme klomp verantwoordelikheid. Die grootste daarvan is om te verseker dat jou baba versorg sal word selfs wanneer jy iets oorkom.

Dit is gebiedend noodsaaklik dat jy lewensversekering uitneem en ook ongeskiktheidsdekking sodat as jy sou sterf of as jy weens ’n ongeluk of siekte nie meer kan werk nie, jou kind versorg is.

Werk ook jou testament by om voorsiening te maak vir wat moet gebeur indien albei ouers iets oorkom. Die beste opsie is om te verseker ’n testamentêre trust word geskep wat jou boedel namens jou kinders sal bestuur – jy wys die trustees aan (verkieslik ’n familielid sowel as ’n onafhanklike persoon soos jou prokureur met die nodige regskennis om ’n trust te bestuur).

4. Hou hospitaalkoste in toom

Indien die pienkvoet nog op pad is, probeer jou mediese koste in toom hou deur byvoorbeeld nie ’n enkelkamer by die hospitaal te bespreek waarvoor jy ekstra betaal nie.

Jy kan maar vir die een of twee nagte in die hospitaal ’n kamer deel – baie hospitale plaas in elk geval net twee ma’s in ’n kamer.

Jy sal steeds genoeg tyd saam met jou baba hê en privaatheid in ’n hospitaal is in elk geval ’n mite met verpleegkundiges, dokters en ander personeel wat onverwags in en uit die kamer kom!

5. Moenie vooraf ’n doekesak koop nie

Die meeste private hospitale gee vir jou ’n doekesak vol produkte vir jou en jou baba as jy daar kraam, ingesluit by jou kraamkoste. (Moet dit nie in die hospitaal vergeet nie!) Vra ook of hulle enige bykomende voorbeeldprodukte (monstertjies) het wat jy kan kry.

As jy ’n Dis-Chem-lojaliteitskaart het, laat hulle ook weet as jy kraam – hulle gee óók vir jou ’n doekesak vol produkte wat jy reeds vooraf kan bestel.

Clicks het ’n babaklub, wat vir jou ekstra punte gee totdat jou kind drie jaar oud is. Ekstra punte beteken geld in jou sak later, maar, soos altyd, moet jy seker maak dat jy nie duurder vir iets betaal of meer koop net omdat jy ’n lid is van ’n lojaliteitsprogram nie.

6. Borsvoed so lank as moontlik

Nie net is dit gesond nie, dit is ook die goedkoopste manier om jou baba te voer. (Moet egter nie skuldig voel as jy nié kan borsvoed nie; daar is genoeg dinge waaroor ma’s skuldig voel!)

  • Leer om dit gemaklik in die openbaar te doen. Borsvoeding is doodnormaal en jy hoef nie skaam te wees nie, maar jy kan ’n doek of kombersie gebruik om jouself te bedek as jy selfbewus is.
  • ’n Borspomp kan baie duur wees. Probeer een leen (jy kan die pypies vervang). Selfs al koop jy ’n pomp, is dit steeds goedkoper as om formulemelk te koop, sê Celinda.
  • Voedingsbra’s is gerieflik, maar ’n opsionele ekstra. Moenie daarin belê voordat jy seker is jy kan borsvoed nie en probeer selfs dan eers daarsonder klaarkom. Jy kan ook ’n sportbra probeer.

6. Vra raad voordat jy koop

Gesels met ander (geldslim!) ma’s voordat jy meubels, toerusting, katoetertjies of klere vir jou baba koop.

Let wel, moenie gesels met daardie vriendin of kollega met die ontwerpersuitkyk op die lewe nie – dié sal vir jou vertel dis onontbeerlik om ’n kompaktum of vierwielaangedrewe stootwaentjie te hê, om nie te praat van al die bykomstighede nie.

Nee, vra liefs jou ma of ouma, wat dalk ses kinders in die Groot Depressie grootgemaak het, wat jy régtig nodig het.

7. Stadig met die dekor

Onthou dat jy die babakamer hoofsaaklik vir jouself versier. Moenie oorboord gaan nie. ’n Laag verf en ’n paar prente is goedkoper as om stensils of muurpapier teen die mure te laat opplak wat dalk nie eens lank genoeg hou dat die kind dit self kan geniet nie.

Aangesien babas in elk geval aan die begin in hul ouers se kamer slaap om nagtelike voedings te vergemaklik, is dit ’n idee om jou slaapkamer en en suite-badkamer in te rig vir die baba en eers later die babakamer (kinderkamer) te versier.

Wanneer jy dekor beplan, kies neutrale kleure en kies temas wat ook nog by ’n ouer kind sal pas.

8. Kry die beste uit jou ooievaarstee

Moenie baie klere of doeke koop voor jou ooievaarstee nie – wag en kyk eers wat jy kry en wat jy daarna steeds nodig het.

Maak ’n lysie en vra mense om daarby te hou. Dis vir ander mense lekker om fraai rokkies of speelgoed te koop, maar dan word die “vervelige” goed soos frokkies of waslappies dalk nie gekoop nie.

Vra mense om geskenkbewyse te gee. Dis iets wat jy kan hou tot nadat die baba gekom het.

Hou produkte toe. Die meeste winkels, veral babawinkels, is bereid om produkte wat nie oopgemaak is nie, selfs pakke doeke, om te ruil, selfs al weet jy nie waar dit gekoop is nie. Sommige gee vir jou kontant, ander laat jou dit ruil vir iets van dieselfde waarde.

Vra mense om nie produkte soos poeier, sjampoe, petroleumjellie, badolie of boudsalf te koop nie. Dis goedbedoelde geskenke, maar ’n mens kry gewoonlik te veel daarvan. Jy weet ook nie wat vir jou baba gaan werk nie. Sommige mense koop ook goed soos babapoeier en petroleumjellie waarvan baie moderne ma’s nie hou nie.

9. Bly weg van duur meubels

Wiegies is oulik, maar jy kan dit net ’n klein rukkie gebruik voordat jou baba na ’n bababed moet skuif. ’n Mens het ook nie regtig ’n kompaktum nodig nie – dis eintlik meer moeite as wat dit werd is om water heen en weer te dra. Was jou baba sommer in die wasbak in die badkamer!

10. Moenie voor die geboorte te veel babaklere koop nie

’n Mens koop maar áltyd te veel babaklere en die bloedjies groei vinnig daaruit. Wag minstens tot ná jou ooievaarstee voordat jy die basiese goed wat jy nog benodig, aanskaf. En onthou dat jy dalk ook ná die baba se geboorte nog klere gaan kry.

Moenie die beste gehalte babaklere koop nie - jou baba ontgroei klere voordat dit opgewas is. Foto: iStock

Bly veral weg van kleertjies vir pasgeborenes. Daardie newborn-groeipakkie gaan net ’n maand lank pas. (Dis nou tensy jy ’n babatjie het wat ’n bietjie vroeg gearriveer het en steeds te groot is vir newborn-klere!)

Skaf basiese meng-en-pas-klere aan – frokkies, langbroekies en bostukke is meer ekonomies as groeipakkies (babygrows). As baba iets bo of onder “uitspoeg”, kan jy net die bostuk of die broek vervang en hoef jy nie die hele groeipakkie te vervang nie. Babas gaan wel deur meer as een uitrusting per dag en nié omdat hulle op elke foto anders wil lyk nie.

As jy van plan is om meer as een kind te hê, koop klere in neutrale kleure – jy kan natuurlik ’n dogtertjie in blou aantrek en ’n seuntjie in pienk, maar daar is steeds mense wat konserwatief is oor dié soort ding en vir jou gaan frons.

11. Koop goedkoper klere

As dit by babaklere kom, is dit nie die moeite werd om duurder vir “gehalte” te betaal nie. Wees op die uitkyk vir uitverkopings en koop by goedkoper winkels – die kleinding dra klere nie lank genoeg dat die gehalte saak maak nie.

Die prentjie verander natuurlik as jy van plan is om ’n rugbyspan groot te maak en die klere wil bêre vir die volgende een!

12. Vergeet van skoene

Oulik soos babaskoentjies is, dis net moeite om aan te trek en dit val aanmekaar af. Kinders leer ieder geval makliker loop as hulle kaalvoet is.

13. Leen, huur of koop tweedehands

Daar is heelwat tweedehandse winkels wat alles van bababeddens tot kleertjies verkoop. Dis ook ’n goeie plan om jou familie en vriende te vra wat jy kan leen, oorkoop – of dalk selfs kry. Moenie bekommerd wees oor ’n vlekkie of rafeltjie op klere nie – teen die tyd dat jou baba klaar is, gaan daar nóg ’n vlekkie of rafeltjie wees.

Moenie skaam wees om babaklere by ’n vriend of familielid oor te neem nie. Foto: Pixabay

By ’n plek soos Baby Exchange (wat in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad sake doen) kan jy toerusting huur. Dis lekker as jy met vakansie gaan, maar dis ook ’n idee om toerusting wat jy wel wil koop, eers op die proef te stel.

’n Karstoeltjie is byvoorbeeld iets waarop jy dalk nie wil bespaar nie, maar as jy nie seker is watter handelsnaam jy verkies nie, kan jy verskillende stoeltjies huur totdat jy besluit het.

14. Stadig met bottels en fopspene

’n Mense kan met minder bababottels oor die weg kom. Moet ook nie alles vooraf koop nie – ingeval jou baba nie van ’n spesifieke maak se tiet hou nie. Dieselfde geld fopspene – nie alle kinders hou daarvan nie, koop dus eers net een.

15. Koop goedkoop vs. duur doeke

Die argument vir duurder handelsname as dit by doeke kom, is dat ’n doek van beter gehalte meer vog absorbeer en jou baba dus uiteindelik minder doeke dra, sonder om ’n uitslag te kry.

Jy gebruik egter nie sóveel minder doeke om die duurder prys te regverdig nie. Sit dalk wel ’n goeie doek in die nag aan wat dan heelnag hou en stuur goedkoper doeke bedags kleuterskool toe.

Ken die prys van doeke en spring as jy ’n spesiale aanbieding geadverteer sien!

16. Wees slim met babawaentjies

Moenie ’n fortuin aan ’n babawaentjie bestee nie. Jy het nié die duurste model met sy viertrekwiele nodig nie. Probeer om die waarheid te sê ’n babawaentjie leen eerder as koop.

Hou sosiale media (soos Nula Baby en Baby Bugs) en geklassifiseerde advertensies dop vir tweedehandse meubels en waentjies.

Koop eerder ’n kombinasieproduk wat ’n draagbare karstoeltjie en draagbedjie insluit.

17. Stadig met die speelgoed

Speelgoed met blink liggies en klanke is oulik, maar nie noodsaaklik vir jou kind se ontwikkeling nie. Dikwels word kinders se geliefkoosde goeters Ma se sleutels en potte, en later goedkoop plastiek-diertjies.

Maak ook jou eie speelgoed. Jy kan byvoorbeeld ratels maak met plastiekbakkies vol munte of boontjies (maak net seker die deksel is baie stewig vasgedruk!). Soek wenke op Pinterest of selfdoenwebwerwe.

18. Maak jou eie babakos

Jy kan baie geld bespaar as jy self kos fynmaak vir jou baba.

Maak ’n groot hoeveelheid puree van vrugte of groente en vries dit in ysbakkies. Aan die begin is dit omtrent wat ’n baba kan eet, en jy kan natuurlik later meer blokkies op ’n slag ontvries.

Maak jou eie babakos en vries dit. As jy ’n houertjie winkelkos eers oopgemaak het, moet dit vinnig opgebruik of weggegooi word - ’n groot vermorsing. Foto: Pixabay

Interessante kombinasies is aarbei en beet; piesang en appel; peer en koejawel; mango en perske; patat; botterskorsie.

Begin so gou as moontlik vir jou baba “grootmenskos” gee, solank dit natuurlik fyngemaak word.

Hou wel babakos aan vir uitstappies of vir dae wat jy dalk te moeg by die huis kom om kos fyn te maak.

19. Hou ’n ekstra doekesak in die motor

Dit verg nogal heelwat organisasie om ’n baba op uitstappies te neem en iets word maklik vergeet – wat jy dan ten duurste êrens moet koop. Hou ’n “ekstra” doekesak in die motor, met drie doeke, babalappies, ’n ekstra uitrusting, ’n versnapering (as jou kleinding al kan kou) wat nie kan sleg word nie, ’n skoon, leë bottel en enige ander benodigdhede wat jy gereeld gebruik.

20 . Vra jou dokter vir voorbeeldprodukte

As jou kind byvoorbeeld ekseem het, sal jy weet hoe moeilik dit is om die regte produk te vind. Soms het dokters voorbeeldprodukte wat hulle vir jou kan gee om te toets. Dit kan jou mediese koste in toom help hou.

21. Spaar op inentings

As jy jou kind laat inent, laat doen dit by jou apteek se kliniek en vra vir die goedkoper staatsinentings. Dis ewe goed, dis net generiese produkte.

22. Gebruik jou rugsteunstelsel

Span jou ma, suster, vriende en ja, jou skoonma, in as baba-oppassers om jouself net ’n effense blaaskans te gee. Dit kan baie duur wees om babawagters te huur – en jy het elke nou en dan wel ’n blaaskans nodig.

Meer oor:  Spaarwenke  |  Kinders  |  Babas  |  Spaar  |  Spaarmaand  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.