Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Spaarmaand: 50+ wenke om krag te bespaar

Welkom in Spaarmaand! Ons takel vanjaar elke dag ’n ander onderwerp en versamel wenke om jou te help spaar. Omdat dit winter is, en ook omdat kragtariewe pas met byna 15% verhoog is, begin ons met 50 wenke oor hoe jy krag kan bespaar. Jy ken dalk ’n paar, maar dalk het jy agterlosig geword – hier is jou herinnering! (Lesers se nuwe wenke sit ons onderaan as bonuswenke!)

  

elektrisiteit
Die hele huis se ligte hoef nie te brand nie - en jy kan op lang termyn met energiebesparende gloeilampe bespaar, of minstens met gloeilampe met ’n laer wattverbruik. Foto: Unsplash
Kennis is mag

1. Probeer holisties na jou gesin se kragverbruik kyk. As jy ’n voorafbetaalde meter het, is dit maklik om te kyk watter tye van die dag meer krag gebruik word of hoeveel elke toestel gebruik. Stel ’n bietjie vir so ’n week of twee ondersoek in na wat jou “kragvreters” is en fokus jou spaarplanne daarop.

Spaar met jou geiser

Die grootste bron van kragverbruik in ’n huishouding (tot 40%) is gewoonlik maar die waterverhittingstelsel. Daar is heelwat maniere om op warm water – en dus krag – te bespaar.

2. Stort korter en installeer ’n waterbesparende stortkop. Kapenaars het te midde van vrese oor dag zero gewoond geraak aan stort van 30 sekondes – ons kan dit weer doen, dié keer om krag te bespaar!

3. Jy kan heeltemal warm genoeg stort en bad as die geiser se termostaat op 50 °C tot 55 °C gestel is. Sommige geisers is op 65° of selfs hoër gestel – dit vreet alles meer krag as wat jy regtig nodig het! Moet egter nie die geiser tot onder 50° stel nie, want dit verhoog die risiko dat bakterieë in die water kan groei.

4. Oorweeg dit om ’n tydskakelaar te installeer wat die geiser sekere tye van die dag afskakel – dalk deur die loop van die dag – en dan ’n paar uur voor bad- en storttyd aanskakel. (As jy vir jou ’n herinnering op jou foon opstel, hoef jy natuurlik niks geld te bestee om dit te doen nie, maar iemand gaan kwaad wees vir jou as jy eendag vergeet . . .)

5. Skakel jou geiser heeltemal af as jy vir die naweek of met vakansie weggaan.

6. Laat ’n isoleringskombers oor jou geiser installeer – dit beteken minder hitte ontsnap en die geiser gebruik minder krag.

7. Jy kan ook al die waterpype in jou huis wat buite die muur sit, met isoleringsmateriaal of selfs koerante isoleer. Laat isoleer waterpype as jy ’n nuwe huis laat bou.

8. As jy bereid is om ’n groot aanvanklike belegging te doen, kan jy betreklik onafhanklik raak van Eskom deur sonkragpanele en selfs ’n rugsteun-batterystelsel te installeer. Jy sal kundige advies moet kry oor of jou dak daarvoor geskik is – dit moet groot genoeg wees en genoeg son kry. Daar is mense wat beweer dat jy jou kragrekening met sonkrag kan halveer of méér; ’n besparing van tussen 20% en 40% is dalk meer realisties. Sonkrag word beskou as iets wat jou huis se waarde verhoog, maar dit is ’n groot aanvanklike uitgawe en boonop vergeet baie mense dikwels dat sonkragpanele ook maar instandhouding verg.

Kosmaak

9. As jy ’n nuwe stoof benodig, oorweeg ’n gasstoof. Jy kan ook baie goed op ’n klein gasstofie gaarmaak. (Niks klop pannekoek wat op ’n gasstofie gemaak is nie!)

krag
’n Gasstoof help jou krag bespaar. Foto: Unsplash

10. Moenie groot hoeveelhede kos soos rys of pasta in die mikrogolfoond kook nie. Dit neem dan net so lank of langer as op die stoof.

11. Hou die deksel so lank as moontlik op wanneer jy kos kook – jy verloor sowat tweederdes van die energie sonder die deksel.

12. Gebruik die minimum water as jy kos maak of water in die ketel kook.

13. Sit die stoof af vyf minute voordat jy dink die kos is klaar – dit bly baie lank warm.

14. Gebruik ’n drukkoker vir bredies en sop, want dit verkort die gaarmaaktyd aansienlik.

15. Moenie die oond vooraf verhit nie. As jy vleis of groente wil bak, is dit nie nodig dat die oond op presies die regte temperatuur is voordat jy die kos in die oond sit nie. Jy kan heelwat kooktyd spaar deur die vleis in te sit sodra jy die oond aansit. Met koek- en broodbak is die prentjie ’n bietjie anders en is dit beter om te wag totdat die regte temperatuur bereik is.

16. Jy kan die oond tot 15 minute voor die einde van die verlangde baktyd afskakel – dit sal aanhou gaar word totdat die oond koel is. (Dit word ook nie aanbeveel vir koek- of broodbak nie!)

Verhitting en verkoeling

Daar is baie maniere om sonder lugreëling, waaiers of verwarmers jou huis en jou eie temperatuur te reguleer.

17. Isoleer jou dak. As jy kan verhoed dat hitte ontsnap en in die somer dat te veel hitte deurdring, kan jy op die koste van verhitting of lugreëling bespaar.

18. Trek in die somer gordyne toe en in die winter oop, maak seker daar is ’n trek deur die huis in die somer, maar nié in die winter nie.

19. ’n Gasverwarmer is baie meer ekonomies as ’n elektriese verwarmer en ’n kaggel dalk goedkoper (maar doen die somme oor die koste van hout of ander brandstof!).

20. Trek eers nog ’n paar ekstra lae klere aan (of uit in die somer) voordat jy die verwarmer (of waaier) aansit.

Stuur jou wenke!
Lesers met wenke om krag te bespaar, kan hieronder kommentaar lewer of ’n e-pos na hanlie.stadler@24.com stuur. Ons sal sinvolle wenke by die artikel inwerk – wie weet, dalk kom ons by 100 wenke uit!
Swembad

21. Laat jou swembadpomp vir ’n korter tyd per dag loop. Volgens die Kaapse metro is ses uur per dag in die somer genoeg, pleks van die tien uur wat sommige mense hul swembadpomp laat loop. Twee tot drie uur per dag is genoeg in die winter.

Beligting

22. Kies gloeilampe met ’n laer wattverbruik (byvoorbeeld 60 W pleks van 100 W).

23. Vervang jou gloeilampe wanneer hulle blaas met LED-lampe of energiebesparende lampe. Baie mense het al ’n bloutjie geloop hiermee – energiebesparende gloeilampe is maklik vier keer duurder as gewone gloeilampe en nee, hulle hou nié 15 tot 20 jaar soos belowe word nie! Daarby is die lig wat dié gloeilampe afgee, onbevredigend vir mense wat op rekenaars werk of fyn naaldwerk of kuns doen. Dít gesê, energiebesparende gloeilampe gebruik tot 90% minder elektrisiteit en is dalk ’n bietjie ongerief werd.

24. Maak seker jou glasligskerms is skoon binne-in sodat dit meer lig afgee.

25. Verf jou huis se binnenshuise mure in ’n ligte kleur, beveel Property24 aan. Donker kleure laat ’n vertrek donker lyk en jy sal dan meer of sterker ligte wil gebruik.

Toestelle

26. Skakel ligte en ander toestelle af as jy ’n vertrek verlaat.

27. Skakel elektroniese toestelle by die muur af – die bystandmodus gebruik ook ’n klein bietjie energie, sowel as die transformator van enige selfoon- of rekenaarlaaier.

28. Maak voordat jy gaan slaap dubbeld seker alle toestelle en ligte is afgeskakel, ook in die kinders se kamers.

29. Moenie ’n elektriese toestel koop as daar ’n heel doeltreffende handgedrewe alternatief is nie, soos ’n blikoopmaker of versapper.

30. Gebruik die doeltreffendste toestel vir die taak, soos ’n broodrooster om brood te rooster eerder as om broodjies in die oond te rooster. (Eintlik, eet meer gereeld die brood vars!) Moet ook nie water op die stoof kook nie, die ketel is beter (maar kook net soveel water as wat jy nodig het).

31. As jy in die mark is vir ’n nuwe yskas of wasmasjien, kies toestelle wat energievriendeliker is. Dit word gewoonlik aangedui (nuwe toestelle is in die algemeen energiebesparend).

32. Ook as jy nuut moet koop, koop die kleinste moontlike yskas, vrieskas, wasmasjien of tuimeldroër waarmee jou gesin kan klaarkom. Groter toestelle gebruik eenvoudig meer krag.

Wasgoed en skottelgoed

Die wasmasjien, skottelgoedwasser en veral tuimeldroër en strykyster, gebruik ook heelwat krag in enige huishouding. Hier is wenke om daarmee te bespaar.

truie
’n Mens het nie nodig om elke kledingstuk te tuimeldroog nie. Foto: Unsplash

33. Wag totdat jy ’n vol vrag wasgoed of skottelgoed het voordat jy die wasmasjien of skottelgoedwasser aanskakel. Dit beteken uiteindelik jy was dalk ’n bondel of twee minder elke week.

34. Moenie skottelgoed onder lopende warm water was nie. Tap ook net ’n halwe bak skottelgoedwater – jy het regtig nie ’n dam water vir elke bak skottelgoed nodig nie!

35. Moenie jou wasmasjien stel om water te verhit nie – dis nie nodig nie.

36. Kies die kortste moontlike wassiklus.

37. Jy kan die skottelgoedwasser voor die droogsiklus afsit en dan die skottelgoed self afdroog.

38. Probeer sover moontlik wasgoed in die son en wind te laat droog word.

39. Skep in die reënseisoen ’n binnenshuise ruimte vir die droog van wasgoed. Jy kan opvoubare wasgoedlyne in jou motorhuis installeer of ’n droograk in die huis self. Dit maak dit makliker om nié die tuimeldroër te gebruik nie.

40. Gebruik die tuimeldroër net vir 15 minute en laat die wasgoed dan verder self droog word (die hitte sal help dat dit vinniger droog word). Of laat die wasgoed maar hang en maak dit dan net later heeltemal droog in die tuimeldroër.

41. Sit ’n droë handdoek ’n rukkie lank saam met die nat goed in die tuimeldroër. Dit help om vog te absorbeer en verkort die droogtyd wat nodig is. (Haal dit ná tussen vyf en 15 minute uit – los dit langer hoe meer wasgoed daar is.)

42. Koop kreukeltrae klere. Hang dit nadat dit gewas is netjies op die wasgoeddraad en vou of hang dit direk van die draad af in die kas sonder dat jy dit hoef te stryk. Stryk verkort boonop die lewensduur van jou klere.

43. Moenie bedlinne, denims, nagklere of klere wat jy altyd onder iets dra, stryk nie.

Yskas

44. Jou yskas hoef selde op 1 °C of 2 °C te wees – stel dit gerus effens warmer (tot 5°).

45. As die yskas nié vol kos is nie, vul dit met bottels water. Dit keer dat daar nie so baie oop ruimte is nie. Hoe voller die yskas, hoe gouer bereik dit die verlangde temperatuur.

46. Moenie warm kos dadelik in die yskas sit nie, laat dit eers afkoel.

47. Maak seker die rubberseël van die yskas se deur verseël deeglik.

48. Maak die yskas se deur so min as moontlik oop.

49. Ontvries die yskas se vrieshokkie gereeld, dit verhoog doeltreffendheid.

Beplan vooruit

50. As jy ’n paar dae vooruit jou gesin se “spyskaart” beplan, sal jy onthou om die vleis betyds uit te haal sodat dit in die yskas kan ontdooi eerder as wat jy die mikrogolf moet gebruik. Jy sal dalk meer as een gereg op ’n slag kan gaarmaak en ekstra rys of pasta wat dan gevries kan word vir die volgende keer.

Bonuswenke

51. Vul soggens ’n termosfles met kookwater en gebruik dié water vir koffie en tee eerder as om kort-kort die ketel te kook. – Christel Botha


Meer oor:  Spaarwenke  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Spaar  |  Spaarmaand  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.