Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Spaarmaand: Byna 100 wenke om op kos te spaar

Julie is Spaarmaand en as daar nou een uitgawe is waaraan ons as ’n land van braaiers en bakkers langtand besnoei, is dit kos. Maar deur wakker te wees oor pryse en eenvoudig, maar smaaklik kos te maak, kan jy ’n hele paar rand elke maand bespaar. Hier is 92 wenke om jou kosrekening te verminder. Van die wenke is welbekend, maar jy het dalk ’n herinnering nodig!

     

Foto: Gallo Images/Getty Images
Moenie gang op en gang af in die winkel stap nie - jy stel jouself net in die versoeking. Foto: Gallo Images/Getty Images
Algemene wenke vir inkopies

  

1. Beplan. Stel ’n maaltydplan op en bepaal presies wat jy nodig het.

2. Jy moenie meer as een keer per week winkel toe gaan nie, maar maandinkopies is beter vir stapelvoedsels. As jy wil voordeel trek uit supermarkte se aankoopsiklusse (wat wissel van agt tot 12 weke), moet jy vir so tien weke beplan.

3. Doen inkopies met ’n inkopielys en moet doodeenvoudig níks koop wat nie daarop is nie.

4. As jy ondanks jou inkopielys gereeld “ekstras” inlaai, kyk of jy beter vaar as jy aanlyn inkopies doen. Neem net in ag dat jy vir aflewering betaal – die besparing van nie impulsief koop nie, moet dus meer wees as die afleweringskoste en fooitjie vir die drywer.

5. Hou jou inkopielys so algemeen as moontlik. Dus, pasta – nie spaghetti nie – sodat jy die goedkoopste soort pasta daardie dag kan kies. Of groente – nie broccoli nie – sodat jy die goedkoopste groente kan kies. Pas jou maaltydbeplanning daarvolgens aan.

6. Moenie goed koop nét omdat dit goedkoop is nie – koop net goed wat jy wel gebruik.

7. Lees die advertensiebrosjures wat in jou posbus geplaas word of by die ingang van winkels lê, en wees op die uitkyk vir spesiale aanbiedinge – maar koop slégs produkte wat jy in elk geval sou koop en wel nodig het.

8. Gebruik die webwerwe PriceCheck of Guzzle om aanlyn die advertensies van alle supermarkte te vergelyk. Daar is ook afslagkoepons en maniere om te soek waar produkte die goedkoopste is op ’n gegewe tyd.

9. Skep ’n netwerk prysbewuste mense. Baie mense praat met mekaar oor waar sekere produkte op ’n gegewe tydstip goedkoper is. Whatsapp jou vriendinne as jy spesiale aanbiedings sien en hou jou eie ore op die grond.

10. Kyk na die pryse by die eenpersoon- of familie-onderneming op die hoek. Dit kan dalk net wees dat daardie onderneming se winsgrense laer is of hulle minder uitgawes het, of direk van produsente aankoop.

11. As jy kan, lig die “promosie”-prysplakker op om te kyk wat die “normale” prys is – nie alles wat op promosie is, is regtig goedkoper nie.

12. Kyk na gehalte en hoeveelheid, nie net die prys nie. Iets wat langer hou, is dalk meer werd. Die duurder pakkie het dalk méér van die produk in.

13. Moet jou nie laat verlei deur promosies nie. Daar sal altyd ’n rak of balie in jou supermark wees met blikkies of bottels kos wat as ’n spesiale aanbieding geadverteer word. Kyk egter mooi of dit werklik die goedkoopste produk op die rak is. Byvoorbeeld: Gestel daar is ’n spesiale aanbieding op 750 ml-bottels kookolie. Jy ken jou pryse en besef die bottel is inderdaad goedkoper as vantevore. Maar as jy na die prys per liter kyk, is die tweeliter-bottel op die rak dalk steeds goedkoper.

14. Hou ’n pryslys op jou foon vir produkte wat jy gereeld koop (margarien, koffie, pasta) – só weet jy wanneer ’n spesiale aanbieding regtig waarde vir geld bied.

15. Doen moeite om pryse te vergelyk, veral as jy in ’n stedelike gebied bly, waar verskillende winkels in een winkelsentrum of naby mekaar is (sodat jy nie geld op petrol mors nie).

16. Kyk wat in jou yskas en koskas is vóórdat jy winkel toe gaan. Maak ’n lysie van die stapelvoedsels wat jy wél het sodat jy nie nog daarvan koop nie. ’n Mens sien altyd byvoorbeeld die pasta of tamatieblikkies en dink jy moet maar nog koop, maar jy doen dit elke maand, so die kas is al vol pasta (of wat ook al).

17. Ken jouself. Koop jy meer as jy alleen is of as die kinders, jou lewensmaat of ’n vriendin saamgaan? Jou lewensmaat kan jou gewete teen daardie sjokoladestafie wees óf die een wat jou in die versoeking lei!

Gaan jou strokies na om te kyk of iets aan jou besteding pla. Foto: iStock

18. Jy het dit al 100 keer gehoor, maar dit bly goeie raad: Moenie op ’n leë maag gaan inkopies doen nie, ook nie as jy dors is nie.

19. Suig pepermente terwyl jy inkopies doen – volgens ’n studie in die Journal of Consumer Research help dit versoekings verminder omdat dit jou minder ontvanklik maak vir heerlike geure van byvoorbeeld braaihoender of gebak.

20. Moenie op en af in die supermark se gange stap en kyk wat op die rakke is nie. As daar nie iets in ’n gang is op jou inkopielysie nie, het jy nie nodig om daar te stap nie. Hoe minder gange jy stap, hoe minder onbeplande aankope sal jy doen, volgens navorsing.

21. Kyk na produkte op die heel boonste en heel onderste rakke. Die duurste produkte, of dít wat die supermark graag wil verkoop, word op die middelste rakke uitgestal, waar dit maklik is om te sien. Daar is dalk ’n soortgelyke produk op die boonste of onderste rak – maak seker jy koop nie duurder omdat jy “oogklappe” op het nie.

22. Doen jou inkopies wanneer jy ontspanne is. As jy gestres is, gooi jy maklik goed in sonder om na die prys te kyk of wat nie eens op jou lysie is nie.

23. Doen jou inkopies verkieslik ook wanneer die winkels nie te besig is nie. Dikwels is winkels vroegoggend of laataand die stilste. As jy op Google op jou slimfoon ’n supermark naslaan, is daar vir groot winkels ’n grafiek wat wys wanneer die winkel die besigste is.

24. As jy inkopies móét doen wanneer jy moeg en gespanne is, gaan na winkels wat jy ken sodat jy vinniger kan kry wat jy soek.

25. Moenie net dieselfde handelsnaam elke maand koop nie – kyk na watter soort daardie maand die goedkoopste is.

26. Gebruik jou lojaliteitskaart tot jou voordeel. Moet byvoorbeeld nie tydgebonde punte of kontant terug laat verval nie. Moet egter nie iets koop net omdat jy ekstra punte kan verdien daarop nie. Koop meer van ’n produk as jy wel afslag kan verdien, maar nie op iets wat sleg gaan word nie.

27. Winkels se eie handelsname is meestal (maar nie altyd nie) goedkoper en is dikwels soortgelyke gehalte.

28. Gaan altyd ná jou inkopies deur jou strokie en kyk waar jy meer of minder bestee het as wat jy verwag het. Dit help jou ook meer akkuraat begroot vir volgende maand.

29. Lees Netwerk24 se berigte oor inflasie en kospryse sodat jy weet watter produkte op die oomblik die vinnigste of die stadigste styg. Vleispryse styg byvoorbeeld op die oomblik betreklik skerp, maar die prys van mieliemeel en seisoenale groente en vrugte soos soetrissies, appels en lemoene daal.

LEES OOK: Skep pap! Mieliemeel word goedkoper

30. Klub saam vir grootmaat-aankope. Die meeste van ons weet dat jy dikwels grootmaat-aankope kan doen wat uitwerk op ’n baie goedkoper prys per eenheid, maar jy het dalk nie die begroting óf die bêreplek om 100 blikkies vis op ’n slag te koop nie. Skep ’n soort stokvel – koop grootmaat aan en verdeel dit dan.

31. Laat jou gaste bydra. As jy familie of vriende oornooi (wat tans onder vlak 4 van die inperking afgeraai word), moenie die een wees wat al die kos verskaf nie. Daar is niks daarmee fout om dit ’n bring-en-braai te maak of iemand te vra om die slaai, groente of poeding te maak nie. Almal kan tot ’n ete bydra.

32. Deel met bure en familielede. As jy te veel sop gekook het of oorskiet het, moenie skaam wees om dit met jou bure of familielede te deel nie. Goedhartigheid soos dít kom altyd terug na ’n mens toe.

  

Wenke is welkom!

Netwerk24-lesers het oor jare heen bygedra tot van die wenke in dié artikel. Het jy dalk raad wat ons misgekyk het? Stuur ’n e-pos na hanlie.stadler@24.com en ons sal dit bywerk as bonuswenke!

Vars produkte

  

33. Moenie voorafbereide groente en vrugte koop nie, koop heel groente en vrugte. Haal maar jou groentemessie en -skiller uit. Jy betaal ten duurste vir daardie opgesnyde pampoen en vrugteslaai en boonop word dit gouer sleg.

34. Koop los piesangs, aartappels en ander groente en vrugte eerder as pakkies van vyf of tien, tensy julle regtig baie van ’n ding eet en seker is niks sal weggegooi word nie.

35. Verbou jou eie groente en kruie. ’n Mens kan potte ook gebruik om groente in te kweek as jy nie ’n groot tuin het nie.

36. Koop slegs soveel vars groente of vrugte as wat jy binne ’n gegewe tyd kan opeet – vermorsing is een van die grootste uitgawes as ’n mens te veel op ’n slag koop.

37. Koop groente en vrugte van ’n goeie gehalte, al kos dit dalk effens meer, omdat jy dan minder sal wegsny of selfs weggooi.

Vars groente en vrugte met baie vesel hou jou voller. Maar skil en kap self as jy probeer geld bespaar.

38. Maak vrugteskommels of selfs roomys met vrugte wat gekneus of oorryp raak of bak iets soos piesangbrood.

39. Gebruik groente wat al ’n bietjie verlep het in sop of bredies.

40. Moenie “gesonde” of “vreemde” kos soos maaskaas en hoenderlewertjies koop as niemand in jou huis daarvan hou nie – dit beland net in die vullisdrom.

41. Skaf ’n pak of wat bevrore groente aan – dit is dikwels heel billik en word nie sleg nie. Die prys van bevrore groente styg ook nie altyd so vinnig soos dié van vars groente nie, maar hou pryse maar dop.

42. Moenie die seisoen se eerste lemoen of ander vrug koop nie – pryse daal sodra daar ’n groter aanbod op die mark is.

43. Moenie in die winter aarbeie koop nie – probeer om vrugte te koop in die seisoen wat dit gewoonlik algemeen verbou word. Buite seisoen is dit skaars en ten duurste verbou en die kans is boonop goed dat dit ten duurste ingevoer is.

44. Verpak groente en kruie dig sodat dit so lank as moontlik in die yskas hou.

45. Moenie goed weggooi net omdat die vervaldatum (“best before”) verby is nie – en beslis nie as die verkoopdatum (“sell by”) verby is nie. Kos wat in die yskas gehou word, is nog ná die vervaldatum veilig en smaaklik, veral jogurt, sekere groentes en brood. Let op na snaakse kleure en geure en wees baie versigtig met vleis.

  

Vleis, vis en eiers

  

46. Moenie verpakte kouevleise koop nie – gaan na die deli en laat die koue vleis of worsies per gewig afmeet. Dis baie goedkoper en nie noodwendig swakker gehalte nie.

Tuisgemaakte pizza kan baie lekker wees.

47. Gebruik meer gereeld maalvleis pleks van tjops of ander individuele rooivleissnitte.

48. Eet meer hoender. Hoewel hoender ook maar duurder word, is die styging in die prys daarvan nie op die oomblik so hoog soos dié van beesvleis en vis nie.

49. Die “lekkerbeksnitte” soos skaaplende of beesfilet sal altyd duurder wees.

50. ’n Pakkie van vier tjoppies sal altyd per kilogram duurder wees as om byvoorbeeld ’n skaap-agterkwart te koop. Dis waarskynlik die langtermynbesparing werd om vleis in groter maat aan te koop, selfs al moet jy in ’n kisvrieskas belê.

51. Maak seker jy verstaan wat jy koop. Jy gaan meer betaal vir ’n organiese, grasgevoerde T-been wat 20 dae rypgemaak is of vir gemarineerde en spesiaal verpakte hoendersosaties.

52. Voeg lensies, bone, stampmielies, pasta of selfs hawermout by jou bredies of maalvleisgeregte sodat jy minder vleis gebruik. (Bone en stampmielies is wel op die oomblik baie duurder as ’n jaar gelede, maar dit bly goedkoper as vleis.)

53. Koop heel hoender pleks van hoenderstukke.

54. Gebruik die hoenderkarkas en dele wat jy nie eet nie, om hoenderaftreksel te maak vir gebruik in sop en bredies. Jy kan dit vries totdat jy dit nodig het.

55. Maak minstens een dag per week ’n vleis- en visvrye dag.

56. Maak gereeld ’n maaltyd van eiers – dis vullend en veelsydig en steeds goedkoper as vleis.

57. Blikkiesvis is van die goedkoopste soorte proteïen te koop. Soek ’n bietjie resepte waarmee jy dit kan aanwend vir lekker gesinsgeregte.

58. Vind uit of jou supermark of slagtery ooit vleis afmerk om voor die “verkoop-teen”-datum daarvan ontslae te raak. Sommige plekke merk vleis saans af.

  

Droë, gebakte en ander produkte

  

59. Koop blikkieskos en droë kos wat nie sleg word nie in grootmaat – maar vergelyk eers die prys per kilogram of liter om doodseker te maak die grootmaatprys is wel ’n besparing.

60. Eet minder snoepgoed soos koek, sjokolade, lekkers, roomys en aartappelskyfies. Jou skaal sal jou ook bedank.

61. Sny gaskoeldrank heeltemal uit. Indien jou gesin nie sonder koeldrank kán oorleef nie, vervang dit met aanmaakkoeldrank.

62. Moenie gebottelde water koop nie – kraanwater is heeltemal veilig en smaaklik in die meeste munisipaliteite die meeste van die tyd.

63. Koop bruinbrood pleks van witbrood of rolletjies.

Jy het nie boksies klaar gemengde meel en bakpoeier nodig om lekker koek te bak nie! Foto: Pixabay

64. Koop brood by die supermark se bakkery. Dit is merendeels goedkoper. Shoprite en Checkers verkoop byvoorbeeld nou al jare lank R5-brood, wat gesubsidieer is deur die supermarkgroep.

65. Moenie kitshawermout koop nie. Hawermout kan binne twee minute vinnig in die mikrogolf gaargemaak word, dis nie moeite nie en baie goedkoper.

66. Maak roosterbrood of geroosterde broodjies van brood wat nie meer heeltemal vars is nie, en maak broodkrummels of croutons van brood wat selfs ouer is. Vir croutons, sny in blokkies, meng ’n bietjie olie, sout en kruie of speserye daarby en bak in die oond. Croutons is heerlik by sop of in slaai.

67. Vind uit of jou supermark of bakkery gebakte produkte ooit afmerk (sommige bakkerye verkoop die vorige dag se gebak vroegoggend vir goedkoper om daarvan ontslae te raak).

68. Moenie klaargemengde pakkies bestanddele vir muffins, pannekoek of koek koop nie – dis baie duurder as om jou eie meel en kakao of wat ook al te meng.

69. Hou jou besteding aan drank dop. (Ons weet, jy kan nie op vlak 4 drank koop nie, maar jy sal gou weer kan.) Alkohol is duur. As jy minder drink, is dit goed vir jou gesondheid én jou sak!

70. Pak kos in as julle uitgaan vir die dag – niks soos ’n outydse piekniek met frikkadelle, gekookte eiers en toebroodjies nie! Selfs al sit jy pakkies lekkers, neute en koeldrank in wat jy by die supermark gekoop het, sal dit goedkoper wees as om versnaperinge by die vulstasie of padstal te koop.

71. Vra ekstra pakkies tamatiesous, sout, suiker of speserye as jy wel die dag kitskos bestel. Dis basies “verniet” en kan jou bottels souse of suiker langer laat hou.

  

Wanneer jy kosmaak

  

72. Maak net genoeg kos vir die gesin óf pak dadelik ’n bakkie kos uit vir die volgende dag se middagete by die werk óf vries oorskietkos dadelik. Oorskietkos word laataandpeuselkos of word uiteindelik in die vullisdrom uitgekrap as dit in die yskas vergeet word.

73. ’n Alternatief tot “geen oorskiet”: Verklaar een aand per week tot “oorskietaand” en raak van alle bietjies in die yskas ontslae. ’n Leser noem dit ook yskasleegmaak-aand – elkeen in die gesin eet wat hy/sy wil, en só kom die yskas leeg!

74. Skep en eet kleiner porsies, veral van vleis.

75. Pak áltyd vir jouself middagete in werk toe en vir jou kinders ’n kosblik skool toe sodat julle nie by die kafeteria of snoepie kos koop nie. Pak ook versnaperinge in. Dit verg net ’n klein bietjie beplanning en vyf minute vroeër opstaan in die oggend (of later gaan slaap die vorige aand).

76. Bêre kos wat eerste verval, vóór in jou yskas of koskas sodat dit eerste geëet word. Gaan die datums gereeld na.

77. As jy produkte in grootmaat koop (of groter as wat jy vir een maaltyd nodig het), verdeel en herverpak dit sodra jy by die huis kom in maaltydgrootte pakkies voordat jy dit vries of wegpak. Byvoorbeeld, as jy hoenderstukke in grootmaat koop, verdeel dit só dat jy een pakkie kan uithaal vir jou gesin as jy dit wil gaarmaak.

78. Maak jou eie slaaisous, tamatie-en-uiesmoor of ander souse. Dit het gewoonlik goedkoop bestanddele en is nie so moeilik om saam te slaan nie.

79. Bak jou eie, gesonde muffins pleks van koop. Bak sommer ’n groot baksel en vries die muffins individueel om werk toe te neem of vir die kinders in te pak skool toe.

80. Bak jou eie koek en tert vir spesiale geleenthede eerder as om dit klaar te koop. Komaan, almal kan ’n resep volg!

81. Baie resepte bevat heelwat meer suiker of olie as wat regtig nodig is. Byvoorbeeld, as jy beskuit bak, halveer die suiker – jy proe dit nie eens nie en dis baie gesonder.

Daar is geen skande aan ’n bring-en-braai nie. Jy kan nie elke keer die hele familie onthaal nie. Foto: Unsplash

82. Herontdek gewilde ou gunstelinge soos macaroni-en-kaas, bobotie en tamatiebredie.

83. Herontdek ou kookboeke soos Kook en Geniet, Huisgenoot se Wenresepte-reeks en ander – dit is op gesinne gemik en gebruik nie duur of luukse bestanddele nie.

84. Kook innoverend met kruie en speserye. ’n Mens eet minder van geurige kos en geniet dit meer. Kos met kerrie en rissies in is ideaal vir die winter – dit maak jou van binne warm én jy eet minder daarvan.

85. Lees resepte aanlyn, kyk kookprogramme of sluit by Facebook-groepies aan om innoverende idees te kry om jou spyskaart op te kikker, maar vervang duur bestanddele met goedkoper weergawes. Byvoorbeeld, vervang die salm of forel in ’n resep met gewone stokvis of die duur vleissnit met iets goedkoper.

86. As jy ongewone bestanddele wil koop vir ’n spesiale maaltyd, vergroot die res van die resep totdat jy al daardie bestanddele (soos ’n pakkie vars kruie) kan opgebruik. Dan vries jy die kos wat te veel is vir ’n volgende spesiale geleentheid.

87. Kitskos en restaurantetes is taboe as jy probeer geld spaar – of moet minstens tot die uiterste minimum beperk word. As jy gereeld kitskos koop, begin deur die getal kere te halveer.

88. Begroot afsonderlik vir kitskos en uiteet en selfs ook vir lekkergoed, koeldrank en drank sodat jy weet hoeveel van jou kosbesteding jy só gebruik. Dit sal jou dalk laat besef waarom jou kosbegroting nie maanduit haal nie.

89. As jy wel vir ’n spesiale geleentheid wil gaan uiteet (op die oomblik natuurlik onmoontlik onder vlak 4), gaan eet vir ontbyt of middagete uit, eerder as vir aandete. Maaltye is goedkoper en ’n mens drink minder.

90. Maak weer soos in die eerste vlak 5 van die inperking jou eie “kitskos” – bou ’n pizza of burgers of maak “wraps”. Dit kan lekker gesinspret wees.

91. As jy weet jy het ’n besige week voor jou, maak oor die naweek ’n paar geregte en vries dit – anders gaan die versoeking groot wees om kitskos te koop omdat jy moeg by die huis kom en nie lus is om kos te maak nie.

92. Marineer van die hoender of ander vleis nadat jy dit gekoop het en voordat jy dit vries, dan weet jy daar is ’n geurige maaltyd in die vrieskas wat vinnig in ’n lekker maaltyd omskep kan word vir die dae wanneer jy nie krag het vir kosmaak nie.

Bykomende bronne: EatingWell, WebMD, BuzzFeed, Health, MyMoneyCoach

Meer oor:  Spaarwenke  |  Kospryse  |  Kosprysinflasie  |  Spaar  |  Spaarmaand  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.