Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
#Spaarmaand: Hier is wenk 10 uit 31

Julie is Spaarmaand. Dit kan jou duur te staan kom as jy verstrooid of ongeërg oor alledaagse sleur is. Lees hier wat ons bedoel.

  

Hou jou vinger op die pols

    

tydbestuur, stophorlosie, horlosie
Sit elke maand tyd opsy om huishoudelike en administratiewe take te beplan en uit te voer. Dit kan jou op die duur baie geld bespaar. Foto: Pixabay
Dit is die storie van Jan en die boontjierank, behalwe dat dit nie eindig met ’n gans wat goue eiers lê nie.

Die saak staan so: My buurman het ’n pragtige Brasiliaanse peperboom aan sy kant van ons betongrensmuur geplant. Eendag kom ’n opslagtakkie aan my kant van die muur op – so ’n klein, onskuldige dingetjie.

Die volgende oggend toe staan daar ’n enorme boom, groter as die buurman se volgroeide peperboom. Die skaduwee wat hy gooi, is so erg dat ek dit moet laat afkap. Dit kos ’n man se dagloon vir twee dae, en die koste om die afgekapte boom te laat wegry. Kortom, ’n hele paar honderd rand.

Oukei, so die takkie het nie oornag ’n boom geword nie – en dis die punt van hierdie spaarwenk.

As jy nie jou vinger op die pols van jou huishouding en jou persoonlike lewe hou nie, kos dit jou geld. Ek sou die opslagtakkie gratis en verniet kon uittrek toe dit nog klein was.

Ons het almal Jan-en-die-boontjierank-staaltjies. Hier is ’n paar – kyk of jy jouself in een daarvan herken:

  • Jou rybewys moet elke vyf jaar hernu word. Jy stel uit en uit om in daai ry te gaan staan... en só verval dit. Indien jy dán om ’n rybewys aansoek doen, sal jy boonop eers vir ’n tydelike rybewys moet opdok. Dit kos dalk net R45 meer, maar dit is die prys van twee cappuccino’s of nagenoeg 30 km se petrol wat jy nou nie meer het nie. (Jy moet na regte minstens vier weke aansoek doen voor jou rybewys se vervaldatum. Agt weke is egter beter in die lig van die agterstande by die verkeersdepartement.)
  • Daar is ’n kepie so groot soos ’n speldekop in jou motor se voorruit weens ’n opslagklippie. Jy weet daarvan, maar jy is besig en jy ignoreer dit. Maar eendag begin die krakie groter en groter word – en uiteindelik moet jy die hele voorruit vervang. Die verskil tussen ’n kepie regmaak en ’n voorruit vervang? Meer as R500 – en die bybetaling op ’n voorruit is gewoonlik baie hoog, so dit gaan nie veel help om van die versekering te eis nie.
  • Jou twee jaar lange gimnasium-lidmaatskap, wat jy ieder geval nie gebruik nie, verval. As jy niks daaromtrent doen nie, word dit outomaties ’n maand-tot-maand-kontrak. En só hou jy net aan en aan betaal vir iets wat jy nie gebruik nie – of, as jy dit gebruik, dalk nie die ideale opsie vir jou is nie.
  • Jou selfoonkontrak van twee jaar verval. As jy nie opgradeer of die kontrak kanselleer nie, verander dit in ’n maand-tot-maand-kontrak met dieselfde hoeveelheid data, oproepe en SMS’e. Hoewel dié kontrakte dikwels goeie waarde vir geld bied, moet jy gaan kyk wat is beskikbaar in die mark wat jou sak en behoeftes die beste pas. Let op: Ons beveel juis nié aan dat jy ’n nuwe tweejaarkontrak vir ’n nuwe foon aangaan nie. Behou eerder jou selfoon vir so lank as wat dit werk en spaar honderde rande elke maand!
  • Jy teken in vir ’n gratis proeftydperk op ’n stromingsdiens soos Spotify of Netflix of ’n aanlyn koerant of tydskrif. Jy kom agter jy gebruik dit nie regtig nie, maar jy vergeet om dit te kanselleer, wat beteken dat die betalings begin afgaan. As jy dit gebruik en meen jy kry goeie waarde vir jou geld, is dit goed en wel, maar moenie net betaal omdat jy nie goed is met “admin” nie!
  • Jou belastingopgawe kan vanaf 1 Julie ingedien word. As jy die sleur daarvan vermy en dit laat indien, kan jy maar seker wees dat Jan Taks jou met minstens R250 gaan beboet vir elke maand wat jou opgawe laat is, en dan nog rente op daardie geld hef ook.
  • Jou sewe biblioteekboeke moet Saterdag ingegee of hernu word, maar jy weet klaar jy gaan vasbrand en vergeet om dit telefonies of elektronies te hernu. Voordat jy jou kom kry, is vier weke om en teen R1 per boek per week, skuld jy nou al R28... wat elke week met R7 toeneem.
  • Jy het jou motor gestamp, niks ernstigs nie en niemand anders is betrokke nie. Jy is verseker, maar jy kom net nie daarby uit om dit te laat regmaak nie. En só glip 30 dae verby... en nou weier jou versekeraar om die eis te betaal omdat jy dit nie binne die voorgeskrewe tyd aangemeld het nie. Derduisende rande wat jy uit jou eie sak sal moet opdok – want anders gaan daardie kol roes.

Al dié uitgawes – groot en klein – kan maklik voorkom word.

Beplan vir jou ’n “administratiewe dag” een keer per maand. Van die take kan jy aanlyn doen en dus ook saans of oor naweke, maar jy sal van tyd tot tyd ’n dag verlof moet insit om in rye te gaan staan. Dis die gemoedsrus en besparing werd.

Teken sommer nou belangrike datums aan, soos wanneer jou belastingopgawe ingedien moet word, wanneer jou motor se registrasie en jou rybewys verval, en wanneer selfoon- en ander kontrakte verval.

As jy ’n “papier”-dagboek gebruik, pleks van ’n elektroniese een, maak aantekeninge van belangrike datums vir 2020 op die laaste bladsye van vanjaar se dagboek en dra dit oor sodra jy ’n nuwe dagboek koop.

Meer oor:  Spaarwenke  |  Spaarmaand2019  |  Spaar  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.