Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
#Spaarmaand: Hier is wenk 11 uit 31

Julie is Spaarmaand. Het jy pas ’n verhoging of bevordering gekry of het jy ’n nuwe werk aanvaar met ’n baie beter salaris? Lees dan eers hier.

  

Oppas vir leefstylinflasie

  

As jy “opbeweeg” na ’n groter huis, moet jy onthou dat jy van voor af skuld maak. Daarby styg jou eiendomsbelasting, krag- en watertariewe, en moet jy meer vir onderhoud begroot. Foto: Pixabay

Jy het pas ’n verhoging gekry – of dalk nog net die briefie gekry wat sê wat jou verhoging gaan wees – en begin in jou kop reeds sommetjies maak hoe jy daardie baie welkome ekstra geldjie gaan bestee.

Dalk kan jy uiteindelik jou skedonk inruil vir ’n nuwe motor. Dalk kan jy nou bekostig om ’n slag te gaan uiteet. Dis hoeka hoogtyd vir ’n nuwe paar skoene . . .

En voordat jy kan sê “mes”, is jy weer presies in dieselfde bootjie as wat jy vóór jou verhoging was, naamlik meer maand as salaris, ’n stygende kredietkaartrekening, en niks meer geld in jou spaarrekening of beleggings nie, wat nog te sê meer geld in jou aftree-neseier.

Investopedia definieer leefstylinflasie (in Engels: lifestyle creep) as volg: “Leefstylinflasie gebeur as jou lewenspeil verbeter soos wat jou diskresionêre inkomste styg, en wat voorheen luukses was, nuwe noodsaaklikhede word . . .

“ ’n Kenmerk van leefstylinflasie is ’n verandering in denke en gedrag wat besteding op nie-noodsaaklike artikels as ’n reg beskou, eerder as ’n keuse. Dit kan gesien word in die houding teenoor bestedingsbesluite van ‘ek verdien dit’, eerder as wat jy dink aan die geleenthede wat dit kan bring as jy geld spaar.

“ ’n Manier om leefstylinflasie te beveg, is deur te begroot en te onderskei tussen begeertes en behoeftes wanneer jy aankope doen.”

In ’n artikel juis oor dié onderwerp op Forbes, skryf Camilo Maldonado oor die risiko’s: “Voordat jy dit besef, betaal jy vir ’n gim-lidmaatskap wat jy nie gebruik nie, ’n bakkie wat jy nie nodig het nie, en ’n huis wat te groot is.”

Lee Hancox van Sanlam Persoonlike Finansies sê wanneer jy ’n verhoging of bevordering kry, is dit ’n goeie idee om eers mooi te gaan sit en dink daaroor. “Wanneer jy beloon word met ’n swaarverdiende bevordering, het jy die geleentheid om positiewe veranderinge in jou lewe aan te bring wat dalk vantevore onbereikbaar was. Maar jy kan nie álles kry nie, so jy moet dalk ’n paar kompromisse aangaan en jou keuses versigtig opweeg om te verseker jy maak wyse keuses vir jouself en jou gesin.”

Jy kan jouself eindelik vaskeer in jou leefstyl. As jy aanhou ‘opgradeer’, moet jy aanhou om stygende skuldvlakke af te betaal.
Lee Hancox van Sanlam

Hy sê ook: “Herbesoek jou kort-, medium- en langtermyndoelwitte om te verseker dat enige bykomende besteding daarmee ooreenstem.”

Sy wenke sluit in:

  • Verstaan jou nuwe pakket: Voordat jy by die motorhandelaar of gimnasium instorm en jou verbind tot die koop van ’n nuwe motor of ’n tweejaarkontrak, maak seker jy weet presies hoeveel meer geld jy in jou sak gaan hê nadat belasting, pensioenbydraes en ander aftrekkings ook verhoog is.
  • Gebruik die geleentheid om jou finansiële posisie te versterk: Dis nou jou kans om jou skuld vinniger af te betaal, ’n noodfonds te skep of te vergroot en meer geld vir jou aftrede te spaar, sowel as kort- tot mediumtermyn-doelwittte te stel. “Só is die geld nie beskikbaar vir besteding nie en jy raak nie gewoond aan ekstra geld vir lekker dinge nie; jy is ook een stap nader aan finansiële gemoedsrus.”
  • Neem doelbewuste besluite om leefstylinflasie te vertraag: Probeer om al jou uitgawes onveranderd te hou, sê Hancox. “Hou aan om oplettend te wees wanneer jy inkopies doen. Hou aan om jou eie middagete in te pak . . . Moenie ’n tweede latté koop nie, al kan jy dit dalk nou makliker bekostig.”
  • Dink voordat jy meer skuld aangaan: Hancox sê jy kan in die versoeking kom om ’n nuwe, groter huis te koop, en jouself van voor af vir 20 jaar aan afbetalings te verbind. “Jy kan jouself eindelik vaskeer in jou leefstyl. As jy aanhou ‘opgradeer’, moet jy aanhou om stygende skuldvlakke af te betaal, wat beteken jy sal waarskynlik langer moet werk en potensieel minder hê om mee af te tree.”
  • Praat met jou gesin: Jou lewensmaat of gesin het dalk ander verwagtinge as jy oor die ekstra geld wat inkom. Maak seker almal verstaan wat jul langtermynplanne is.
  • Geniet die geld: ’n Klein bietjie leefstylinflasie is aanvaarbaar – veral indien jy finansieel verstandig is en al jou langtermynplanne op koers is.

“Deurdink net elke besluit,” sê Hancox. “As jy van ’n Fiat tot ’n Mercedes opbeweeg, gaan jy duurder bande en meer petrol ook moet betaal, sowel as ’n baie duurder onderhoudsplan. As jy ’n groter huis koop, moenie vergeet van die styging in munisipale tariewe en eiendomsbelasting, sowel as onderhoud, nie.”

Indien jy ’n groot aanpassing kry, is dit altyd ’n goeie plan om ’n finansiële beplanner te gaan sien en te praat oor enige tekortkominge in jou geldsake.

Meer oor:  Spaarwenke  |  Spaarmaand2019  |  Spaar  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.