Julie is Spaarmaand. Vandag se wenk is dat jy jou beursie by die huis los. Ons is ernstig.
Neem ’n blaaskans met besteding

Plaas jou beursie op ’n dieet - ’n tydperk van geen besteding. Foto: Pixabay
pixabay
Het jy al ooit jou beursie of bankkaarte by die huis vergeet? In ’n noodgeval kan dit nogal probleme oplewer, maar dalk is dit in Spaarmaand ’n goeie plan om ’n ooreenkoms met jouself aan te gaan om dit aspris te doen.
Noem dit ’n “bestedingsblaaskans” – ’n manier om te verseker dat jy nie in die versoeking kom om ’n sjokolade of dalk selfs ’n pakkie sigarette te koop omdat jy ’n moeilike werkdag beleef nie. Jy hét mos jou eie middagete ingepak, nè?
Jy kan dit as ’n uitdaging vir jouself stel: Hoeveel dae aaneenlopend kan jy dit regkry om geen geld te bestee nie? Dit gaan dalk ’n bietjie beplanning verg, maar as jy nie kafee toe hoef te ry om brood te gaan koop nie, bespaar jy die petrolgeld sowel as die bederfgoed wat jy in jou mandjie laai wat nié op die lysie was nie.
Het jy al ooit ’n naweek deurgegaan sonder om ’n sent te bestee? Dis glad nie onmoontlik nie!
En as jy dít eers baasgeraak het, wat van ’n hele week?