Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Spaarmaand: Koop slim klere met dié 20+ wenke

Jy kan elke dag pragtig lyk sonder dat jy elke maand ’n fortuin aan klere en skoene moet bestee. Hier is wenke vir klere-inkopies.

  

spaarmaand
Nee, liefs nie - ’n mens raak gou moeg vir ’n kledingstuk met patrone of blomme op. Foto: Unsplash
1. Hou by klassieke style en neutrale kleure

Kies ’n blou denim pleks van ’n perse, al is pers dalk vanjaar in die mode. Koop ’n wit of swart hemp eerder as ’n paisley- of blomhemp.

Jy kan klassieke style jou eie maak deur dit met bykomstighede op te kikker, maar as jy jou oorgee aan elke modegier, sal jy elke drie maande jou klerekas moet leegmaak en van voor af begin.

2. Dra iets heeltemal “op” voordat jy iets nuuts koop

’n Eenvoudige reël wat keer dat jou klerekas oorloop, is om geen nuwe kledingstuk te koop voordat een kledingstuk noodgedwonge moet aftree (vol gate, geskeur, verbleik of heeltemal uit vorm uit) nie. Dus, die totale aantal kledingstukke in jou kas moenie meer word nie.

LEES OOK: Spaarmaand: Byna 100 wenke om op kos te spaar

3. Vind die goue middeweg

Vind die goue middeweg tussen koste en gehalte. Ons het al almal goedkoop T-hemde gekoop wat krimp of vorm verloor in die eerste was. Aan die ander kant hoef ’n mens ook nie ’n plaas se geld aan ’n eenvoudige T-hemp te bestee nie. Êrens tussenin lê ’n goue middeweg – kledingstukke van billike gehalte wat nie buitensporig duur is nie.

4. Pas jou klere op

Net omdat ’n kledingstuk in die wasmasjien gewas kan word, beteken nie dit sal nie beskadig nie.

Probeer jou delikate klere, soos onderklere en klere met kant op, op ’n sagte wassiklus of was dit met die hand.

Stryk jou klere versigtig en help dit langer hou. Foto: Pixabay

Stryk klere op die regte temperatuur en hang klere wat kan rek, netjies op ’n hanger wanneer jy dit ophang om droog te word.

Laat klere self droog word wanneer moontlik; ’n tuimeldroër kan materiale beskadig.

Volg altyd die aanwysings op die etiket – dis daar vir ’n rede.

5. Was jou klere minder gereeld

Jy hoef regtig nie ’n denim elke keer te was nadat jy dit gedra het nie – en as jy ’n kledingstuk minder gereeld was, spaar jy boonop krag en water.

Levi beveel aan dat jy jou denim minstens tien keer dra voordat jy dit was of langer, totdat dit ’n klankie begin kry. Tussendeur kan jy vuil kolle met ’n warm waslap of ou tandeborsel en seep skoonmaak.

6. Ruil of leen klere

As jou vriendin, suster of selfs jou ma naby aan dieselfde grootte as jy is, kan julle mekaar se klere oorneem of leen – daar is dalk iets in haar kas waarvoor sy moeg is of wat te klein of te groot vir haar geword het.

LEES OOK: Spaarmaand: 50+ wenke om krag te bespaar

7. Besoek winkels vir gebruikte klere

Nie net arm mense besoek sogenaamde thrift shops nie! Daar is tientalle winkels wat sogenaamde vintage of “voorheen geliefde” klere verkoop teen veel minder as wat dit jou nuut sal kos.

8. Kikker jou klerekas op

As jy net ’n tikkie naaldvaardigheid en ’n strepie kreatiwiteit het, kan jy maklik ’n lang, wye romp in ’n mini omskep. Moue kan aangepas word, kant of lint kan bygevoeg of afgetorring word en krae kan kleiner of groter gemaak word.

Pinterest, Facebook en YouTube wemel van kreatiewe idees vir klere wat nog lank nie opgedra is nie.

9. Hou jou klerekas netjies

Dit help nie net die klere beskerm nie, dit beteken ook jy weet presies wat in jou klerekas is en sal nie impulsief iets koop waarvan jy dalk reeds iets soortgelyks het nie.

10. Moenie gaan klere koop voordat jy jou kas omgedop het nie

Moenie net winkel toe gaan op soek na “iets nuuts” of iets vir ’n spesiale geleentheid nie. Maak doodseker jy weet wat in jou kas hang – anders kom jy dalk by die huis met die soveelste blou hemp terwyl daar al vyf in jou kas hang.

11. Maak ’n lysie

Jy gaan nie kos koop sonder ’n lysie nie en dieselfde geld klere. Maak ’n lysie van wat jy nodig het en hou daarby.

As jy aan die begin van die seisoen ’n lysie het, kan jy boonop op die uitkyk wees vir uitverkopings van daardie items.

As jy byvoorbeeld weet jou swembroek het in Desember sy laaste dae gesien, sal uitverkopings of spesiale aanbiedings lank voor die volgende somer jou baat.

LEES OOK: Spaarmaand: 30+ wenke om bankkoste te sny

12. Hou by jou begroting

Moenie omdat jy moontlik ’n klererekening het, meer op klere bestee as wat jy gemaklik kan terugbetaal nie. Klere behoort nie elke maand deel te wees van jou begroting nie, en wanneer dit is, moet jy realisties wees oor hoeveel jy kan bekostig.

13. Koop klere wat jou nóú pas

inkopies
Net omdat dit 50% minder kos, beteken nie jy spaar as jy dit koop nie! Foto: Unsplash

Moenie klere koop wat ’n paar nommers te klein is in die hoop dat dit jou sal motiveer om gewig te verloor nie. Moet ook nie klere koop wat te los sit en dink jy sal dit (laat) kleiner maak nie. As jy daardie te klein bloes koop en wel daarin slaag om gewig te verloor, vind jy dalk uit dat dit nie so mooi aan jou sit soos wat jy gedroom het nie, en as jy nié gewig verloor nie, gaan jy dit ook nie dra nie.

14. Wees versigtig vir uitverkopings

Daardie halfpryskledingstuk is slegs ’n winskopie indien jy dit wérklik nodig het. ’n Mens is geneig om twee items te koop as jy weet die een is regtig goedkoop – só het jy dan absoluut niks bespaar nie. 

15. Oppas as jy aanlyn koop

Dis moeiliker om klere aanlyn te koop, juis omdat groottes so verskil. Hier is enkele wenke:

  • Neem jou mates ordentlik en gebruik enige aanduiding van groottes wat aangegee word, eerder as om by elke kleinhandelaar ’n nr. 14 te koop.
  • Kyk maar goed na prentjies om ’n indruk te probeer kry na die styl en die soort materiaal; teen dié tyd weet jy al wat by jou sal werk en wat nié.
  • Maak seker jy weet hoe afleweringskoste werk – bo ’n sekere bedrag is aflewering gewoonlik verniet, maar dit help nie as jy meer klere koop net om tot daardie bedrag te kom en jy bestee méér as wat die afleweringskoste sou gewees het nie.
  • Maak seker jy verstaan die inruilbeleid voordat jy koop, insluitend hoe gou jy moet aandui jy wil ’n kledingstuk teruggee.

16. Gebruik jou lojaliteitspunte slim

Indien jy lid is van ’n klerewinkel se beloningsklub of ’n lojaliteitskaart het, maak seker jy gebruik jou punte voordat dit verval – maar slegs indien jy wel iets nodig het. Laat maar daardie 40 punte verval as jy regtig nie klere nodig het voordat dit verval nie! Oppas vir daardie koop-nog-hierdie-naweek-aanbiedinge – die punte is nie die geld werd wat jy bykomend gaan bestee nie!

17. Koop stukke wat bymekaar pas

As jy weet wat in jou klerekas is, sal dit makliker wees om te besluit hoe jy kan meng en pas. Moenie ’n kledingstuk koop wat by niks sal werk nie. Maak seker jy kan jou langbroeke en bostukke meng en pas – dit is waarom effekleure soveel makliker is as bont klere.

18. Oppas vir deftige klere

Om ’n balrok vir slegs een geleentheid te koop of laat maak, is ’n baie duur vermorsing. Huur ’n rok of pak as jy seker is dat jy dit nooit weer sal kan dra nie.

As jy gereeld na aandgesellighede of troues moet gaan, belê in ’n klassieke swart rok wat jy met bykomstighede (skoene, juweliersware, serpe) kan opkikker. Tensy jy ’n glanspersoonlikheid is, gaan niemand jou veroordeel dat jy dieselfde uitrusting twee of meer keer dra nie!

19. Gebruik modetydskrifte of -webwerwe tot jou voordeel

Moenie modetydskrifte of -webwerwe met begerige oë beloer nie. Gebruik eerder dít wat jy sien as ’n rigtingwyser vir watter enkele item jy elke seisoen kan koop wat jou klerekas sal verfris sonder dat dit ’n fortuin kos. Jy kan ook kyk watter soort patrone of materiale in die mode is en dan ’n paar sentimeter lap in so ’n styl by ’n materiaalwinkel gaan koop vir ’n serp.

20. Vra vir klere as geskenk

As jy regtig baie lief is vir nuwe klere, vra jou vriende of familielede om vir jou klere vir jou verjaardag of vir Kersfees te koop of om geskenkbewyse vir jou gunsteling-klerewinkel of -winkelsentrum te gee wat jy dan self bymekaar kan sit vir ’n kledingstuk of twee.

21. Moenie die duurste oefenklere koop nie

Dis baie maklik om ’n fortuin op handelsnaam-oefenklere te bestee. Dink mooi voordat jy dit doen – daar is oefenklere van goeie gehalte by billike klerewinkels te koop, en as jy pas begin oefen, is ’n T-hemp en sweetpakbroek meer as voldoende.

Jy sweet net soveel, maak nie saak wat jy dra nie!

’n Moontlike uitsondering is die regte skoene vir die taak. Goeie draftekkies is peperduur, maar dis nogal belangrik om beserings te voorkom.

22. Oppas vir oorbesteding aan onderklere

Daar is pragtige onderklere vir vroue in die winkels, maar daardie kantnommertjies kom teen ’n stewige prys. Een of twee sulke kledingstukke doen wondere vir die gemoed (en dalk die liefdeslewe), maar vir alledaagse gebruik kan jy billiker, praktieser onderklere sonder tierlantyntjies koop.

23. Hou dop wat jy vir die kinders koop

Dit help nie jy skeep jouself af, maar bestee honderde rande aan oulike kleertjies vir jou kinders nie. Foto: iStock

Jy spaar dalk heel mooi op klere vir jouself, maar sukkel om die versoeking vir mooi baba- of kinderklere te weerstaan. Hou maar by praktiese klere van redelike gehalte wat sal hou totdat jou baba of kind dit ontgroei het. Moenie te veel klere vir jou kinders koop nie.

24. Soek 3 redes

Gee vir jouself drie redes waarom jy ’n sekere artikel wil koop. “Ek wil dit hê” mag slegs een van die drie redes wees. Jy kan ook probeer dink aan drie geleenthede waarop jy dit kan dra as dit nie iets is wat by die werk sal “werk” nie.

Meer oor:  Spaarwenke  |  Klere  |  Spaar  |  Spaarmaand  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.