Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Spaarmaand: Verseker só jou motor vir minder

Motorversekering is seker die duurste korttermynversekering wat die meeste mense het. Hier is wenke om op dié uitgawe te besnoei.

Julie is Spaarmaand en dié week takel ons die onderwerp van versekering in verskeie artikels.

LEES OOK: Spaarmaand: Spaar op versekering, maar oppas

Net met omvattende versekering is jy verseker as jou motor in ’n ongeluk beskadig word. Foto: Pixabay
1. Moenie net jou motorversekering kanselleer nie

Dis nie wetlik verpligtend om motorversekering te hê nie. As jy jou motor deur ’n bank finansier, dring hulle wel op versekering aan.

In die lig daarvan dat daar meer as miljoen padongelukke per jaar in die land is, en gegewe dat min mense hul motor sommer uit hul gatsak kan vervang as dit gesteel of afgeskryf word, is motorversekering ’n noodsaaklike euwel.

Veral as jy op jou motor staat maak om by die werk te kom of om werk te soek, is dit nie ’n goeie plan om te bespaar deur alle versekering daarop te kanselleer nie.

Neem ook in ag dat jy aanspreeklik is vir die skade aan iemand anders se voertuig as jy ’n ongeluk veroorsaak. Versekering dek nie net die koste van jou motor nie, maar ook van die ander partye s’n.

2. Verseker jou motor teen die markwaarde

Motors word teen hul boekie- óf hul markwaarde verseker. Sommige versekeraars laat jou kies.

Boekiewaarde is die gemiddelde prys wat ’n motorhandelaar vir jou motor sal betaal en markwaarde is dít wat motorhandelaars vir die motor sal vra. Markwaarde is dus die hoër waarde en min of meer wat jy vir dieselfde motor sal betaal as joune gesteel of afgeskryf word – dis beter om jou motor teen markwaarde te verseker, al is die premie effens hoër.

3. Maak seker die markwaarde daal jaarliks

Maak seker jou ouer voertuig is nie oorverseker nie en sorg dat die depresiasie van die voertuig in ag geneem word. Dit beteken jou motor se premie behoort mettertyd te daal.

4. Parkeer jou motor veilig

Jou verskeringspremie op jou motor sal skerp daal indien jy die motor snags in ’n motorhuis of minstens agter ’n veiligheidshek parkeer. Jou versekeraar wil ook weet waar jou motor bedags geparkeer is – jou premie sal laer wees as dit in ’n parkeerterrein met toegangsbeheer is eerder as op straat.

5. Verseker die persoon wat wérklik bestuur

Moenie jok oor wie die gereelde bestuurder van jou versekerde motors is net om ’n goedkoper premie te beding nie. Jy weet goed die premie gaan hoër wees as jou kind van jonger as 25 jaar die motor bestuur, maar as jy jouself of jou vrou as die gereelde bestuurder aandui en die versekering ruik lont, kan ’n eis geweier word.

Onthou dat die versekering jou bure of familielede mag vra wie ’n motor gereeld bestuur of op sosiale media kan kyk. ’n Pragfoto van hoe die motorhandelaar die sleutels van ’n nuwe motor aan jou dogter oorhandig, sal vrae laat ontstaan as jy as die gereelde bestuurder aangedui word!

6. Verseker jou motor vir die doelwit waarvoor jy dit gebruik

Motors word vir een van drie gebruike verseker: private gebruik, sakedoeleindes of kommersiële gebruik. Jy betaal meer vir sake- en kommersiële gebruik omdat die veronderstelling is dat jy meer op die pad is.

As jy jou motor vir private gebruik verseker en dan ’n ongeluk maak op pad na ’n werkverwante afspraak, mag die eis geweier word.

Volgens die ombud vir korttermynversekering sluit voorbeelde van sakegebruik in:

  • Vergaderings op enige ander plek as by jou kantoor;
  • Opleiding, konferensies, spanbou- of netwerkgeleenthede; en
  • As jy bank of Poskantoor toe ry vir sakeverwante transaksies.

Om soggens werk toe te ry, is private gebruik van jou motor.

7. Moenie roekeloos bestuur nie

’n Eis sal nie noodwendig geweier word as jy vinniger as die spoedgrens ry nie, maar al hoe meer versekeraars probeer bewys dat mense wat gejaag het, roekeloos was.

8. Moenie onder die invloed bestuur nie

Indien bewys kan word dat jy onder die invloed van drank of dwelmmiddels bestuur het, wat teen die wet is, sal jou versekeringseis geweier word.

As bevind word jy was dronk toe jy ’n ongeluk gemaak het, sal jou versekeraar nie uitbetaal nie.

Onthou, as jy van ’n misdaad aangekla word weens die ongeluk, moet die staat bo alle redelike twyfel bewys jy was dronk. Jou versekeraar hoef egter slegs op ’n oorwig van waarskynlikheid te bewys dat jy dronk was, sê die ombud vir korttermynversekering.

Die versekeraar hoef dus nie ’n bloed- of blaastoets op jou te laat doen nie. Iemand op die toneel, insluitend paramedici of ooggetuies, of hospitaalpersoneel kan gevra word om te getuig of jy dronk voorgekom het. Mense wat weet waar jy voor die ongeluk was (jou vriende, kollegas of die restaurantpersoneel) sal ook gevra word of jy alkohol ingeneem het en as dit ’n restaurant was, mag kringtelevisiebeeldmateriaal ook ingespan word of ’n restaurantrekening kan selfs nagegaan word.

Wat dagga betref, die konstitusionele hof het in 2018 bevind dis nie ’n misdaad om dagga in jou eie huis te gebruik nie. Wetgewing wat dit wettig (eerder as net dekriminaliseer) moet nog afgehandel word, maar vir motoriste is dit belangrik om in ag te neem daar word geen verandering voorsien aan wetgewing oor bestuur onder die invloed van dagga nie.

9. Hou jou motor in stand

As jy ’n ongeluk maak met ’n voertuig met afgeloopte bande of een wat op ’n ander manier onpadwaardig is, kan jy nie vir jou versekeraar kwaad wees as hy nie uitbetaal nie.

Hier is ’n kontrolelys van dinge wat te alle tye reg moet wees:

  • Alle ligte
  • Ruitveërs
  • Batteryklampe
  • Bande (minstens 1 mm loopoppervlak, ook op die spaarband)
  • Remme
  • Identifikasie en papierwerk
  • Elektriese stelsels
  • Spieëls
  • Veiligheidsgordels
  • Onderstel
  • Vering
  • Stuurwiel
  • Enjin
  • Uitlaatstelsel
  • Instrumente

10. Maak seker jy is nie onwetend dubbeld verseker nie

Het jou motorversekering ’n bystand- of wegsleepdiens? Dan het jy seker nie jou jaarlikse AA-lidmaatskap nodig nie – of andersom, as jy AA-lidmaatskap het, moenie ekstra betaal vir insleep- of bystanddienste nie.

11. Beveilig jou motor

’n Alarm en opsporingstelsel sal jou premie verlaag.

12. Kanselleer ekstras

Motorversekering kom met baie “ekstras” wat dalk nie nodig is nie – soos dekking teen skrape, ’n huurmotor as jou motor beskadig word en dekking vir instandhouding. As jy dit laat vaar, behoort jou premie heelwat te daal.

13. Verminder jou dekking

Daar is drie oorhoofse pakkette vir motorversekering. Hier is elkeen en wat gedek word.

  • Omvattende dekking: Dit dek jou teen diefstal, kaping en skade weens ’n ongeluk, brand of natuurramp, asook derdeparty-versekering (skade aan ’n ander voertuig).
  • Derdeparty-, brand- en diefstaldekking: Dit dek jou vir diefstal en kaping en vir derdeparty-versekering, maar nie as jou motor in ’n ongeluk, brand of natuurramp beskadig word nie.
  • Derdeparty-versekering: Dit dek slegs die skade aan ander partye se voertuie.

As jy finansiële probleme beleef, kan jy dit oorweeg om jou omvattende dekking af te gradeer, maar dan moet jy besef dat jy nie in die geval van ongelukke – wat baie algemeen is – gedek is nie.

As jy ’n ou motor met ’n lae markwaarde ry, is dit meer sinvol om die dekking teen diefstal of ongelukke te kanselleer as wanneer jy ’n peperduur motor ry.

14. Koop slim

Sekere motors is duurder om te verseker omdat hulle gewild is onder boewe. Hoe groter jou motor se enjin, hoe duurder is versekering. Selfs die soort verf kan ook die premie beïnvloed. Doen jou navorsing hieroor voordat jy ’n nuwe motor koop.

Vind uit watter motors die duurste is om te verseker. Hoe groter die enjin, hoe duurder die versekering. Foto: iStock
15. Leer beter bestuur

Belê in ’n gevorderde bestuurskursus – dit sal jou premie, sowel as die kans dat jy ’n ongeluk maak, verlaag.

16. Moenie jou motor dokter nie

Enige aanpassings aan jou motor wat dit vinniger maak, sal die premie laat styg. Moet ook nie peuter en dit nié aan jou versekeraar verklaar nie; dit sal dekking ongeldig maak.

17. Verlaag jou bybetaling

Struktureer jou bybetaling om jou behoeftes te pas. Hoe hoër die bybetaling, hoe laer die premie. Maak seker daar is geld in jou noodfonds wat die bybetaling sal dek.

18. Tree reg op ná ’n ongeluk

Moenie die toneel van ’n ongeluk verlaat nie. Daar is dikwels ’n klousule in jou versekeringskontrak dat die eis verwerp kan word as jy onwettig die toneel verlaat. Volgens wet moet jy stop:

  • Om vas te stel of iemand beseer is en daardie persoon by te staan as jy kan;
  • Om vas te stel wat die skade is; en
  • Om die besonderhede van die betrokkenes te kry.

As dit ’n groot ongeluk is, moet dit dadelik aangemeld word, andersins moet dit binne 24 uur by die naaste polisiekantoor aangemeld word, tensy jy sodanig beseer is dat jy dit nie kan doen nie.

Meer oor:  Spaarwenke  |  Korttermynversekering  |  Versekering  |  Motorversekering  |  Spaar  |  Spaarmaand  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.