Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Spertyd vir belasting: 1,5 m. swyg nog

Met net drie dae oor om betyds belastingopgawes in te dien, het 1,5 miljoen mense wat inkomstebelasting moet betaal nog nie hul opgawes ingedien nie.

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.Foto: freddy mavunda

Nie-voorlopige belastingbetalers wat opgawes elektronies indien via die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se eFiling- of MobiApp- digitale platforms, het tyd tot Woensdag 4 Desember.

Voorlopige belastingbetalers het tot 31 Januarie om deur eFiling belasting in te dien, maar die belastingseisoen vir individuele belastingpligtiges wat hul opgawes by SAID-takke wou indien, het al op 31 Oktober gesluit.

Teen middel November is 3,88 miljoen persoonlike inkomstebelastingopgawes by takke en via digitale platforms ingedien. Dit sluit opgawes vir die huidige en vorige jare in, sê die SAID.

Dit het intussen gestyg tot sowat 4 miljoen, het Fareed Khan, hoof van belastingnakoming, Woensdag in ’n radio-onderhoud op CapeTalk gesê.

Boetes vir die laat indiening van belastingopgawes kan wissel tussen R250 en R16 000 per maand.

Volgens hom dink baie mense dié syfers beteken net 4 miljoen mense in die land betaal belasting, maar die volgende belastingbetalers hoef nie opgawes in te dien nie: belastingbetalers wat minder as R500 000 vir die jaar verdien, slegs een werkgewer het en geen ander vorm van inkomste het nie (byvoorbeeld motortoelaag, sake- of huurinkomste, belasbare rente of inkomste uit ’n ander betrekking) en geen bykomende toelaatbare belasting-verwante aftrekkings het om te eis nie (soos mediese uitgawes of uittree-annuïteitbydraes).

In 2017 het sowat 6,4 miljoen individuele belastingpligtiges opgawes ingedien.

Op grond van historiese data en vooruitskattings kan die SAID bepaal dat daar nog sowat 1,5 miljoen mense is wat opgawes behoort in te dien, maar dit nog nie gedoen nie.

Die SAID sê hy het vanjaar uit sy pad gegaan om dit so maklik moontlik vir belastingbetalers te maak om hul belastingverpligting na te kom deur onder meer die digitale platforms te verbeter.

Khan sê individuele belastingbetalers sal belastingterugbetalings binne 72 uur ontvang, baie BTW-terugbetalings geskied binne 11 dae en klagtes deur sakeondernemings het sedert verlede jaar met sowat 85% gedaal.

Edward Kieswetter, wat in Mei die leisels by die beleërde SAID oorgeneem het, benadruk deurentyd dat die SAID in ’n fase van heropbou is, maar dat dit ’n lang pad is, omdat die Inkomstediens benadeel is deur staatskaping.

In een van die peilings wat die SAID die laaste paar jaar onder Suid-Afrikaanse belastingbetalers gedoen het, moes landsburgers aandui wie hulle eerste sal betaal uit ’n keuse van vier. Daarin het 43% gesê die SAID, 39% hul munisipale rekening, 15% hul kleinhandelaar-rekening en 4% het gesê e-tol.

In die tyd van Tom Moyane, voormalige kommissaris, het al hoe meer belastingbetalers van ’n belastingrevolusie gepraat om die regering te dwing om belastingbetalersgeld oordeelkundig te gebruik of wettige maniere probeer vind om so min moontlik belasting te betaal. Die SAID het gevolglik die laaste paar jaar telkens sy inkomste-insamelingsteiken gemis en in die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober het Tito Mboweni, minister van finansies, die teiken vir die jaar met R53 miljard (of 4%) afwaarts aangepas tot R1 370 miljard.

Die SAID waarsku dat belastingbetalers wat die spertyd vir indiening mis, administratiewe boetes opgelê sal word vir elke maand wat die opgawe uitstaande is. Die nie-indiening van opgawes is ’n strafregtelike oortreding.

Khan sê boetes kan wissel tussen R250 en R16 000 per maand.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.