Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Stel só ’n blywende finansiële plan op

Covid-19 was die perfekte storm om persoonlike finansiële beplanning in die war te stuur. Met die JSE wat in die middel van Maart 2020 ’n laagtepunt bereik het en die S&P 500 wat binne 30 dae tot 36% getuimel het, het dit nie gelyk asof herstel vinnig sou kom nie.

Jou finansiële plan verander soos jou lewe verander, maar daarsonder gaan jy vasbrand. Foto: iStock

Maar terwyl Suid-Afrikaanse beleggers na veiligheid gevlug het, het die JSE ’n rekordlopie beleef. ’n Jaar later was die indeks van alle aandele ’n verstommende 75% hoër, volgens die Vereniging vir Spaar en Belegging Suid-Afrika (Asisa).

Statistieke wat dié vereniging aan die einde van Mei 2021 uitgereik het, toon dat beleggers in 2020 in rentedraende instrumente belê het eerder as aandele. Só het hulle die sterk herstel in die aandelemark misgeloop.

Dié data strook ook met die bevindings van ’n ontleding wat Momentum ’n maand tevore uitgereik het oor beleggers se gedrag voor en tydens die markineenstorting van 2020 weens die Covid-19-pandemie.

Volgens Paul Nixon, Momentum Investments se hoof van beleggersgedrags­wetenskap, het beleggers op dieselfde paniekerige manier gereageer as wat ons met vorige finansiële krisisse gesien het.

“Die verskil is net dat beleggers met die markineenstorting wat Covid-19 meegebring het, meer waarde vernietig het en die rede daarvoor is dat markte so vinnig weer herstel het.”

Terwyl die land die afgelope week gesteier het onder politieke oproer wat miljarde se skade veroorsaak het en die rand laat tuimel het, en terwyl niemand weet wat die volgende krisis sal wees nie, maan kenners dis belangrik om ’n blywende langtermyn- finansiële plan op te stel wat jou ook in tye van groot onsekerheid op koers hou om jou finansiële doelwitte te bereik.

Om spaargeld beskikbaar te hê, kan keer dat jy rampspoedige finansiële besluite neem soos om jou aftreebelegging te laat uitbetaal of om lenings teen hoë rentekoerse uit te neem wat jou selfs slegter daaraan toe laat as voorheen.

Daar is ’n paar algemene finansiële doelwitte waarna die meeste mense streef, soos om eendag af te tree met genoeg geld om jou lewenskoste te dek, of om jou kinders die beste moontlike opleiding te kan gee.

Dan is daar ook kleiner doelwitte, soos om geld weg te sit vir ’n nuwe motor, ’n oorsese vakansie of ’n skootrekenaar.

Afgesien van die rede waarom jy geld belê, is dit belangrik om uit die staanspoor te identifiseer hoeveel jy moet spaar om jou doelwit te bereik en hoe jy dit gaan regkry. Dit word soms finansiële geletterdheid genoem, en dis noodsaaklik om die grondbeginsels hiervan te verstaan, sê Sheldon Friedericksen, finansiële hoof van die Suid-Afrikaanse finansiële dienstegroep Fedgroup.

“Dit wys die rigting aan in die immer veranderende finansiële landskap, help dat jy risiko’s doeltreffender bestuur en kan jou uit potensiële slaggate hou.”

Heelwat van ons finansiële welvaart hang af van die keuses wat ons daagliks oor ons geldsake maak, hetsy dit die opstel van ’n begroting is, hoeveel geld om vir noodgevalle opsy te sit of watter finansiële instrumente ons gebruik om vir ons oudag te spaar, sê Buhle Langa, gesertifiseerde finansiële beplanner by Alexander Forbes.

Jou finansiële plan sal verander soos wat jy verskillende stadiums van jou lewe betree, dit kan nie net liniêr bly nie.

“Om ’n finansiële plan op te stel, is die volgende stap wanneer jy jou doelwitte bepaal het. Jou finansiële plan sal verander soos wat jy verskillende stadiums van jou lewe betree, dit kan nie net liniêr bly nie.”

Langa pleit dat beleggers voortdurend in gedagte hou waarheen hulle op pad is met hul beleggingsplanne en as hulle dalk tydens die pandemie opgehou spaar het, weer maniere moet vind om dit te hervat.

“Om spaargeld beskikbaar te hê, kan keer dat jy rampspoedige finansiële besluite neem soos om jou aftreebelegging te laat uitbetaal of om lenings teen hoë rentekoerse uit te neem wat jou selfs slegter daaraan toe laat as voorheen.”

Charlie Munger, die beleggingsghoeroe Warren Buffett se regterhand, het op ’n keer gesê die eerste reël van die samestelling van opbrengste is om dit nooit onnodig te onderbreek nie.

’n Eenvoudige som illustreer hierdie beginsel. As jy 25 jaar oud is en jy spaar vir 40 jaar lank maandeliks R500 teen ’n rentekoers van 10% per jaar, sal jy R3 188 390 hê wanneer jy 65 is. As jy 45 is en jy spaar 20 jaar lank maandeliks R1 000, teen dieselfde opbrengs, sal jy net R765 697 hê teen die tyd dat jy 65 is. Die kernboodskap is: Begin net weer spaar, maak nie saak hoe min nie. Dit sal oor tyd begin vaart kry.

Kry kundige hulp as jy wankel.

Die doel met enige belegging is om jou kapitaal te beskerm en dan om dit te laat groei. Om dit reg te kry, moet jy beplan hoe jy jou geld gaan belê, met inagneming van hoeveel beleggingsrisiko jy wil neem om dit te laat groei.

Die hoogte- en laagtepunte in die mark kan beperk word met ’n goed gediversifiseerde portefeulje wat op lang termyn gehou word. Dis net hier waar ’n gesertifiseerde finansiële beplanner wat die markte noulettend volg sy sout werd is.

So ’n kundige help om jou beleggingsdoelwitte te bereik deur nugter te besluit wanneer markte onstuimig raak. Nog ’n voordeel is dat jy leer om goeie finansiële gewoontes onder die wakende oog van ’n kenner te handhaaf.

“Ons sien dikwels dat kliënte eenvoudig nie die struikelblokke kan identifiseer wat in die pad van hul finansiële doelwitte staan nie en hulle weet ook nie hoe om dit reg te stel nie,” sê Mark Hawes, gesertifiseerde finansiële beplanner by Alexander Forbes.

Die gevolg is dat jou finansiële posisie agteruitboer soos die jare aanstap.

“Deur ’n professionele diens te gebruik om deurlopend jou finansiële uitkomste te verbeter, kry jy ook ’n beter insig in jou eie welvaart en begin jy die soort besluite vermy wat dit in gevaar kan stel.”

Markte wat tuimel, politieke lawaai en “swart swaan-gebeurtenisse” wat uit die bloute op ons neerdaal, is niks nuuts nie. Dit gebeur gereeld. Net so gereeld herstel markte weer van dié skokke.

Die geskiedenis toon dat finansiële markte geneig is om nie net van hul laagtepunte te herstel ná ’n ineenstorting nie, maar gewoonlik ook ’n nuwe hoogtepunt bereik.

Die goue reël om skade aan jou belegging te vermy, sê Nixon, is om nie vir jouself te sê dié keer is dit anders nie. “As jou beleggingsdoelwitte nie verander het nie, moet jou planne om daardie doelwitte te bereik, ook nie verander nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.