Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Meer eis vir hartaanvalle, psigiatriese redes
Old Mutual betaal baie meer eise uit vir hartaanvalle.

Lewensversekeringseise van Old Mutual vir onder meer hartaanvalle en psigiatriese ongeskiktheid het beduidend in 2019 gestyg en die lewensversekeraar is bekommerd oor wat dit vir 2020 impliseer.

Old Mutual het Donderdag sy jongste verslag oor lewensversekeringseise vir 2019 uitgereik.

Luidens die verslag het eise vir sterftes weens hartaanvalle sedert 2016 met 113% toegeneem. Die styging het veroorsaak dat dit van die laagste rede vir eise op grond van die “groot vier”-toestande – kanker, hartaanvalle, beroertes en hartvatomleidings – tot die tweede grootste gespring het.

Uit die eise vir ongeskiktheid kom nog ’n kommerwekkende tendens na vore: Psigiatriese ongeskiktheid neem drasties onder volwassenes tussen die ouderdom van 30 en 50 toe.

Uit alle eise vir ongeskiktheid was psigiatriese siektes verantwoordelik vir 11% van die R561 miljoen wat in 2019 uitbetaal is.

Dit is ’n noemenswaardige styging van 59% sedert 2016, sê die versekeraar.

“Die toename in eise vir psigiatriese siektes het reeds voor die koronaviruspandemie gebeur, en dit is dus baie waarskynlik dat geestesgesondheidtoestande selfs meer weens Covid-19-verwante stres sal toeneem,” sê John Kotze, hoof van dekking van Old Mutual.

Kotze is ook besorg oor nog ’n stres-verwante siekte: hartaanvalle. Die verwagting is dat hierdie twee toestande noemenswaardig weens die pandemie gaan toeneem.

Old Mutual het altesame R5,33 miljard se lewensversekeringseise in 2019 uitbetaal.

Uit die totale aansoeke is 97% goedgekeur.

Eise vir sterftes

Die grootste deel van die eise wat uitbetaal is, was vir sterftevoordele, naamlik R4,02 miljard.

Die topeise was:

  • Kanker: 23%
  • Kardiovaskulêre siektes: 23%
  • Dood weens ongelukke: 22%

Uit ongeluksterftes was 61% weens motorongelukke, 16% weens skietongelukke en 14% weens misdaad en geweld.

Uit alle eise vir sterftes was 55% vir mans met ’n gemiddelde ouderdom van 56.

25% van alle eise wat nie uitbetaal is nie, was weens die uitsluiting van dekking vir selfdood.

Ongeskiktheid

R561 miljoen is vir ongeskiktheidseise uitbetaal, met 89% van die eise wat goedgekeur is.

Inkomstevervangingseise is hoofsaaklik uitbetaal weens spier- en beensiektes, wat 31% van hierdie eise behels het.

Vir eenmalige uitbetalings was die hoofrede versteurings van die sentrale senuweestelsel wat 23% van eise verteenwoordig het.

Uit alle eise vir ongeskiktheid was 57% mans met ’n gemiddelde ouderdom van 48.

Die gemiddelde ouderdom van vroue aan wie eise uitbetaal is, was 45.

In dié kategorie is 11% van eise afgekeur. Old Mutual sê die hoofrede vir die afkeuring was omdat die spesifieke ongeskiktheid nie deur die polis gedek is nie.

Kotze maan verbruikers dus dat hulle hul dekking moet verstaan en seker maak hulle kies die regte polis om voorsiening vir enige uitkoms te maak.

Meer oor:  Old Mutual  |  Hartaanvalle  |  Versekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.