Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Talle ontevrede met Discovery Life, Liberty

Veral twee bekende lewensversekeraars het baie ontevrede kliënte wat nie bereid is om hul polisse en dienste aan te beveel nie, en het ook nie ’n goeie woord om oor hulle te sê nie.

Discovery Life en Liberty is nie baie gewild onder hulle lede nie. Grafika: Pixabay

Die jaarlikse peiling van verbruikerstevredenheid onder lewensversekeraars wat deur die marknavorser Consulta uitgevoer is, toon Discovery Life en Liberty het die minste lojale en meeste ontevrede kliënte.

Metropolitan en 1Life het die mees lojale kliënte, gevolg deur FNB Life.

In geheel het Metropolitan, Standard Bank, FNB Life en 1Life Insurance die beste tellings ten opsigte van verbruikerstevredenheid gekry.

Discovery Life en Liberty is ver onder die bedryfsgemiddeld.

Discovery se prestasie daal al die afgelope drie jaar.

Albei het in die jongste peiling tot hul laagste telling sedert 2016 gedaal.

Die verwagtinge van verbruikers oor waargenome gehalte en waarde, klagtes en lojaliteit word in die peiling gemeet.

Aanbeveel

Vir hoe waarskynlik dit is dat iemand ’n bepaalde lewensversekeraar sal aanbeveel, het Metropolitan ook die hoogste persentasie van 53,4% behaal.

Die bedryfsgemiddeld is 33,9%.

Discovery Life (7%) gevolg deur Liberty (20,9%) het die swakste gevaar.

“Discovery het ’n beduidende afname die afgelope twee jaar vanaf sy 2018-telling van 29,4% tot die 7,0% in 2020 gesien,” sê Ineke Prinsloo, hoof van verbruikersinsigte by Consulta.

Discovery het ook een van die hoogste tellings vir kliënte wat nie goeie dinge oor hom te sê sal hê nie.

Momentum en Old Mutual het ook onder die bedryfsgemiddeld presteer.

Klagtes

Sanlam het die minste klagtes ontvang, terwyl kliënte van Liberty die meeste kla.

Liberty het ’n beduidende toename in klagtes getoon vanaf sy telling in 2019.

Sanlam het ook die beste punt vir die hantering van klagtes aangeteken, gevolg deur 1Life.

Sanlam het sy telling vir die hantering van klagtes aansienlik verbeter vanaf 2019.

Liberty en Discovery het ook ten opsigte van die aantal en hantering van klagtes die laagste telling behaal, en albei toon agteruitgang vanaf 2019.

Billike behandeling

Die mate waarin kliënte voel dat hulle billik behandel word deur hul versekeraar, is die beste by Metropolitan, 1Life Insurance, Standard Bank en FNB Life.

Dié versekeraars presteer almal bo die bedryfsgemiddeld.

Discovery Life, Liberty en Absa Life is onder die gemiddeld.

Discovery Life het die laagste telling van 75,1%.

Waarde vir geld

Verbruikers se siening oor die waarde vir geld en gehalte van die produkte en dienste wat ontvang word relatief tot die prys, word ook gemeet. Dit is een van die belangrikste maatstawwe van die algehele tevredenheid onder verbruikers in ’n bedryf wat baie mededingend is.

FNB Life het die hoogste telling op dié gebied, gevolg deur Standard Bank.

Discovery Life en Liberty is weer ver onder die bedryfsgemiddeld.

Hoeveel inspanning dit van ’n verbruiker verg om dienslewering en terugvoering te kry, het ’n beduidende impak op die persepsie van waarde. ’n Versekeraar loop die gevaar om kliënte te verloor indien dié inspanning te groot raak.

Te ingewikkelde belonings- en lojaliteitsprogramme beïnvloed ook die persepsie van waarde.

Verwagting oor gehalte

Ook kliënte se verwagting oor die gehalte van produkte of dienste word gemeet.

Al die lewensversekeraars het aan die verwagtinge voldoen, behalwe Discovery en Liberty.

Dié twee het die grootste gaping tussen die verwagting wat bestaan en wat die gehalte is wat waargeneem word.

Dit beteken hul waargenome gehalte het nie aan die verwagting voldoen nie.

FNB Life vaar die beste op dié gebied, gevolg deur Standard Bank.

Banke beter as versekeraars

Consulta meen dis interessant dat twee van die leierposisies deur banke beklee word en nie die tradisionele versekeraars nie.

“Bankversekering wat verkoop word deur die gevestigde en vertroude verkoopskanale van banke, is besig om in die konvensionele versekeringsmark uit te brei.”

Prinsloo sê die pandemie het groter bewustheid oor lewensversekering meegebring.

“Versekeraars het voorheen beperkte skakeling met polishouers gehad, maar nou is daar daagliks vrae. Polishouers verwag nou van hul versekeraars dieselfde onmiddellike reaksie op hul behoeftes as van kleinhandelaars of banke.”

Sy meen die indeks toon banke vaar beter daarmee as die tradisionele versekeraars.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.