Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Te arm om te spaar? Dié 12 wenke kan help

Julie is Spaarmaand, en spaartendense het nog nooit droewiger gelyk nie. Soos die meeste Suid-Afrikaners vra jy waarskynlik: “Maar spaar met watter geld?” Hier is ’n lys wenke wat jou kan help.

  

Jy is nooit te oud vir ’n spaarvarkie nie! Foto: Pixabay

Die Suid-Afrikaanse Spaarinstituut (Sasi) het Woensdag in Sandton sy jaarlikse Spaarmaand-veldtog ’n ietwat verskillende veldtog bekend gestel omdat dit “noodsaaklik is dat iets nou verander”. Vanjaar is die veldtog #CrazyWaysToSave.

Prem Govender, voorsitter van Sasi, sê dis dringend nodig dat Suid-Afrikaners se spaarkultuur verbeter om hulle teen finansiële skokke te beskerm.

“Elke jaar raak dit net nog moeiliker daarbuite,” sê Govender.

“Hoe vra ons julle om te begin spaar as dit so moeilik gaan?”

Maar Govender sê daar is áltyd maniere om nog te spaar, veral gegewe hoe maklik Suid-Afrikaners skuld maak.

Volgens Sasi se jongste syfers is Suid-Afrika se huishoudelike spaarkoers nou op -0,5% van die bruto binnelandse produk – inderwaarheid dus ’n ontsparingskoers. Dit was verlede jaar Julie nog op ’n powere, maar minstens positiewe, 0,4%.

Huishoudings se skuldlas as persentasie van hul besteebare inkomste is nou gemiddeld 71,9%. Met ander woorde, vir elke R100 wat ’n gesin verdien, word byna R72 gebruik om skuld af te betaal.

Hier is die topwenke wat Sasi en sy paneel kenners Woensdag voorgestel het om Suid-Afrikaners aan die spaar te kry.

  

1. Kry ’n app wat als vir jou doen

  

Stash, ’n app wat in samewerking met Liberty ontwikkel is, help jou spaar sonder dat jy dit agterkom. Koppel jou krediet- of debietkaart en Stash sal elke dag ’n minimum van R5 in ’n Liberty- belastingvrye spaarrekening van jou keuse vir jou gooi. Verder kan jy dit ook stel dat jy meer spaar hoe meer treë jy gee of spaar as die son skyn sodat jy letterlik spaar vir ’n “reënerige dag”.

  

2. Maak ’n TymeBank-rekening oop

  

Jy hoef nie noodwendig van bank te verander nie, maar deur ’n TymeBank-rekening te open, kan jy jou beloningspunte by PnP maksimaliseer. Sasi se paneel reken al gebruik jy net die TymeBank-rekening om jou inkopies te betaal, sal jy wen, want jy verdien dan dubbeld die getal Smart Shopper-punte. Belonings plus ’n streng begroting kan só jou spaargeld aanhelp.

  

3. Laat staan daardie handelsname

  

Daar is genoeg modieuse plaasvervangers om jouself stylvol én billik te klee sonder dat jy spesifieke handelsname vir hul status aanskaf. Aanlyn klerewinkels het ’n baie groot verskeidenheid klere.

  

4. Moet nooit kruideniersware koop op ’n leë maag nie

  

Studies het keer op keer al gewys indien ’n mens honger inkopies gaan doen, bestee jy baie meer as wat jy beoog het. En jy koop nie groente nie, maar veel duurder lekkergoed.

  

5. Kanselleer die gimnasium-lidmaatskap

  

Indien jy nie eerlik kan sê dat jy werklik jou gimnasiumlidmaatskap ten volle benut nie, beëindig dit. En selfs al oefen jy graag, as jy geld moet bespaar, kry ’n goeie paar stap- of drafskoene.

  

6. Uitverkopings is “uit vir koop”

  

Uitverkopings spaar jou nooit geld nie, behalwe as ’n spesifieke item wat al jy letterlik beplan het om te koop, afgemerk is. En hoe gereeld gebeur dit nou rêrig? Sasi se paneel sê uitverkopings is taboe as jy spaar ernstig opneem. Stel ’n lys op van dinge wat jy regtig nodig het, en wees op die uitkyk vir uitverkopings daarop.

  

7. Gryp daardie gratis parkeerplek

  

Gryses van dae vertel graag hoe hulle myle gestap het om by die skool te kom, en ons kan ook so wees. Parkeergeld hoop vinnig op in ’n maand tot honderde rande. As jy altyd gratis parkeerplek kies, al is dit hoe ver van waar jy wil uitkom, kan jy ’n daadwerklike verskil maak aan jou kontantvloei mettertyd – en sommer ook fikser word.

  

8. Probeer “geriefsuitgawes” uitsny

  

As jy jou eie begroting gedetailleerd evalueer, sal jy self sien hoe baie van jou uitgawes eintlik slegs vir gerief is. Boaan die lys is kosaflewering pleks van self kos maak of inpak werk toe, en cappuccino’s koop pleks van jou eie fles koffie inpak.

  

9. Wag 7 dae

  

Maak ’n reël dat jy eers sewe dae sal wag voordat jy enige groot aankope doen. Dit sal help verseker jy koop nie net sodra jy iets koels sien en jouself probeer oortuig jy het dit nodig nie.

  

10. Volg “oumens”-raad

  

Sit die ligte af, kry ’n kombers vir die geiser, moenie toestelle aanlos nie. Dié soort wysheid, sê Sasi se paneel, kom uit ’n tyd toe spaarkultuur nog groot was. Om te spaar, gaan minder oor die rand en sent van elke besparing as oor die uitwerking van tyd – mettertyd is dit juis die klein goedjies wat saam die verskil maak. Deur energiegebruik by die huis werklik doeltreffend te hou, water spaarsamig te gebruik en net soveel te eet dat jy vol is, maak oor die loop van ’n jaar ’n enorme verskil aan ’n gesin se begroting.

  

11. Spaarvarke is nie net vir kinders nie

  

Dit hoef nou nie ’n werklike spaarvark te wees nie, maar soos Gerald Mwandiambira, waarnemende uitvoerende hoof van Sasi, verduidelik, ’n leë 2 liter-Coke-bottel kan R5 000 se tweerandmunte hou. Uit sy eie ervaring word só ’n bottel ook gou-gou vol deur net die ekstra munte wat ’n gesin huis toe bring aan die einde van elke dag.

 

12. “Nee” is ’n volsin

    

Om “nee” te sê, is ongelukkig deel van spaar. Kredietwaardigheid en die gemak van ’n kredietkaart benut – en só elke maand oor jou begroting te gaan – maak dit nou ’n baie groter versoeking as vantevore om ’n drankie (of drie) te gaan drink of vir die tweede keer die maand wegneempizza te bestel. Jy gaan eenvoudig moet leer “nee’ sê – vir jou vriende, vir jou kinders, en ja, vir jouself!

Meer oor:  Spaarmaand2019  |  Spaar  |  Spaarmaand  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.