Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Tem jou finansiële stres

Ons het in die vorige rubriek in hierdie reeks oor finansiële selfsorg spesifiek gesels oor stres en die uitwerking daarvan op jou geldsake. Lees dit hier: Só raak stres jou geldsake.

Charné van der Walt

Kommer oor geld is beslis ’n probleem in ons land as jy kyk na Suid-Afrikaners se skuldvlakke en hoe min hulle spaar.

Aangesien bekommernisse jou gedagtes van jou werk aflei (en jou minder produktief maak), wonder ek of dit nie ook die ekonomie uiteindelik negatief beïnvloed nie.

Ekonomiese welvaart vir ’n land begin altyd eerste by die individu. Daarom is my eerste drie vrae aan ’n ­kliënt wat finansiële beplanning wil doen:

1. Het jy ’n begroting?

2. Indien wel, hoe streng hou jy daarby?

3. Het jy ’n noodfonds?

In die meeste gevalle hou mense nie by hul begroting nie of gebruik hul spaargeld vir vakansies of groter uitgawes (nie noodgevalle nie).

In dié geval vra ek: Wat is die rede dat jy nie wil begroot of daarby hou nie?

  • Is jy nie lus nie?
  • Is jy moeg om jouself te beperk?
  • Is jy te lui vir die administrasie van ’n begroting?
  • Wil jy nie begroot nie omdat jy meen jy geregtig is op sekere goed of ’n sekere lewenstyl?
  • Is jy bang vir geld?
  • Is jy net pleinweg onverantwoordelik?
  • Is jy naïef?
  • Het jy soos sommige mense in ons land boedel oorgegee omdat jy nie kan bybly met jou uitgawes, lae salarisverhogings en verhoogde lewenskoste nie?
  • Of wil jy al die nuwe foefies hê soos dit op die mark kom, al beteken dit skuld?

Enigeen van ons kan, ongeag wat ons verdien, in ’n finansiële depressie verval as ons nie aandag gee aan ons geldsake, binne ons vermoë leef en ons lewe daadwerklik vereenvoudig nie.

  

Voorkom of verminder finansiële depressie só

  

1. Erken jy het stres

Kommer oor jou finansiële gesondheid is normaal. Dit is een van die redes waarom kliënte by my uitkom as beplanner, want hulle is bekommerd oor hul aftrede, hul eie versorging of hul gesin se versorging as hulle siek raak of sterf.

Die eerste stap na finansiële gesondheid en genesing is om jou stres teenoor jouself en ’n ander persoon te erken.

Maar wanneer die kommer jou denke op ’n ongesonde manier oorneem, raak dit gevaarlik.

Een van my kliënte is so gestres oor haar finansies dat dit die uitvoering van haar daaglikse pligte negatief beïnvloed.

Die eerste stap na finansiële gesondheid en genesing is om jou stres teenoor jouself en ’n ander persoon te erken. Dit help ook om neer te skryf waaroor jy bekommerd is, wat jy nou al doen om die situasie te beredder en wat jy nog kan doen, veral voordat jy met iemand hieroor gaan praat.

  

2. Gee aandag aan jouself

Gun jouself tyd om ná ’n werkdag rustig te raak en na te dink oor wat die dag met jou gebeur het. Die regte tyd om oor jou geldsake te begin dink, is wanneer jy reeds ontspanne is. Foto: iStock

As jou finansies aandag nodig het, is dit baie beter om dit vanuit ’n kalm gemoed te begin hanteer.

Ná ’n lang dag by die werk of met die kinders, jaag ons gewoonlik deur aandete en dan plons ons maklik voor ’n televisieskerm neer. Ons dink ons ontspan, maar ons kop het nog nie kans gehad om behoorlik deur die dag te “werk” nie.

Gaan sit iewers met ’n koppie tee (of ’n glas wyn), of as jy aktief is, gaan ry fiets, klim berg of gaan stap en gee jou kop kans om na te dink oor jou dag.

  • Wat was vir jou lekker en waarom? Wat was sleg, en hoe voel jy daaroor?
  • Waaroor is jy vandag dankbaar?
  • Waar kon jy ’n verskil maak in iemand se lewe? (Jy kan dit ook kosteloos doen deur ’n opregte kompliment te gee, vir iemand te glimlag of deur geduld te beoefen teenoor kollegas of die winkelklerk as jy inkopies doen.)

As jy eers rustig is, kan jy verder gaan en ook oor jou finansies begin dink:

  • Hoekom koop ek wat ek koop?
  • Wat kan die dieper rede wees dat ek nie myself lief genoeg het om my eie aftrede of finansiële doelwitte ’n prioriteit te maak nie?
  • Is die rede hoekom ek nie ’n testament wil opstel nie, eintlik dat ek bang is vir doodgaan?

  

3. Ontspan eenvoudiger

Probeer om vir ’n maand lank van televisie te vas en ander dinge te doen, soos om in die tuin te sit, te lees, musiek te luister, met die honde te gaan stap of met hulle te speel, ’n warm stort te geniet as dit koud is of ’n brief of poskaart te skryf aan iemand met wie jy lanklaas kontak gehad het.

Ongelukkig het die media ’n manier om begeertes by ons aan te wakker of te versterk. Dit beïnvloed ons beslis om meer goed te koop.

Digitale oorstimulering verhoed ons om heeltemal rustig in onsself te word. As jy interne vrede kan herontdek, gaan jou behoefte om geluk te vind deur materiële goed ook outomaties verklein.

Neem ’n besluit om nie meer goed te koop tensy jou lewe daarvan afhang nie. Jy sal verbaas wees hoeveel minder goed jy nodig het!

  

4. Pas jou gesondheid op

Om na jou fisieke gesondheid om te sien, is net so belangrik soos jou geestelike en emosio­nele gesondheid.

Gaan stap saam met jou gade of vriende (dis veiliger as om alleen te stap) om gimnasium-gelde te bespaar.

Kyk wat jy eet. Ek is ’n groot proteïenliefhebber, maar ek het besluit om dit te verminder en te vervang met meer groente en slaai.

Hierdie verandering saam met minder suiker laat my beter voel en deur slim te koop, het ek bespaar op my begroting.

’n Gesonde leefstyl help jou ook om mediese koste oor lang termyn te bespaar.

  

5. Vereenvoudig jou lewe

Kies eenvoud in alle aspekte van jou lewe, sê Charné van der Walt. Foto: Unsplash

Na aanleiding van die Engelse gesegde “choose your battles”, het ek ’n lewensfilosofie ontwikkel dat daar genoeg omstandighede of gebeurtenisse is waaroor ek nie beheer het nie, so ek wil nie ook beheer verloor oor dit wat wel binne my vermoë is om te beheer (of te bestuur) nie.

Kies eenvoud. Elke keer, oor en oor.

Ons kan ons lewe so onnodig kompliseer, veral finansieel.

Die enigste manier om dit te beheer, is om grense te stel vir alle aspekte van jou lewe, wat natuurlik finansies insluit.

  

6. Begin (en bou aan) ’n kontantnoodfonds

Ek lees onlangs van ’n finansiële beplanner wat vertel dat ’n noodfonds nie belangrik is as jou polisse korrek gestruktureer is of as jy toegang het tot korttermynskuld nie.

Ek vervies my sommer op die plek vir sulke naïewe raad.

My pa was jare gelede siek en ek het sy onderneming ’n maand lank vir hom gaan bestuur. Geen polis op aarde sou dit dek nie, maar my noodfonds het.

As jy regtig sukkel met spaar of net te veel uitgawes het en die idee van drie tot ses maande se inkomste in ’n noodfonds is onrealisties, mik dan na R5 000 of R10 000 (en verhoog dit soos jy kan).

  

7. Leef binne jou vermoëns

Ek verstaan dit is nie vir almal moontlik om 20% tot 30% onder hul inkomste te leef nie, maar ek sien gereeld kliënte wat genoeg verdien om dit eintlik te kan doen.

Maar nee, ons moet mos alles uitgee.

Ek weet wraggies nie waar dié gedagte vandaan kom nie.

Elke ding wat jy koop moet onderhou, verseker of skoongemaak word.

As jy nie iets kan bekostig nie, leer tog om “nee” te sê!

Kom ons begin ander keuses maak – keuses vir ’n rustiger, eenvoudiger en vreedsamer ­

lewe.

Dit sal ons help op ons pad na algehele gesondheid, wat ons finansies insluit.

  • Charné van der Walt is ’n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie. Sy skryf gereeld vir Sake.
In die werkplek

Hierdie artikel is meer gerig op individue, maar as jy ’n onderneming en personeel het, kan jy ook ’n verskil maak in jou werkplek.

Die Amerikaans-gesetelde SunTrust Bank het onlangs ’n “finansiële-welstanddag” aan personeellede begin toestaan.

Dit is ’n dag waarop hulle aandag aan hul geldsake kan gee, soos om ’n belastingopgawe in te dien.

As dit nie moontlik is nie, kry iemand om twee keer per jaar met die personeel te gesels oor praktiese finansiële uitdagings, soos waaraan ­hulle aandag in hul testament moet gee, hoe om ’n begroting op te stel of hoe om hul korttermynskuld beter te bestuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1108,65 (2792)
  • Top 40 45929,03 (12363)
  • All Share 52146,04 (14659)
  • Resource 10 39470,3 (2238)
  • Financial and Industrial 30 69022,22 (28521)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.