Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Testamente: Mag voogde trustees word?

Charné van der Walt antwoorde lesers se vrae oor testamente.

  

Charné van der Walt

In die vorige rubriek, Boedels: Kontant is koning, het ek gefokus op berekeninge in ’n boedel soos eksekuteursgelde en gewys watter impak dit op jou boedel het as daar te min kontant daarin is om skuld en koste te dek.

Baie lesers vra waarom hulle boedel die maksimum eksekuteursgelde moet betaal as daar net ’n paar bates se oordrag na die erfgename betrokke is.

Dit sal afhang van die eksekuteur wat jy aanstel en of hulle bereid is om nou al kontraktueel ’n laer tarief met jou te beding.

Voorsien steeds vir die maksimum tarief aangesien jou benoemde eksekuteur voor jou kan sterf, nie deur die Meester van die hooggeregshof aangestel word nie of self kies om afstand te doen van die eksekuteurskap.

Ek beantwoord nog ’n paar lesersvrae.

  

Wil ekseketeur ‘afdank’

Ek is in my oorlede broer se testament as mede-eksekuteur aangestel saam met sy prokureur. Mag ek versoek dat die prokureur bedank en my ouditeur aanstel as eksekuteur?

Antwoord:

Jy en jou ouditeur kan dit skriftelik van jou broer se prokureur versoek, maar dit is uiteindelik sy keuse of hy as eksekuteur wil aanbly.

As jy die benoemde eksekuteur wil dwing om afstand te doen van sy amp as eksekuteur, moet jy regsadvies inwin en kan bewys dat hy onbevoeg is vir die taak.

  

Hoekom het ek testament nodig?

Ek is 66 jaar oud en getroud en ons het geen kinders nie. As ek sonder ’n testament sterf, gaan my gade alles erf (wat my wens is). Waarom het ek ’n testament nodig?

Antwoord:

Dit is maar net ekstra administrasie en beslommernis waarvan jy jou gade kan spaar. Meer belangrik, jy het die vryheid om ’n eksekuteur van jou keuse aan te stel.

As jou gade vóór jou sterf en jy het steeds nie ’n testament nie, sal die geld in gelyke dele na jou ouers (of die langslewende van hulle) vererf.

Daarna sal jou broers en susters, indien enige, erf. Daar is wetgewing wat hierdie orde bepaal en ook watter deel elkeen kry.

Die probleem kom in as ’n erfgenaam onder 18 jaar is. Geen testament beteken geen testamentêre trust nie. Die geld sal dan vererf na die staat se trustfonds (Voogdyfonds) totdat die kind 18 jaar is en nie veel groei tot dan nie.

 

Trust vir gestremde kind

Een van ons kinders is meerderjarig en gestrem. Ons ander kinders is minderjarig. Word daar een trust vir al drie kinders opgerig as ek en my gade saam sterf?

dood
Jou testament moenie net geldig wees nie, maar ook uitvoerbaar. Foto: Pixabay

Antwoord:

Dit is beter om ’n spesifieke en aparte trust vir jou gestremde kind op te rig. Dit staan bekend as ’n spesiale trust en kwalifiseer vir laer inkomstebelastingkerwe (volgens individue se skale, sonder enige jaarlikse korting, en dit sluit laer kapitaalwinsbelasting in).

’n Tweede trust is nodig vir jou ander kinders tot ’n ouderdom van jou keuse.

Terwyl die jongste kind onder 18 jaar is, sal die tweede trust ook as ’n spesiale trust gehanteer word.

  

Hoeveel belasting gaan boedel betaal?

Ek was my oorlede man se enigste erfgenaam. My boedel is sowat R6 miljoen werd, wat my woonhuis teen ’n markwaarde van R3 miljoen insluit. Wat sal my boedelbelasting wees as my kinders alles erf?

Antwoord:

In my berekening maak ek die aanname dat jy geen lopende skuld het nie, dat daar algemene boedelkoste is van R30 000 en dat die boedel die oordragskoste betaal om die eiendom na jou kinders se name oor te dra (geskat teen R100 000).

Verdere aannames is dat jy geen verband het op die eiendom nie en dat jou boedel die maksimum eksekuteursgelde betaal (R241 500).

Met net jou eie boedelbelastingkorting van R3,5 miljoen bereken die boedelbelasting op R425 700.

Maar aangesien jou gade nie sy boedelkorting gebruik het nie, is daar uiteindelik geen boedelbelasting betaalbaar nie.

  

Het ek nuwe testament nodig?

Ek het ’n baie ou testament, maar my bemakings en wense daarin is onveranderd. Is dit nodig om die testament te hersien?

Antwoord:

Jy kan jou eksekuteur vra om seker te maak dat die testament se klousules voorsiening maak vir verandering in wetgewing. Jy kan ook ’n tweede mening kry by ’n ander kundige.

Daar is ’n verskil tussen ’n geldige en ’n uitvoerbare testament. ’n Geldige testament beteken die testament voldoen aan die vereistes van die Wet op Testamente, wet 7 van 1953, en dat die Meester dit sal aanvaar.

’n Testament kan geldig wees maar nie uitvoerbaar nie, terwyl ’n uitvoerbare testament altyd ook ’n geldige dokument is.

’n Uitvoerbare testament beteken: daar is boedelbeplanning gedoen; die boedel beskik oor voldoende kontant om ten volle uitvoering te kan gee aan die wense van die oorledene; alle erfgename ontvang wat aan hulle bemaak is; alle boedelonkoste, onderhoudseise, belasting en skuld van die oorledene word met gemak betaal en daar is genoegsame kontinuïteit in die oorledene se onderneming, hetsy dit moet voortgaan of verkoop word.

  

Lewende trust of testamentêre trust?

Wanneer is dit beter om ’n familietrust op te stel terwyl ek leef en wanneer om bloot ’n testamentêre trust in my testament op te rig?

Antwoord:

’n Boedelbeplanner wat sy sout werd is, sal daardie ontleding en gesprek met jou kan hê. Dit is nie ’n boedelbeplanningshulpmiddel wat vir almal se omstandighede die beste opsie is nie.

’n Trust wat jy in jou lewe opstel, word gewoonlik gedoen om bates bymekaar te maak vir begunstigdes. Bates in ’n trust vorm nie deel van jou boedel nie, wat beteken dis nie jou bates nie.

As jy geld aan die trust leen (om bates mee te koop), is daardie leningsrekening wel ’n bate in jou boedel. Baie mense het ’n trust laat opstel wat nie gebruik word tot die dag dat hulle sterf nie.

In baie gevalle is daar nie ’n bankrekening nie en dien die trust nie ’n belastingopgawe in nie (twee groot foute wat dadelik reggestel moet word).

’n Testamentêre trust word eers opgerig (en vir belasting geregistreer) as jy sterf. In albei gevalle is daar trustees (waarvan jy een kan wees terwyl jy leef) wat die trustbates namens die begunstigdes bestuur ingevolge wetgewing en die trustakte se bepalings.

As jy in lewe ’n trust skep en ’n trustee is, kan jy ’n opvolgende trustee in jou plek in jou testament benoem.

  

Voogde as trustees

Kan my kind se voogde ook as trustees aangestel word in my testament?

Antwoord:

Voogde se insette oor wat jou kinders (trustbegunstigdes) gaan benodig, maak hiervan beslis ’n opsie. Maar dan moet hulle met geld kan werk, kennis hê van beleggings en oor die algemeen gemaklik wees met die neem van finansiële besluite.

Dit is verpligtend om ’n nie-verwante, onafhanklike trustee aan te stel soos ’n prokureur, ouditeur, trustmaatskappy of bank. As jy albei voogde aanstel as trustees (wat emosioneel betrokke raak by die kinders), sal ek voorstel dat jy ’n vierde trustee aanstel soos ’n familielid of vriend wat bykomende objektiwiteit kan voorsien by die neem van besluite.

  

Te jonk vir erf?

My testamentêre trust sê my kinders kan die trustbates erf as hulle 25 jaar is. Is dit te jonk?

Antwoord:

Net jy kan besluit. Hoe ouer jou kinders is, hoe beter sal jy weet wie met geld kan werk en wie nie.

Ek sal dit nie sommer jonger as 25 jaar maak nie behalwe as hulle regtig baie verantwoordelik is. Daar is ook die moontlikheid dat die trust vroeër kan ontbind omdat die trustgeld uitgeput is.

Jy kan selfs die ouderdom hoër maak, soos 30 jaar, en ’n bepaling insluit dat die trustees volgens hul diskresie (natuurlik altyd in ’n trustbegunstigde se belang), daardie kind se erflating kan uitstel (as die kind byvoorbeeld ’n dwelm- of alkoholverslaafde is) of selfs vervroeg (as die kind finansieel verantwoordelik is en ’n woonhuis daarmee wil koop). 

  • Charné van der Walt (The Lemon Lady), is ’n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn in Stellenbosch. Kontak haar by info@ lemons.co.za met vrae vir opvolgende rubrieke (geen een-tot-een-advies beskikbaar). Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie. Sy skryf gereeld vir Sake.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.