Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Theo Vorster: Hou jou ‘langboomlys’ op datum

Dit is nou bykans ’n jaar gelede dat Roger Federer op 7 Februarie teen Rafael Nadal in die Kaapstad-stadion teen mekaar gespeel het. Dit was ’n pragtige aand voor ’n volgepakte stadium – ’n gebeurtenis wat nou soos iets uit ’n heel ander era voel!

Theo Vorster. Foto: Verskaf

Skielik, met die tweede vlaag Covid-sterftes, het statistieke name gekry en het syfers vanne geword – die pes het in ons eie woonhuise kom lêplek kry.

Die samelewing het die afgelope dekades die begin en die einde van die lewe geskuif na kliniese wit geboue met dokters en tegnologie wat die proses voorspelbaar kon bestuur. En toe vang die natuur ons uit en bring alles weer terug huis toe.

Die goeie nuus is dat die Covid-syfers begin draai, wat hopelik ’n aanduiding is dat die tweede golf besig is om stoom te verloor.

Kom ons neem aan dit is wel die geval en oor ’n paar weke kry die mediese helde in die voorste linie ’n blaaskans en tyd om weer hulself te vind – die res van ons moet maniere kry om hulle te eer en te bedank.

Die probleem is dat waar die res van die wêreld in ’n stryd tussen die virus aan die een kant en inentings en beter behandeling aan die ander kant is, het die virus in Suid-Afrika nog ’n oop speelveld. Sonder sterk wetenskaplike ingryping is Suid-Afrika op pad na ’n derde vlaag wat met die koms van die winter en die griepseisoen kan saamval.

Wat my absoluut dwars in die krop steek, is dat ruim meer as die helfte van Suid-Afrikaners steeds sonder ’n testament is. Dit is ’n absolute skande en onverskoonbaar!

Daar is ’n legio redes waarom ek reken jy moet sorg dat jy ’n opgedateerde en geldige testament het en dat jou geliefdes presies weet wat daarin staan en waar daardie testament is. Hier is net twee daarvan.

1. Sonder testament vat proses langer

Vanuit ’n proseskant: Om intestaat te sterf beteken dat jy die proses van aanstelling van ’n eksekuteur van jou boedel oordra aan die staat, iets wat jy nie in Suid-Afrika aan jou erfgename wil doen nie.

Nie net voeg jy maande by die proses nie, maar jy plaas addisionele rompslomp by ’n reeds moeilike en tydsame proses.

2. Sonder staat bepaal staat wie erf

Toedeling van jou bates: Sonder ’n testament raak die proses van uitdeel en te gelde maak van bates ’n wetlike proses wat volgens ’n wetlike “formule” plaasvind. Jou voorkeurerfgename kan aan die kortste ent trek en erfgename wat niks of minder moes erf nie, kan skielik voor in die tou staan om te erf.

Hou maar by Engels

Suid-Afrika verander en dit sluit die kantoor van die Meester ook in. Die Meester is die staatskantoor wat die bereddering van boedels oorsien.

Behalwe tans nog in die Wes-Kaap raak dit onmoontlik vir hierdie kantore om jou in Afrikaans te bedien.

My raad is dat jy jou liefde vir Afrikaans op baie maniere kan uitleef, maar ’n Afrikaanse testament is nie een daarvan nie – maak eerder skenkings aan instansies wat die gebruik van Afrikaans bevorder as om jou geliefdes te straf met ’n Afrikaanse testament.

Skep ’n lewenslêer

Die tweede dokument wat ek reken elke persoon iewers moet hou, is ’n lewenslêer, of soos my vriend Kallie Schoeman daarna verwys, sy “langboomlys”.

Hierdie is ’n lys wat jy byhou om te verseker dat jou boedel en sake so maklik as moontlik afgehandel kan word, aangesien al die inligting op een plek is.

Dit bevat inligting soos jou testament en wenslys, bankrekeningnommers, telefoonrekeninge, afskrifte van registrasiedokumente en sosialemedia-wagwoorde.

Hoeveel detail in jou langboomlys moet wees gaan van elke persoon afhang, maar dit moet genoeg inligting en kontakbesonderhede bevat vir jou naasbestaandes om ordelik en gemaklik met die proses te begin as jy nie daar is nie.

Onthou, almal verkeer in ’n baie emosionele en onseker gemoedstoestand ná ’n dood in die familie. Deur ’n lys op te stel met kontakbesonderhede, instruksies van by wie en waar kontrakte en dokumente is, enige borgverpligtinge of voorafbetalings en besonderhede van jou laaste wense, doen jy die mense wat agterbly ’n baie groot guns.

Ons kan nie die virus of die spoed waarmee die mediese wetenskap die biologiese probleem moet hokslaan, beïnvloed nie. Ons kan wel ons eie kant van die saak bestuur en sodoende ’n klomp mense rondom ons ’n groot guns bewys.

’n Geldige testament en volledige langboomlys maak dinge net soveel makliker en georden – dit is tog die minimum wat jy wil doen?

  • Theo Vorster is die uitvoerende hoof van Galileo Capital.
Meer oor:  Theo Vorster  |  Covid-19  |  Testament  |  Boedel  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.