Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Tieners en geld: Word ‘ryk’ met dié 5 wenke
Sorgvry op Jeugdag - maar net as jy geld het, of hoe? Foto: Pixabay

As tiener is jou lewe beslis nie maklik nie.

Jou ouers en hul gekerm oor jou skoolwerk is seker die grootste probleem, maar dan is daar natuurlik ook al die druk om in te pas, jou besluite oor jou toekoms en nog ’n klomp ander goed waaroor jy waarskynlik nie met óns wil praat nie.

Nou gaan ons jou nog iets gee om oor te worry – jou geldsake. Die goeie nuus is, as jy nou reeds geldslim raak, gaan dit die res van jou lewe verseker dat dit altyd ’n kerfie beter met jou gaan as met jou vriende wat nié daaroor dink nie.

Alfred Ramosedi van African Bank sê: “As jy altyd geld wil hê, moet jy aandag gee aan jou geld.

“Geld máák is anders as geld verdien. As jy geld verdien, ruil jy jou tyd en energie vir geld. Jy werk ’n uur lank en word vir ’n uur betaal.

“Die uiteindelike doelwit is om te leer om geld te máák. Dit beteken dat jy jou geld vir jou laat werk deurdat jy dit met spaar en beleggings laat groei.

Die uiteindelike doelwit is om te leer om geld te máák. Dit beteken dat jy jou geld vir jou laat werk deurdat jy dit met spaar en beleggings laat groei.
Alfred Ramosedi van African Bank

“Hoe jonger jy begin, hoe beter.”

Ramosedi sê ’n mens moet natuurlik altyd werk vir jou geld ook, en vir die grootste deel van jou lewe is dit waarskynlik hoe jy jou geld gaan verdien.

Maar as jy geld vir jou wil laat werk, moet jy belê in jou eie onderneming, eiendom, aandele en ander maniere waarop die geld uiteindelik self begin inkom sonder dat jy jouself uur ná uur afsloof.

Dit maak nie saak of jy sakgeld kry, ’n deeltydse werk het en of jou ouers nog als vir jou betaal nie, hier is wenke wat vir jou sal werk.

  

1. Weet hoeveel jy bestee

  

Dis maklik om tred te verloof met hoeveel geld jy bestee, veral as vriende bymekaarkom in die winkelsentrum. Later sit jy met ’n leë beursie of bankrekening sonder dat jy regtig weet waarheen jou geld is (waarskynlik in jou maag in omdat julle weggelê het aan kitskos!).

Gebruik jou foon om notas te maak van elke sent wat jy uitgee.

Natuurlik moet jy met ’n begroting begin – ’n plan van hoe jy jou geld in die maand gaan bestee. Gebruik pen en papier, ’n Excel-sigblad of ’n begrotingsapp – daar is baie van hulle, vind een wat vir jou werk.

Wenk vir ouers:

Gee vir jou tieners ’n vasgestelde bedrag sakgeld en praat met hulle oor wat hulle daarmee moet koop. Hulle behoort self vir flieks en springmielies te betaal as hulle saam met maats uitgaan. Hulle behoort ook te begroot vir verjaardag- en Kersgeskenke vir vriende en ander gesinslede.

As jy vir hulle meer sakgeld gee, moet hulle ook self betaal vir alle klere behalwe skoolklere, vir selfoonuitgawes, en veral vir rekenaarspeletjies. Hulle hóéf nie elke maand ’n nuwe game te kry nie – hulle moet leer om daarvoor te spaar.

  

2. Leer om vir jouself nee te sê

  

Jy hoef nie die nuutste mode te besit nie. En beslis nie handelsmerke nie - kyk uit vir goedkoper weergawes van dieselfde styl. Foto: Pixabay

Hoe gouer jy die verskil leer tussen “moet hê” en “wíl hê”, hoe beter! Daar is volwassenes wat nog nie die verskil verstaan nie en als koop wat hul oë sien.

Vir jou is dit dalk makliker om te onderskei. Als wat jy “moet hê” – kos, klere, skoolgoed, medisyne, krag, beddegoed en so meer – betaal jou ouers waarskynlik nog.

Dus, als wat jy koop, is “wil hê” – daardie nuwe hemp of skoene, handsak, foon of speletjie is alles goed waarsonder jy nie sal doodgaan nie. Ons weet, ons weet, jy gaan dalk nie die koelste ou of meisie wees as jy nie ’n fidget spinner of wat ook al het nie, maar jy sal nog suurstof uit die lug kan trek. Jy sal daarsonder oorleef.

As daar ’n uitrusting of speelding is wat jy regtig baie graag wil hê, wag ’n week. Sjoe, ’n hele week, gaan jy dit maak? Ja – en jy sal dalk agterkom jy het reggekom daarsonder.

As daar iets is wat jy regtig baie graag wil hê, leer om van jou sakgeld daarvoor te spaar.

Ja, jy kan by jou ouers kerm of diep in hul oë kyk met daardie hangdog-gesigsuitdrukking wat tieners en babahondjies gebruik om goed te bedel, maar wanneer jy groter is, gaan niemand tot jou redding kom nie. Leer sommer nou al om op jou eie finansiële voete te staan vir luukse uitgawes.

Onthou, jou ouers is waarskynlik onder kwaai finansiële druk. As jy hulle skuldig laat voel omdat jy iets nie het nie wat “almal” het, en hulle gee in en koop dit vir jou, land jul gesin waarskynlik al hoe dieper en dieper in die skuld.

Skuld veroorsaak spanning. Jou ma is klaar ’n draak van als waaroor sy stres – moenie dinge vir haar nóg moeiliker maak nie.

Wenk vir ouers:

Leer om nee te sê. Dis al.

  

3. Weet wat jy op jou foon doen

  

Jip, dis jy daai. Neem foto’s en gaan mal, maar oppas hoeveel data jy gebruik. Foto: Pixabay

Seker jou grootste uitgawe is jou selfoon – tussen oproepe en WhatsApps en YouTube-video’s blaas jy nogal baie geld sonder dat jy dit dalk eens agterkom.

Selfs al betaal jou ouers jou selfoonrekening, wees verantwoordelik.

Elke plan het waarskynlik ’n aantal gratis SMS’e en belminute. Jy het ook ’n vasgestelde hoeveelheid data. Probeer binne daardie perke bly – dit beteken jy moet monitor hoeveel jy gebruik.

Wenk aan ouers: Ons verkies almal deesdae dat ons kinders bereikbaar is, maar jou tiener mag maar ’n tweedehandse foon gebruik; dit hoef nie die duurste foon op die mark te wees nie.

Maak seker jy kies ’n pakket (hetsy kontrak of voorafbetaal) met genoeg data – kom ons wees realisties daaroor. Stel egter ’n perk op besteding. Byvoorbeeld, kom ooreen dat jy R200 per maand van hul selfoonkoste sal betaal; as hulle meer bestee, moet dit uit hul sakgeld kom.

As jy ’n kontrak met gratis minute, data en beltyd vir hulle kies, moet hulle binne daardie perke bly – of self lag en betaal.

  

4. Moenie jou geld opeet nie

  

Eet is lekker en dis ook altyd deel van kuier. Jy gaan nie by jou vriende kuier op ’n Vrydagaand as daar nie ’n braai, pizza of minstens kaas-en-tamatietoebroodjies is nie. Net so is ’n fliekaand sonder springmielies amper ondenkbaar.

Maar kos – veral kitskos – kan baie maklik al jou geld opvreet. Spaar dus waar jy kan. Pak ’n toebroodjie en piesang of iets in skool toe eerder as om elke dag geld saam te neem vir die snoepie. Dit maak nie saak of die geld uit jou eie sakgeld kom en of jou pa elke dag R20 in jou hand druk nie. As jy spaar, spaar jy vir jouself en vir die hele gesin – geld wat jy sal geniet as julle met vakansie gaan of wat jou pa dalk lus sal maak vir ’n biefstuk saam met jou een gelukkige aand.

As jy uitgaan saam met vriende, eet iets by die huis sodat jy nie kitskos hoef te koop nie of minstens minder gaan eet. Ons weet jul bene is hol.

Wenk aan ouers:

Stel ’n goeie voorbeeld. Pak jou eie middagete werk toe in, moenie elke tweede aand kitskos koop nie en moenie kos vermors nie. Probeer om nie meer te eet as wat jy nodig het nie – dis ook ’n vorm van vermorsing.

  

5. “Studeer” geldsake

   

Ja, vloekwoord – studeer. Maar geldsake is soos enige ander onderwerp, hoe meer jy weet, hoe lekkerder raak dit.

Lees op oor dinge soos begrotings, spaar, beleggings, hoe om ’n onderneming te skep, hoe versekering werk, hoe belasting werk, en hoe mens jou eerste huis koop.

Gebruik MuntSlim met Netwerk24 en die magdom ander webwerwe oor persoonlike geldsake.

Vind uit wat belastingvrye spaarrekeninge is, wat effektetrustfondse is, wat indeksfondse of beursverhandelde produkte is – dis alles terme wat jy maklik kan baasraak.

As mense skryf of sê hulle het ’n maklike manier gevind om vinnig baie geld te maak, wees baie versigtig.

Maak net seker jy is nie liggelowig nie. As mense skryf of sê hulle het ’n maklike manier gevind om vinnig baie geld te maak, wees baie versigtig. As dit so maklik was, sou ons almal al stinkryk gewees het – daar is gewoonlik maar ’n vangplek, soos dat dit bedrog is of ’n baie hoë risiko het dat jy jou geld gaan verloor (soos met binêre verhandeling of valutahandel).

As jy spesifieke vrae het, stuur vir ons ’n vraag na muntslim@netwerk24.com. Jy kan selfs jou ouers vra om vir jou ’n afspraak by ’n finansiële adviseur te maak – selfs al het jy nie geld nie!

Wenk aan ouers:

Praat gerus met jou tieners oor geldsake en beleggings. Jy hoef nie die rand en sent van jou begroting vir hulle te wys nie, maar jy kan in die algemeen praat oor inkomste en uitgawes. As hulle vrae het oor beleggings wat jy nie kan beantwoord nie, lig jouself in – dis tot almal se voordeel!

Meer oor:  Jong Mense  |  Jeugdag  |  Kinders En Geld  |  Jeug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1997,51 (1144)
  • Top 40 51565,16 (-39287)
  • All Share 57636 (-41671)
  • Resource 10 46379,94 (-9014)
  • Financial and Industrial 30 77165,34 (-80113)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.