Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
‘Tito moedig SA nie aan om te spaar’

Finansiële beplanners is teleurgesteld dat die staat se nuwe begroting niks doen om mense aan te moedig om meer te spaar en belê nie.

Ontleders pleit dat Tito Mboweni in die toekoms ’n “kultuur van spaar saai”. Foto: istock

Vimal Chagan, hoof van spaar- en beleggingsoplossings vir kleinhandelbeleggers by Liberty One, sê dis teleurstellend dat nóg die perk vir beleggingsvrye spaar nóg die maksimum belastingvrye bydraes tot aftreeprodukte verhoog is: “Die spaarkoers van individue in Suid-Afrika is nogal beroerd. Die gebrek aan dié inisiatiewe beteken meer hoë-inkomsteverdieners moet hul spaargeld in diskresionêre voertuie belê.”

Diskresionêre beleggings beteken dalk meer belastinggeld vir die staat – op rente, dividende en kapitaalwins, byvoorbeeld – maar dit moedig mense nie aan om hul langtermynspaargeld te verhoog nie.

Die perk wat mense belastingvry mag belê, is nou al ’n paar jaar onveranderd op R33 000 per jaar. Die lewenslange limiet van R500 000 is onveranderd sedert belastingvrye beleggings in 2015 bekend gestel is.

Suid-Afrikaners mag steeds 27,5% van hul belasbare inkomste in aftreeprodukte spaar en dié bydraes is van belasting aftrekbaar. Die jaarlikse limiet bly onveranderd op R350 000 per jaar.

Die begroting wat Tito Mboweni, minister van finansies, verlede Woensdag in die parlement ingedien is, maak geen voorsiening in ’n styging in dié bedrag nie.

Ricardo Teixeira, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en bedryfshoof van BDO Wealth Advisers, sê Suid-Afrika se ekonomiese groei is “hardnekkig en gevaarlik laag”. Dit lyk nie asof die bruto binnelandse produk veel vinniger as 2% gaan groei oor die volgende drie jaar nie.

“Dit maak nie saak watter hefbome getrek word nie, dit lyk net nie asof daar ’n manier uit dié put is nie.”

Teixeira sê egter daar is een veranderlike wat dikwels misgekyk word as ’n manier om groei te stimuleer: “Spaar. Ja, vervelige ou spaar. Om geld wat jy nou het vir die toekoms weg te sit. Nie besteding nie. Besparing.

“Ons spaargeld skep rente op bankdeposito’s, dividende op aandele, ons belê in ’n onderneming, koop ’n huis of tweede eiendom, maak kapitaalwins op die verkoop van daardie onderneming, finansier ’n beginneronderneming, kry toegang tot nog lenings. Alles van die eenvoudige gewoonte van spaar.

Raai wat dié spaarbedrywighede meebring? Groei. Meer welvaart. Nuwe sakegeleenthede. Werkskepping. En meer.
Ricardo Teixeira

“Raai wat dié spaarbedrywighede meebring? Groei. Meer welvaart. Nuwe sakegeleenthede. Werkskepping. En meer.”

Texeira pleit dat Mboweni in die toekoms ’n “kultuur van spaar saai”. “Kry Suid-Afrikaners om die mag van spaar in te span om groei na ons ekonomie terug te bring.”

Texeira sê Mboweni kan gerus begin deur dit verpligtend te maak om jou spaargeld te bewaar as jy van werk verander en wanneer jy aftree.

“As die regering strafboetes instel vir kontantonttrekkings uit aftreefondse (met aftrede) of, selfs beter, dit verpligtend maak om jou aftreegeld uit te los wanneer jy van werk verander, totdat jy aftree, kan dit ’n magtige katalisator vir ’n spaarkultuur word.”

Hy stel selfs voor dat die regering jou spaargeskiedenis deel laat maak van jou kredietprofiel – dus sal dit makliker raak om ’n lening te kry hoe beter jy spaar.

“En as hy in staat was om meer rojaal met die uitdeel van voordele te wees, kon ’n afslag op jou persoonlike inkomstebelastingkoers ’n werklike bonus wees vir belastingbetalers wat wel spaar en die gewoonte van spaar vertoon.”

Denver Keswell, senior regsadviseur by Nedgroup Investments, sê ook dis teleurstellend dat die begroting geen noemenswaardige poging aankondig om spaar aan te moedig nie. “Dit lyk uit balans uit met die president se benadering tot groei en spaar.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.