Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Uitslag afgewag in ondersoek na Vacation Hub

Mense wat kontrakte met Vacation Hub International (VHI) het, sal eersdaags weet wat die uiteinde van ’n ondersoek na dié “reisklub” is.

Die prokureur Trudie Broekmann beweer dis baie moeilik om kontrakte met Vacation Hub International binne die afkoelperiode van vyf dae te kanselleer.

Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) se ondersoek na VHI is onlangs afgehandel en die verslag is reeds na die NVK se vervolgingsafdeling verwys, het Trevor Hattingh, woordvoerder van die NVK, by navraag aan Netwerk24 gesê. “Ons vervolgers sal klagte formuleer nadat hulle die verslag geassesseer het.”

Dié nuus kom terwyl duisende lede van vakansieklubs en tyddeelskemas wag op die verslag van ’n ondersoekpaneel van die NVK wat dié bedryf ondersoek het. Die verslag sal na verwagting aanbevelings bevat oor hoe die bedryf sy praktyke moet verander om die klagtes van verbruikers – soos dat hulle mislei word oor koste en voordele en nie uit kontrakte kan loskom sonder om derduisende rande op te dok nie – te voorkom.

Lees ook: Vakansieklubs: Verslag oor klagtes amper gereed

VHI verkoop nie tyddeel nie en is nie ’n vakansieklub nie, het Hattingh beklemtoon.

Hannelie Jacobs, bestuurder van lededienste by Onyx Group Holdings, wat VHI besit, het ook beklemtoon: “Let daarop dat ons nie ’n tyddeelmaatskappy is nie en ons maak beswaar dat ons in berigte oor tyddeelmaatskappye en die NVK se ondersoek na die tyddeelbedryf genoem word. Ons het nie lewenslange kontrakte nie, en al ons ooreenkomste is vir ’n vaste termyn van 24 maande in pas met die Wet op Verbruikersbeskerming.”

Die Vacation Ownership Association, ’n bedryfsliggaam vir die tyddeelbedryf, het ook bevestig dat VHI nie ’n lid van dié organisasie is nie.

VHI blyk uit sy webwerf meer soos ’n reisagentskap te funksioneer wat vir lede besprekings doen en afslag op vakansies waarborg.

Hattingh verduidelik die verloop van die ondersoek na VHI as volg:

  • ’n Aanvanklike ondersoek is in 2014 gedoen, waarna bevindings gemaak is. Die bevindings was deel van ’n aansoek wat by die Nasionale Verbruikerstribunaal ingedien is om die maatskappy saam met tyddeelmaatskappye vir beweerde oortredings van die Wet op Verbruikersbeskerming te vervolg.
  • Ná ’n “omsigtige assessering van sy benadering” het die NVK besluit om sy aansoek by die tribunaal te onttrek en ’n ander manier te vind om die bewerings te behartig.
  • Dit het aanleiding gegee tot twee verskillende prosesse: ’n Ondersoek na die tyddeelbedryf; en ’n “nuwe, afsonderlike ondersoek na die bedrywighede van VHI”. Albei is in 2017 begin en albei ondersoeke is afgehandel.

Volgens Hattingh is die volgende klagtes teen VHI ondersoek:

  • Bewerings dat die maatskappy “wanvoorstellings gedoen het oor wesentlike feite om verbruikers te flous om lede te word”;
  • Bewerings dat die maatskappy “onbillike taktieke” ingespan het wat dit vir mense onmoontlik gemaak het om hul kontrakte binne die verpligte afkoeltydperk van vyf dae te kanselleer, soos die Wet op Verbruikersbeskerming voorskryf; en
  • Bewerings dat VHI “die kwesbaarheid uitgebuit het van verbruikers wat tyddeelkontrakte besit en desperaat was om daaruit te kom, deur ’n gratis diens vir die kansellering daarvan aan te bied in ruil vir lidmaatskap met VHI. Ongelukkig het verbruikers nadat hulle by VHI aangesluit het, agtergekom hulle is om die bos gelei omdat die tyddeelkontrakte nooit gekanselleer is nie,” sê Hattingh in ’n e-pos aan Netwerk24.

Terwyl die uitslag van die ondersoek hangend is, gaan Trudie Broekmann van die Kaapse regsfirma Broekmann Prokureurs intussen voort om die strydbyl namens VHI-lede op te neem.

In ’n verklaring wat verlede week uitgereik is, sê Broekmann sy het kansellasiebriewe “namens sewe ontnugterde VHI-kliënte aan VHI gestuur weens hul misleidende regstreekse bemarking en weiering om die herroeping van kontrakte te aanvaar”.

Broekmann sê VHI-kontrakte voer aan dat die maatskappy vir lede afslag van tussen 10% en 65% op vakansiebesprekings gee. “Die kliënte van Trudie Broekmann Prokureurs het egter geensins hierdie besparings ontvang nie.”

Afkoeltydperk

Die grootste probleem wat Broekmann teëkom, is dat VHI dit na bewering haas onmoontlik maak vir mense om hul kontrakte te kanselleer, selfs al kry hulle binne die afkoeltydperk van vyf dae koue voete.

Broekmann sê een kliënt, Mzwamandoda Grootboom, het op 5 Oktober 2017 ’n kontrak met VHI vir “lewenslange lidmaatskap” (wat VHI ontken dat hy toestaan) gesluit: “Grootboom moes met die intrapslag R14 000 betaal, sowel as ’n maandelikse dienstarief van R2 333,33 wat 24 maande lank betaal word. Hy moes ook ’n ‘voordeelbydrae’ van R710 betaal vir 120 maande. Die voordeelbydrae maak Grootboom geregtig op ’n kontantterugbetaling as beloning ná tien jaar.

Ongelukkig het verbruikers nadat hulle by VHI aangesluit het, agtergekom hulle is om die bos gelei omdat die tyddeelkontrakte nooit gekanselleer is nie.
Trevor Hattingh van die NVK

“Die dag nadat hy die kontrak onderteken het, het Grootboom VHI geskakel om die kontrak te herroep. Die VHI-konsultant het aan Grootboom gesê die verkoopsagent wat die VHI-lidmaatskap aan Grootboom bemark het, het nog nie met die geskrewe kontrak na die hoofkantoor teruggekeer nie.

“Die konsultant het voorgestel dat Grootboom VHI oor twee weke weer skakel (teen welke tyd die verkoopsagent die kontrak aan die VHI-hoofkantoor sou besorg het) en die konsultant kan dan die kontrak herroep en sy aansluitingsgeld van R14 000 aan hom terugbetaal.

“Toe Grootboom die VHI twee weke later skakel, het die konsultant gesê hulle kan nie die kontrak herroep nie omdat dit buite die afkoelperiode van vyf dae val.

“In antwoord op Grootboom se verweer dat hy telefonies met die maatskappy geskakel het ’n dag ná die kontraksluiting, het die konsultant gesê die telefoniese versoek om die kontrak te herroep, was ongeldig en dat Grootboom pleks daarvan die versoek per e-pos moes gerig het.”

Volgens Broekmann maak art. 16 van die Wet op Verbruikersbeskerming daarvoor voorsiening dat mense op bykans enige moontlike manier wat vasgelê word, binne vyf dae hul kontrak kan kanselleer: per e-pos, handgeskrewe brief, SMS, faks, stemnota of per WhatsApp-boodskap. Dit kan wel ook telefonies gedoen word indien die oproep opgeneem word.

Broekmann sê in die geval van nog ’n kliënt is ’n e-pos nie aanvaar nie.

Nog ’n kliënt het sy kontrak per faks, e-pos én per geregistreerde pos probeer kanselleer. VHI het geweier om die kontrak te kanselleer of die aansluitingsgeld terug te betaal omdat die geregistreerde brief ses dae nadat die kontrak geteken is, by die Poskantoor in ontvangs geneem is – een dag te laat.

Verbruikers lees diikwels nie hul kontrakte nie en besef dan eers later wat dit behels, het lede van die bedryf verlede jaar gesê tydens die Nasionale Verbruikerskommissie se ondersoek na die tyddeelbedryf.

Koste van kansellasie

“Elke keer wanneer VHI geweier het om die kontrak te herroep, het hy ’n stywe kansellasieboete van 50% van die uitstaande balans van die res van die 24 maande gehef. In die geval van Grootboom was die kansellasieboete wat VHI geëis het, R74 485,22. Grootboom het nie een keer gebruik gemaak van sy VHI-lidmaatskap nie,” sê Broekmann.

Om kontrakte namens kliënte te kanselleer, beroep Broekmann haar onder meer op bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming wat vereis dat kontrakte duidelik en in eenvoudige taal is. Sy glo VHI se kontrakte voldoen nie hieraan nie.

Sy glo ook van die bepalings en voorwaardes in die kontrakte is “onbillik en onredelik”, en straftariewe wat betaalbaar, is is nog moontlike oortredings van die wet.

Broekmann wil nuwe klagte by die NVK indien en sê sy gaan ’n maksimum boete ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming eis: R1 miljoen of 10% van VHI se jaarlikse omset. Sy oorweeg dit ook om die saak hof toe te neem om kliënte se geld terug te eis.

Onyx reageer namens VHI

Jacobs het in reaksie op Broekmann se stellings gesê hulle “verskil heeltemal” daarmee: “Ons regsafdeling het met getuienis gereageer op elkeen van die vyf ledenavrae wat sy aan ons gestuur het.

“Alle lede ontvang ’n presiese afskrif van hul diensooreenkoms op die dag wat hulle aansluit. Die Wet op Verbruikersbeskerming sê in die algemeen dat jy jou kennisgewing (om ’n kontrak te kanselleer) skriftelik moet indien en ons ooreenkoms spesifiseer hóé om dit skriftelik te doen.

“As jy hou by die proses, soos deur albei partye ooreengekom, sal jy ’n volgnommer en bewys van aflewering binne die afkoeltydperk hê. Niks en niemand kan keer dat jy binne die afkoeltydperk kennis gee nie. Ons het elke lid se geld terugbetaal wat hul kennisgewing afgelewer het volgens die bepalings en voorwaardes waartoe hulle toestemming gegee het.”

As ons die wet oortree, sou dit tog sekerlik vir haar maklik gewees het om te doen wat reg is vir haar kliënte?
Mark Gaffley van Onyx

Sy betwis Broekmann se bewering oor die gebrek aan waarde wat VHI bied: “Ons lede het selfs ’n dubbel-die-verskil-waarborg, waardeur hulle die laagste prys in die mark belowe word, en ons sal lede dubbel die verskil betaal as hulle ’n vergelykbare kwotasie kan kry wat ons nie kan nadoen op die tyd wat hulle gekwoteer is nie.

“Die afslag wat ons reiskonsultante behaal vir ons lede wat gereeld reis, tel baie gou op tot ’n hoër waarde as dit wat die lede vir hul lidmaatskap betaal.”

Sy sê die kansellasieboete van 50% van die balans van die vaste termyn is wel billik “aangesien soortgelyke ooreenkomste vir diens in die selfoon- en fiksheidsbedryf baie hoër is”.

Ondanks die NVK se baie spesifieke antwoord op die feit dat die NVK ’n ondersoek na VHI gedoen het, sê Jacobs: “Die meeste maatskappye het navrae by die NVK, hulle ondersoek ons nie spesifiek nie.”

VHI het meer as 30 000 lede en Jacobs sê hulle is “baie trots op ons maatskappy en die dienste wat ons lewer”.

Jacobs sluit af met ’n kwalik verskuilde dreigement teen publikasie van die inligting, naamlik dat die maatskappy sy reg voorbehou “om ons goeie naam en reputasie teen enige ongegronde bewerings en publikasies” te beskerm.

Mark Gaffley, hoof van die regsdepartement van Onyx, het in reaksie bygevoeg die sake is nog “vóór die litigasiefase en as sodanig sal dit onvanpas wees vir enigeen van ons om die meriete van hierdie sake op ’n openbare platform te bespreek”.

“As ’n algemene reël, bespreek ’n prokureur nie die meriete van sake wat hof toe gaan deur die media nie. Dis beslis nie hoe ons ons sake behartig nie, en daarom bevraag ons me. Broekmann se motiewe, aangesien dit lyk asof sy wil hê die sake moet deur die media bereg word.

“Hoe dit ook al sy, as dit me. Broekmann se siening is dat haar kliënte so ’n sterk saak het... moet sy die remedies gebruik wat aan hulle beskikbaar is, soos uiteengesit in die Wet op Verbruikersbekerming.”

Gaffley voeg by: “Dis ’n hartseer dag as ’n prokureur die media gebruik om die uitkoms vir haar kliënte te probeer manipuleer pleks van die korrekte forums tot haar beskikking te gebruik. As ons die wet oortree, sou dit tog sekerlik vir haar maklik gewees het om te doen wat reg is vir haar kliënte?”

Gaffley sê VHI “behou sy regte voor om op dié ongegronde bewerings te reageer, in besonderhede en wanneer dit in ’n latere stadium op die toepaslike forum nodig raak”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1302,24 (360)
  • Top 40 45528,86 (-11014)
  • All Share 51560,47 (-18368)
  • Resource 10 39755,88 (17194)
  • Financial and Industrial 30 68121,71 (-29534)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.