Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Vakansieklubs: 25 gróót veranderinge voorgestel

Ingrypende veranderings aan hoe tyddeel- en vakansieklubs verkoop en bedryf word, word aanbeveel in die verslag van die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) wat Donderdag ná ’n 18 maande lange ondersoek uitgereik is. Hier is 25 van die belangrikste aanbevelings uit omvattende aanbevelings van die kommissie.

  

Die volledige verslag kan hieronder gelees word. Lees ook in die berig hierby wat die pad vorentoe uitstippel vir verbruikers wat reeds vasgeteken is in kontrakte.

Lees ook: Nuwe, strenger regulasies vir vakansieklubs

1. Bestaande klagtes moet so gou moontlik opgelos word

Die NVK-paneel sê hy gaan dringend met individuele klubs in gesprek tree om die klagtes wat lesers in die openbare sittings geopper het, op te los.

Die NVK gaan pleit dat die volgende kontrakte dadelik gekanselleer word:

  • Waar bedenklike bemarking ter sprake was;
  • Waar mense nie in staat gestel is om die afkoelperiode te benut nie;
  • Waar bekostigbaarheidstoetse nie gedoen is nie;
  • Waar kontrakte langer duur as die drie jaar wat die bedryf as ’n maksimum voorgestel het;
  • Waar kontrakte aan kwesbare groepe soos pensioentrekkers verkoop is.
Vakansieklubs moet hulle regmaak vir ingrypende veranderinge. Foto: Pixabay

2. Lokmiddels moet gestaak word

Die praktyk om verbruikers met beweerde gratis aanbiedinge, soos geskenkbewyse vir vakansies, motors en vliegkaartjies na voorleggings oor tyddeel te lok, moet verbied word. Dit sluit in krapkaarte waarmee mense pryse kan wen.

3. Vals bemarking maak kontrakte ongeldig

Die paneel sê baie mense onderteken kontrakte gegrond op onbillike bemarkingspraktyke. Die paneel beveel aan dat almal wat beweer hulle is só gefop, van hul kontrakte vrygestel word.

4. Opnames moet van bemarking gemaak word

Alle voorleggings wat as deel van die bemarking van tyddeel aan verbruikers gedoen word, moet opgeneem word, hetsy met klank of video. Afskrifte daarvan moet gebêre word. As ’n dispuut ontstaan, moet dit bekend gemaak word.

5. Jy mag jou kredietkaart by die huis los

Die praktyk dat mense verplig word om kredietkaarte saam te bring na plekke waar bemarkingsvoorleggings gedoen word, moet verbied word. Dit kom nadat heelwat verbruikers se kaart onder valse voorwendsels gebruik is vir transaksies.

6. Geen druk mag op verbruikers geplaas word nie

Die praktyk dat verbruikers onder druk geplaas word om kontrakte dadelik te onderteken omdat aanbiedinge “slegs vandag geldig is” of omdat “bonuspunte slegs vandag geldig is”, moet gestaak word. Die paneel sê dit is altyd onwaar.

7. Lidmaatskap van ’n vakansieklub is nie ’n belegging nie

Enige voorstelling van vakansieklubs as beleggings moet onmiddellik gestaak word.

Ebrahim Mohamed, nasionale verbruikerskommissaris.

8. Lewenslange kontrakte moet verbied word

Alle tyddeelkontrakte moet vastetermynkontrakte word. Sowel die lid van die klub as die ontwikkelaar moet die hernuwing daarvan ná die vasgestelde tydperk goedkeur.

9. Meer inligting moet aan verbruikers verskaf word

’n Lys moet opgestel word van inligting wat aan verbruikers verskaf móét word voordat hulle by vakansieklubs aansluit. Die inligting moet ook vereenvoudig word.

10. Verbruikers moet tyd kry voordat hulle teken

’n Tydperk moet verloop vandat verbruikers al die inligting het wat hulle nodig het tot wanneer ’n geldige kontrak gesluit kan word. Dit is om verbruikers toe te laat om werklik oor die implikasies daarvan te dink. Die aanbevelings sluit nie in wat die paneel reken die tydperk behoort te wees nie.

11. Jy moet jou kontrak dadelik kry

Verbruikers móét die volledige kontrak kry op die dag dat hulle dit onderteken. In die verlede het baie mense hul kontrakte eers weke of maande later ontvang.

12. Die afkoeltydperk begin eers as jy jou kontrak het

Die paneel beveel aan dat die afkoeltydperk – die tydperk van vyf dae waarin jy ’n kontrak sonder enige strawwe of koste kan kanselleer – eers in werking tree wanneer verbruikers hul ondertekende kontrak ontvang het, verbruikers ingelig is dat hul lidmaatskap geaktiveer is en hulle ’n lidnommer gekry het.

13. Die afkoeltydperk moet verleng word

Gegewe hoe ingewikkeld tyddeelkontrakte is, beveel die paneel aan dat dit ernstig oorweeg moet word om die afkoeltydperk van vyf dae te verleng. Daar is geen aanbeveling van met hoe lank nie.

14. Lede moet magte kry in klubs

Die verslag sê die sogenaamde vakansieklubs self het eintlik geen mag nie. Hoewel jaarvergaderings gehou word, het lede nie ’n sê oor met hoeveel heffings en ander uitgawes styg of oor enige aspek wat hulle raak nie. Die ondersoekpaneel beveel aan dat lede in ’n posisie geplaas word waar hulle wel ’n invloed kan uitoefen op besluite.

15. Mededinging in die bedryf moet ondersoek word

Die verslag lig uit dat die bedryf deur net ’n paar groot rolspelers oorheers word, en dat die maatskappye dikwels alle aspekte beheer – van bemarking tot die bestuur van die klubs. Daar is ook die vermoede van samespanning tussen rolspelers in die bedryf oor produkte, pryse, bemarking en die bepalings en voorwaardes van kontrakte. Daar word aanbeveel dat mededinging in die bedryf deur die Mededingingskommissie en die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom ondersoek word.

16. Nuwe reguleerder vir die bedryf gevra

Die paneel beveel aan dat die minister van handel en nywerheid dit oorweeg om ’n reguleerder te skep vir die bedryf. Die bedryf se voorstel dat hy homself kan reguleer, word verwerp.

17. Kansellasie moet makliker gemaak word

Die paneel beveel aan dat vakansieklubs verplig word om ’n e-posadres te verskaf waardeur mense kontrakte binne die vyf dae ná ondertekening kan kanselleer. Dit sal nie meer aanvaarbaar wees om te vereis dat kansellasie slegs per geregistreerde pos geskied nie. Die verslag sê die bedryf “speel wegkruipertjie” om verbruikers te keer om kontrakte betyds te kanselleer wanneer hulle koue voete kry binne die afkoeltydperk.

18. Nuwe wet moet geskryf word

Die paneel beveel aan dat ’n “moderne, bedryfsgefokusde, omvattende” wet geskryf word oor die tyddeelbedryf, gegewe dat die huidige Wet op die Beheer van Eiendom-tyddeel reeds in 1983 die lig gesien het.

19. Die waarde van punte moet beter verduidelik word

Die paneel beveel aan dat die werklike randwaarde van punte aan verbruikers verskaf word voordat hulle dit koop. Dit moet insluit presies wat hulle daarmee sal kan koop. Waardasiesertifikate moet ook jaarliks uitgereik word wat uitstippel watter soort verblyf verbruikers daarmee sal kan koop op watter tyd van die jaar.

20. Verbruikers moet weet wanneer hul punte verval

Verbruikers moet in kennis gestel word indien van hul punte gaan verval. Die paneel beveel ook aan dat mense wie se punte verval, geld terugkry vir die instandhouding van die verblyf waarvoor hulle betaal het. Indien punte gaan verval omdat verbruikers nie plek kan kry nie, moet dit oorgedra word totdat hulle plek kan kry.

21. As verblyf nie beskikbaar is nie, moet jou heffings daal

Die paneel sê in gevalle waar verbruikers gesê word daar is nie verblyf beskikbaar nie, moet hul heffings of bestuursgelde verminder word.

22. Punte moet makliker verkoop kan word

Die paneel beveel aan dat ’n platform geskep word waar verbruikers hul punte kan herverkoop, ruil of in kontant omskep. Hoewel daar op die oomblik platforms soos Cape Escape is wat dit doen, sê die paneel dié platform “is bevlek deur hul gebrek aan onafhanklikheid van die bedryf”.

23. Oudit van beskikbare verblyf moet gedoen word

Die voorgestelde nuwe reguleerder moet ’n oudit doen van alle vakansieverblyf wat in Suid-Afrika beskikbaar is, sowel as ’n oudit van al die vakansieverblyf wat in die vorm van punte verkoop word. Daar is ’n sterk vermoede dat meer punte verkoop word as wat daar tyddeelverblyf beskikbaar is.

24. Die gehalte van verblyf moet ondersoek word

Die paneel beveel aan dat die graderingsraad gereeld die eiendom wat deur tyddeel verhuur word, ondersoek en gradeer om te verseker dat dit waarde vir geld bied.

25. Verbruikers moet opgevoed word

Die paneel beveel aan dat ’n veldtog van stapel gestuur word om verbruikers in te lig oor die risiko’s van vakansieklubs.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1249,2 (4808)
  • Top 40 44417,7 (-58760)
  • All Share 50434,39 (-60330)
  • Resource 10 38052,94 (5138)
  • Financial and Industrial 30 66778,91 (-120715)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.