Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Vasbyt! Ons kan darem nog pizza deel
Pizza is ’n bederfkos vir verbruikers onder druk. Foto: Pixabay

Suid-Afrikaanse salaristrekkers wat noustrop trek, troos hulle met wegneemetes en pizza.

Hoewel ook dié restaurante swakker vaar as ’n jaar gelede, is dit een van die min luukshede wat mense hulself nog veroorloof.

Dít blyk uit die jongste syfers van die restaurantgroepe Spur Corporation, ­Taste en Famous Brands.

“Dit is ’n wêreldwye tendens dat wegneemetes in moeilike tye vir langer beter vaar,” sê die ekonoom Mike Schüss­ler.

Dit is iets waarmee mense hulself nog bederf.

Ontleders sê die restaurantgroepe se syfers toon dat mense wat gemiddelde salarisse verdien finansieel erg in die knyp is.

Spur Corporation het hierdie week in ’n handelsnota gesê Spur Steak ­Ranches se verkope was vanjaar 2,1% laer as verlede jaar. As die nuwe winkels wat hy oopgemaak het se verkope uitgesluit word, is dit 3,4% laer.

Captain DoRegos se verkope het met 17,6% gedaal.

Die pizza- en pastarestaurante Panarottis en Casa Bella se verkope het egter met 13,3% gegroei.

John Dory’s Fish Grill Sushi, wat wegneemetes bedien, het met 14,3% gestyg.

The Hussar Grill het met 35,6% gegroei en RocoMamas met 78,1%.

De Wet Schutte, ’n ontleder van Avior, sê The Hussar Grill en RocoMamas se resultate wys dat hoërinkomstegroepe ’n bietjie beter vasbyt.

“Dit is waarom Famous Brands ondernemings in hierdie deel van die mark koop, soos Tashas en Paul.

“Famous Brands probeer proaktief spyskaarte aanpas om meer waarde vir geld te bied.”

Pizzas vaar relatief goed, omdat mense die ete met mekaar kan deel en só geld bespaar. Dit word gestaaf deur die syfers van Panarottis, Debonairs en Domino’s.

Baie hang ook af van wat restaurante se bestuurspanne kan doen.

Maar mense bestee nie noodwendig méér as hulle ’n paar ekstra sente in die sak kry nie.

“Restaurante en casino’s sê albei dit is nie dat mense nie geld het nie. Die probleem is verbruikersvertroue.”

Die herstel gaan onder begin. Eers gaan hulle hout en vleis koop vir ’n braai. Dan gaan hulle wegneemetes koop, dan ’n nuwe ketel en mikrogolf.
Mike Schüssler, ekonoom

Sowel Schutte as Abdul Davids, ’n ontleder van Kagiso-batebestuur, sê Spur se negatiewe groei kan aan swak verbruikersvertroue toegeskryf word.

Dit is die eerste geval van negatiewe groei in Spur se geskiedenis.

Schutte sê dit sal blote bespiegeling wees om te sê of die onlangse verbruikersboikot teen Spur ’n impak gehad het, want daar is baie faktore om in ag te neem. “Wat ek wel kan sê, is dat Spur ’n diverse klantebasis het.

“ ’n Mens moet ook onthou Spur se verkope het al voor die voorval begin verlangsaam.”

Luidens Spur Corporation se jaarverslag vir verlede jaar, het verkope by Spur Steak Ranches met 4% gegroei. Mense het egter minder per kop vir hul etes betaal.

Famous Brands het in Mei, toe sy resultate bekendgemaak is, in ’n Sens-verklaring sy wegneemrestaurante Debonairs Pizza, Steers, Fishaways en Milky Lane uitgesonder as die beste presteerders met dubbelsyfer-groei. Ook Tashas, ’n duurder restaurant, het dubbelsyfergroei getoon.

Taste, wat onder meer Domino’s besit, het met sy resultate in Mei gesê dié nuwe pizzaplek se verkope het in Maart en April met 7,8% en 13,4% gegroei.

Davids sê verbruikersvertroue gaan nog ’n tyd lank sukkel weens die onvoorspelbare politieke situasie.

Intussen druk minstens ’n driekwart van Suid-Afrikaanse huishoudings se geldsake, luidens Momentum en Unisa se jongste jaarlikse welvaartspeiling.

Die welvaartsindeks het van 66,3 punte in 2015 tot 67,3 in 2016 verbeter.

“Dit beteken meer huishoudings gebruik hul vermoë om aan finansiële aktiwiteite deel te neem.”

Altesame 26,3% van huishoudings se welvaart is nou goed, teenoor 23,2% in 2015.

Die goeie nuus is dat werkende Suid-Afrikaners se besteebare inkomste in Junie vir die vierde maand agtereenvolgens met meer as die inflasiekoers gestyg het.

Gemiddelde salarisse was in dié maand 1,3% meer as ’n jaar gelede nadat inflasie verreken is, en die hoogste in 15 maande, volgens BankservAfrica se indeks van besteebare salarisse (BDSI).

Die BDSI meet die salaris in jou bankrekening nadat aftrekkings soos belasting, jou mediesefondspremie en aftreegeld bereken is.

Schüssler sê mense wend hierdie ekstra geld aan om hul skuld af te betaal, maar hulle sal stadigaan weer begin geld bestee by winkels.

“Die herstel gaan onder begin. Eers gaan hulle hout en vleis koop vir ’n braai. Dan gaan hulle wegneemetes koop, dan ’n nuwe ketel en mikrogolf.

“Daarna koop hulle klere, veral by goedkoop winkels soos Mr Price, Ackermans en Pep. Daarna kom die meubels, motors en huise.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.