Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Verbruikers het meer geld vir uitgee, maar...

Daar ís goeie nuus vir die ekonomie, maar ’n lang herstelpad en harde werk lê nog voor, sê kenners.

aanlyn inkopies
Huishoudings se geldsake het in die derde kwartaal verbeter en hulle het byna 70% meer bestee as in die tweede kwartaal danksy afslag op talle goedere en lae inflasie.

Huishoudings se geldsake het in die derde kwartaal verbeter en hulle het byna 70% meer bestee as in die tweede kwartaal danksy afslag op talle goedere en lae inflasie, sê Nedbank se ekonomiese eenheid.

Persoonlike besteebare inkomste was in die derde kwartaal 3,6% hoër as ’n jaar gelede.

Namate inperkings verslap en ekonomiese bedrywighede weer begin vaart kry, het huishoudings se beursies dikker geword omdat mense meer geld kon verdien, sê Nedbank in reaksie op die syfers in die Suid-Afrikaanse Reserwebank se kwartaallikse bulletin, wat Dinsdag uitgereik is.

Hoewel skuld ook hoër was, het besteebare inkomste skerper gestyg, wat wys huishoudings bly versigtig te midde van onsekerheid oor die ekonomie en indiensneming. Gevolglik het die verhouding van huishoudelike skuld tot nominale besteebare inkomste van 86,5% in die tweede kwartaal tot 75,7% in die derde kwartaal gedaal.

Tog is ekonomiese toestande steeds swak en vertroue laag, sê Nicky Weimar en Johannes Khosa, ekonome van Nedbank. Die private sektor huiwer om te belê weens die negatiewe invloed van die inperkingstyd op hul finansies, die stadige pas van strukturele hervorming en onbetroubare kragtoevoer. Dit is nadelig vir indiensneming en groei in besteebare inkomste en beteken huishoudings se finansies sal op kort termyn onder druk bly.

Dít strook met bevindings in ’n aanlyn peiling deur ovatoyou onder sowat 2 000 respondente in November.

Volgens Amanda Reekie, direkteur van ovatoyou, wat meningspeilings aanlyn doen, het sowat 70% van respondente gesê hulle gaan hul feestydviering afskaal of het dit gekanselleer. Sowat 47% sal 50% minder bestee as verlede jaar en 27% meen hulle sal ’n kwart minder bestee.

Heelwat respondente gaan feitlik niks uitgee nie omdat hulle hul werk verloor het of hul salaris verminder is.

Volgens Reekie is dit slegte nuus vir restaurante dat meer as 70% van respondente nou minder in restaurante gaan eet as voor Covid-19 of glad nie meer nie. Altesame 16% het aangedui hulle bestel steeds kos van restaurante vir aflewering of oplaai.

Uit ovatoyou se peiling blyk verbruikers sukkel om rekenings te betaal en kan nie agterstallige huurgeld bybring nie. Talle moes weens die effek van die Covid-19-inperking lenings aangaan wat hulle nie eintlik kan bekostig nie.

Eiendom is ligpunt

’n Ligpunt in die Reserwebank se kwartaallikse bulletin is dat groei in verbandlenings vir residensiële eiendom sedert die verslapping van inperkingsmaatreëls ’n hupstoot gekry het danksy lae rentekoerse.

Hoewel groei in huispryse vanjaar verder verlangsaam het te midde van lang tye van swak ekonomiese groei, druk op huishoudings se besteebare inkomste en werkloosheid, is dit positief dat residensiële eiendom in die derde kwartaal gemiddeld tien weke in die mark was teenoor langer as 14 weke in die tweede kwartaal.

Dit is die laagste sedert die derde kwartaal van 2007 en is grootliks danksy histories lae rentekoerse en laer oordragkoste, wat dit bekostigbaarder maak.

Die Reserwebank sê ondanks trae groei in huispryse sal aktiwiteit in die mark vir residensiële eiendom toeneem in pas met groter vertroue, wat blyk uit Absa se indeks wat sentiment onder huis­eienaars meet.

Boonop moes 11% van respondente hul ondernemings sluit weens die inperking.

Kamilla Kaplan, ’n ekonoom van Investec, sê in ’n nota daar was in November 24% meer likwidasies van sakeondernemings as ’n jaar gelede. Dit kan in die komende maande verder toeneem wanneer tydelike verligting van banke aan kliënte tot ’n einde kom en handelstoestande steeds gedemp is.

Syfers van Statistieke Suid-Afrika wys die meeste van die 272 likwidasies in November was in die finansiële sektor, gevolg deur die handelsektor. Van die totaal was 191 vrywillige en 91 gedwonge likwidasies.

Reekie sê met ’n peiling in Mei was die koronavirus mense se derde grootste kommer naas werkloosheid en misdaad. Nou meen Suid-Afrikaners die land se grootste probleem is werkloosheid, gevolg deur misdaad, armoede, korrupsie, die ekonomie en dan die Covid-19-pandemie.

Daniel Kibel, medestigter van CM Trading, sê in ’n verklaring vir Suid-Afrika is 2021 se vooruitsigte om die minste te sê onseker, omdat die ekonomie al lank voor Covid-19 gesukkel het.

“Wanbestuur en korrupsie, saam met Eskom se probleme, is gevoelige punte en die pad na herstel lyk lank.”

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, het vroeër vandeesmaand met die bekendmaking van die BBP-syfers vir die derde kwartaal gesê hoewel groei beter was as verwag, word ’n ekonomiese inkrimping van sowat 7,5% steeds vir die jaar verwag. Dis bemoedigend dat bruto vaste kapitaalvorming (of investering) in die derde kwartaal 26% hoër was op ’n kwartaalgrondslag. Dít is die eerste stap wat nodig is dat die ekonomie produktiewe kapasiteit genereer wat tot beter toekomstige groei sal lei, verduidelik Ackerman.

As Suid-Afrika die strukturele kwessies kan takel en Eskom op die regte pad plaas, kan 2021 ’n belangrike tree in die regte rigting wees. Volgens Ackerman moet die land voor 2022 ’n punt van positiewe, volhoubare groei bereik om ons momentum te gee om kwessies soos die begrotingstekort en werkloosheid te takel.

Die goeie nuus van die BBP-syfers is dat die groei van 66% (seisoensaangepas en geannualiseer) op ’n kwartaalgrondslag beter is as verwag. “Die slegte nuus is dat ’n lang pad en harde werk nog voorlê,” sê hy. “Ons moet voortdurend werk aan strukturele probleme, implementering van beleidshervorming en om korrupsie uit te roei.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.