Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Verbruikers koop dalk weer meer – maar op skuld

Aan die een kant koop verbruikers weer meubels en huishoudelike toestelle en doen meer mense aansoek om krediet by winkels.

Hulle koop ook weer aansienlik meer klere en skoene.

Verbruiker
Verbruikers koop meer, maar hulle betaal nie met kontant nie.

Aan die ander kant bestee hulle al hoe minder aan huisverbeteringe en laai hulle hul kostrollies glad nie voller nie.

Ekonome verskil oor wat om te maak van die teenstrydige syfers oor winkelverkope wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Woensdag uitgereik het, maar oor een ding is daar konsensus: Dit lyk al hoe waarskynliker dat Suid-Afrika se ekonomie in die eerste kwartaal van 2019 gekrimp het. Die kleinhandelverkoopsyfers is ’n belangrike stukkie van die legkaart van die bruto binnelandse produk (BBP).

Hoewel dit nog net die syfers vir Februarie is, is veral die driemaande-syfer kommerwekkend omdat BBP-syfers op kwartaalsyfers fokus.

In die drie maande tot einde Februarie het kleinhandelverkope met 1,8% gedaal vergeleke met die drie maande tot einde November. Dis die eerste keer sedert Junie 2018 dat die driemaandesyfer negatief is; dis ook nie ’n standaard-daling in Februarie nie.

Kleinhandelverkope het wel op ’n jaargrondslag met 1,1% gegroei en op ’n maandgrondslag met 0,5%. Dis alles gemeet op grond van konstante 2015-rand, ’n maatstaf wat die uitwerking van inflasie uitsluit en wat ook gebruik word wanneer die BBP bereken word.

Die powere driemaandesyfers in die kleinhandel kom nadat vervaardigingsproduksie in dieselfde drie maande met 0,6% gedaal het en mynbouproduksie met 5% gedaal het.

’n Effens verrassende tendens van die afgelope paar maande is dat die verkope van meubels, huishoudelike toestelle en elektronika in Februarie skerp – met 7,4% – gestyg het. Gewoonlik word besteding in dié kategorie beskou as ’n aanduiding dat verbruikers weer geld het om aan nie-noodsaaklike items te bestee, of meer vertroue in die toekoms het.

Gegewe jare waarin mense minder bestee het in dié kategorie, kan dit dalk bloot wees dat daardie geduldige rusbank nou deurgesit is en vervang móét word.

Die indeks van verbruikersvertroue van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek het in die eerste kwartaal van 2019 tot net 24 geval – ver onder die halfpadmerk.

Die Investec-ekonoom Lara Hodes sê die gedempte verkoopsyfers beklemtoon die lot van die Suid-Afrikaanse verbruiker en die “magdom uitdagings” wat mense moet trotseer: “Die struktureel hoë werkloosheidskoerse te midde van ’n trae arbeidsmark, tesame met gedempte vlakke van kredietverlening aan huishoudings en stygende geadministreerde pryse (soos kragtariewe) en ander belastings, weeg steeds swaar op die reeds onderdrukte verbruiker.

“Ons sien geen betekenisvolle styging in huishoudelike verbruik op mediumtermyn nie.”

Ons sien geen betekenisvolle styging in huishoudelike verbruik op mediumtermyn nie.
Lara Hodes, Investec

Johannes Khosa en Dennis Dykes, ekonome van Nedbank, reken ook dat huishoudings se geldsake nog lank onder druk wees. Op kort termyn sal verbruikersbesteding wel ’n bietjie aangehelp word deur gedempte inflasie, veral laer kospryse.

Khosa en Dykes sê verbruikers se “brose vertrouensvlakke” maak hulle ook huiwerig om geld te bestee en dit gaan na verwagting vir die grootste deel van die jaar voortsleep.

Banke en ander kredietverskaffers gaan waarskynlik ook baie streng wees oor die toestaan van lenings “weens die bewolkte ekonomiese vooruitsig, wat vererger is deur beurtkrag en verlangsamende wêreldgroei”.

Die Momentum-ekonoom Sanisha Packirisamy wys egter daarop dat die verhouding van huishoudings se skuld tot hul besteebare inkomste nou die laagste in 14 jaar is – sedert 2004 – volgens syfers van die Nasionale Kredietreguleerder.

Dit beteken dat hulle dalk weer ruimte het om op krediet te bestee. Die aantal aansoeke om winkelkrediet (soos winkelkaarte of meubel-lenings by kleinhandelaars) het toegeneem, wat dit bevestig.

Die aantal kredietaktiewe verbruikers het ook skerp gestyg, met 1,8 miljoen mense tot 25,9 miljoen, in die laaste kwartaal van 2018.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.