Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Verbruikers se skuld ergste in 4 jaar

Einde Junie vanjaar het 10,2 miljoen verbruikers skuldprobleme en ’n verswakte kredietgeskiedenis gehad – die meeste nóg die afgelope vier jaar.

Verbruikers sukkel al hoe meer met skuld.

Die laaste keer dat soveel verbruikers ’n verswakte kredietgeskiedenis gehad het, was einde Junie 2015.

Die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) se kwartaallikse kredietburo-verslag toon dat verbruikers met ’n verswakte kredietgeskiedenis weer sedert die laaste kwartaal verlede jaar tot bo 10 miljoen gestyg het.

Die inligting word verkry van kredietburo’s en sluit mense in wat drie maande of langer agterstallig met ’n betaling was. Dit sluit ook mense in wat aan skuldinvorderaars oorhandig is en teen wie ’n hofbevel uitgereik is.

Teen die einde van die tweede kwartaal vanjaar was daar 660 000 meer mense met ’n verswakte kredietgeskiedenis as aan die einde van Junie verlede jaar.

Aan die einde van Junie vanjaar was daar 14,8 miljoen verbruikers wat ’n gesonde status by kredietburo’s het. Dit is 59% van die 25,1 miljoen mense wat krediet gebruik.

Die verbruikers wat oorhandig is aan skuldinvorderaars het tot 12,7% van die totaal gestyg. Dit is ook die hoogste sedert Junie 2015.

Einde van die tweede kwartaal het verbruikers se totale uitstaande skuld R1 904 miljard beloop, die hoogste nog.

In dié kwartaal is R134,7 miljard se lenings en krediet aan verbruikers toegestaan. Dit is 2% meer as dieselfde kwartaal verlede jaar, toon die NKR se verslag.

Die verslag handel oor ses tipes krediet wat aan verbruikers toegestaan word, naamlik verbande, gesekureerde lenings, kredietgeriewe, ongesekureerde krediet, korttermynlenings, en ontwikkelingskrediet.

Kredietkaartskuld styg skerp

Weens die stygende lewenskoste is daar ongelukkig verbruikers wat dit moeilik vind om met hul geld uit te kom.
Nomsa Motshegare

Krediet wat op kredietgeriewe toegestaan is, het die skerpste styging in die tweede kwartaal vanjaar getoon vergeleke met dieselfde kwartaal in die vorige jaar. Hierdie soort krediet het jaar tot jaar met 13% tot R21,1 miljard gestyg.

Ingesluit daarby is krediet wat op krediet- en petrolkaarte toegestaan is, en dit het skerp met 32% op ’n jaargrondslag tot R10,3 miljard gestyg.

Nomsa Motshegare, uitvoerende hoof van die NKR, is bekommerd oor die toename in kredietverlening.

“Weens die stygende lewenskoste is daar ongelukkig verbruikers wat dit moeilik vind om met hul geld uit te kom.”

Dié krediet is sover vasgestel kan word die meeste wat nog per kwartaal op kredietkaarte verleen is.

Dit het skielik in 2017 jaar tot jaar skerp begin styg. In die tweede kwartaal van 2017 het krediet toegestaan op kredietkaarte met 39% van die vorige jaar dieselfde tyd gespring. Verlede jaar in die tweede kwartaal het dit nog 31% van die vorige jaar gespring.

Mikrolenings styg steeds

Die kategorie van skuld wat die tweede grootste groei getoon het, is ongesekureerde krediet of mikrolenings. Dié tipe krediet het met 10% jaar tot jaar gestyg tot R28,6 miljard in die kwartaal vanjaar.

Ook die totale uitstaande ongesekureerde skuld het redelik skerp met 15% tot R205,6 miljard gestyg. Dit is tans op die hoogste vlak nog.

Dié krediet het sowat ’n dekade gelede omtrent oor vyf jaar baie toegeneem en daar was destyds groot kommer daaroor. Een van die banke wat baie van die skuld toegestaan het, African Bank, het in die middel van 2014 ineengestort.

Die lenings het in 2018 weer skerp met dubbelsyfers begin styg en het die tweede kwartaal verlede jaar met 29% jaar tot jaar gegroei. In die vierde kwartaal verlede jaar is die meeste van die lenings nóg van R31,1 miljard in ’n kwartaal toegestaan.

Minder verbruikers betaal betyds

Die verslag toon ook die persentasie van die ongesekureerde skuld wat betyds terugbetaal word, het verlede jaar in die eerste kwartaal ’n hoogtepunt van 75,3% bereik en het sedertdien begin daal. Dit is nou op 72,8%.

Dit het met die vorige siklus in die vierde kwartaal van 2011 op 73,8% gestaan en van toe af skerp begin daal. Dit het van dié punt af binne net meer as twee jaar tot ’n laagtepunt van 60,7% in die eerste kwartaal van 2014 gedaal.

Die stand van dié leningsboek het eers in die derde kwartaal van 2016 weer in so mate herstel dat dit bo 70% ingeskuif het.

Verbande en motorlenings groei nie

Die helfte van die totale uitstaande verbruikerskuld – R958,4 miljoen – is vir verbande. In die tweede kwartaal is R40,1 miljard se verbande toegestaan, feitlik onveranderd van ’n jaar tevore.

Ook motorlenings het nie jaar-tot-jaar-groei getoon nie. In die tweede kwartaal is R41,2 miljard se gesekureerde lenings toegestaan, wat vergeleke met ’n jaar gelede ’n daling van byna 1% is. Motorlenings het R38 miljard daarvan beloop en was sowat R600 miljoen minder as wat in dieselfde kwartaal van 2018 toegestaan is.

Minder op winkelkaarte gekoop

Ingesluit onder kredietgeriewe is die skuld op winkelkaarte wat in die tweede kwartaal vanjaar op ’n jaar-tot-jaar-grondslag met 12% tot R4,8 miljard gedaal het.

Die meeste krediet nog is in die vierde kwartaal van 2018 op winkelkaarte toegestaan toe R6 miljard aan verbruikers verskaf is – ’n sprong van 31% van die vorige jaar dieselfde kwartaal. Die laaste kwartaal van die jaar is tradisioneel ’n baie belangrike handelstyd vir winkelgroepe omdat dit die feestyd insluit.

skuld

Meer oor:  Lenings  |  Skuld  |  Verbruikersbesteding  |  Kredietrekord  |  Inkomste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.