Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Verseker nou ook jou huis met net ’n app
Naked bied nou ook huisversekering deur middel van sy app.

Afgesien van motorversekering bied die versekeraar Naked nou ook huis- en huisinhoudversekering deur middel van sy app.

Dit beteken Suid-Afrikaners kan nou met die klik van ’n paar knoppies op ’n slimfoon hul eiendom ten volle verseker.

Dit klink dalk soos ’n ideale geleentheid vir ’n bedrogspul, maar Naked is voorbereid daarop, sê Ernest North, medestigter.

Net soos met tradisionele versekering moet die eiendom waardeer word om die versekeringspremie te bepaal.

Maar in stede van ’n waardeerder wat jou eiendom besoek, beantwoord jy ’n lys met vrae en stuur ’n paar foto’s en video’s van die eiendom aan Naked.

Sy gevorderde rekenaarprogrammatuur verwerk jou antwoorde, die foto’s en video’s en gee uiteindelik ’n waarde aan die gebou en bepaal daarvolgens jou premie.

Jy kan dit wel wysig as jy jou huis vir minder of meer wil laat verseker.

Die foto’s en video’s help Naked ook om te bepaal vir hoeveel jy jou huis of die inhoud moet verseker, sê North. Die beeldmateriaal word deur die rekenaar ontleed en dit identifiseer byvoorbeeld duur items soos TV-stelle of ander toebehore.

Sou Naked se programmatuur bereken jy onderverseker jou huis of die inhoud, sal dit aanbeveel jy verhoog jou dekking.

Die mikpunt is nie om hoër premies te ontvang nie, maar eerder om die proses van versekering so maklik as moontlik te maak, sê North.

Danksy gevorderde kunsmatige intelligensie en programmatuur kan Naked die meeste eise wat hy ontvang, dadelik uitbetaal. “Die meeste mense jok nie, sodat hulle ’n pynlose ervaring het wanneer hulle wel ’n eis indien.”

Naked versamel ook ongelooflik baie inligting oor sy kliënte, en veral sy toekomstige kliënte, om te bepaal of hulle ’n risiko vir bedrog toon.

Sy kunsmatige assistent staan as Rose bekend en sy verwerk alle nuwe aansoeke wat deur die app ontvang word.

Naked kan uiteindelik heelwat oorhoofse koste uitsny omdat hy die proses van versekering – en die uitbetaling van eise – tot ’n groot mate geoutomatiseer het.

Rose monitor egter elke beweging en huiwering van enigiemand wat nuut vir versekering aansoek doen. “As jy ’n vraag begin beantwoord, eers huiwer en dan dalk die antwoord uitwis en ’n ander antwoord invoeg, stoor ons dit,” sê North.

Die stelsel stoor elke interaksie wat kliënte met die app het sodat ’n risikoprofiel uiteindelik opgestel word uit ’n warboel van veranderlikes, insluitende jou antwoorde op die betrokke vrae.

“Dit gaan nooit 100% akkuraat wees (om skelms te betrap nie), maar dit werk ongelooflik goed.”

Naked kan uiteindelik heelwat oorhoofse koste uitsny omdat hy die proses van versekering – en die uitbetaling van eise – tot ’n groot mate geoutomatiseer het.

Daar word daagliks al hoe meer eise deur Rose goedgekeur en uitbetaal sonder dat enige mens as tussenganger opgetree het.

Rose kan wel nie ’n eis pertinent afkeur nie. As sy onraad vermoed, of onseker is oor iets, word die eis aan ’n personeellid gestuur om te verwerk.

Omdat minder mense daar werk, en Naked dus ruim op personeelkoste bespaar, kan hy goedkoper premies aan kliënte bied, sê North.

Die versekeraar beplan ook om eersdaags korttermynversekering te bied vir individuele items, soos ’n skootrekenaar of slimfoon.

Meer oor:  Naked  |  Finansiële Beplanning  |  Geldsake  |  Versekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.