Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Versekering: Is jou dekking reg vir jóú?

“Julle ouens in die versekeringsbedryf is almal ’n klomp skelms,” sê my vriend nou die dag vir my op die gholfbaan.

griessel
Willie Griessel

Ek is steeds nie seker of hy dit gesê het om my die hoenders in te maak sodat hy sielkundig die oorhand oor my kon kry in die spel en of dit werklik sy mening is nie, maar ek sal nie heeltemal verbaas wees as hy wel so dink nie.

Baie mense huldig hierdie mening nadat hulle probleme met eise opgetel het. Hul ongelukkigheid spruit gewoonlik daaruit dat die uitbetaling nie verloop soos hulle gehoop het dit sou nie.

Laat my toe om dit te sê: As iemand wat al langer as 20 jaar in die korttermynversekerings­bedryf werk en duisende eise gesien het, kan ek jou verseker dat versekeraars (in elk geval dié met wie ek te doen het) nie na redes soek om jou eis te weier nie.

Die teleurstelling kom gewoonlik weens een van drie redes: 

  • Die advies wat jy ontvang het, was nie gepas of voldoende nie;
  • Daar was ’n kommunikasie- gaping tussen jou en die makelaar of die versekeraar oor waarvoor jy gedek was; of
  • Jy het nooit ’n geldige eis gehad nie.

Dit is ons ervaring dat die meeste mense hul korttermynversekering as ’n nodige euwel beskou en dat hulle die minimum tyd (en natuurlik premie) daaraan wil bestee.

Hulle is dan ook geneig om enigiemand met hierdie rol te vertrou omdat hulle so ’n lae dunk het van die waarde van hierdie tipe adviseur.

Mense skuif ook dan tipies eers van een korttermynmakelaar of -adviseur na ’n ander wanneer ’n eis afgekeur is, baie soos mense wat diefwering opsit of hul sekuriteit opgradeer ná ’n inbraak.

Soms kan jou eerste verlies egter katastrofies wees. ’n Mens moet dus probeer om beter voorbereid te wees.

Dit is nou maar deel van menswees. Ons is nie baie goed daarmee om risiko voor die tyd raak te sien nie en tree meestal reaktief op.

Jy neem korttermynversekering uit sodat jy finansieel kan oorleef as ’n ramp van een of ander aard jou tref. Dit is dus gevaarlik om net op premie te fokus as jy hierdie versekering uitneem. Maak doodseker jy is korrek verseker vir jou behoeftes. Foto: iStock

Die hoofrede hiervoor is dat die meeste mense slegs na die premie kyk en hul adviseurs kies op grond van wie die laagste premie aanbied (vandaar ook die beskrywing as ’n makelaar) terwyl hulle die risiko-element (dat jy nie regte advies kry en derhalwe reg verseker is nie) totaal ignoreer.

Onthou, dit baat jou min om R500 per maand of selfs R5 000 per maand (vir kommersiële polisse) minder te betaal, net om wanneer jy ’n eis van ’n paar honderdduisend rand het, uit te vind jy is nie reg verseker nie.

Dit bring my by die punt waar ek sê jou versekering is net so goed soos die adviseur wat jy gebruik om as middelman op te tree tussen jou en die versekeraar. Die negatiwiteit teenoor versekering en veral teenoor korttermynversekering is ’n regstreekse gevolg van ’n gebrek aan goeie advies en swak eise- diens en nie noodwendig van die versekeringsproduk wat jy uitgeneem het nie.

Vir die verbruiker is swak diens maklik om raak te sien (hoewel dikwels te laat), maar om te weet of jy goeie advies (vry van ’n konflik van belange) ontvang, is natuurlik aansienlik moeiliker om te bepaal as jy self ’n leek op die gebied is.

Bogenoemde beginsels raak natuurlik eksponensieel belangriker hoe meer kompleks jou versekeringsbehoeftes is.

Indien jy egter uit bogenoemde die belangrikheid van ’n kundige op hierdie gebied insien, kan die volgende jou moontlik help om die regte adviseur te kies.

  • Vind jou adviseur, moenie wag dat hy jou vind nie. “Kan ek kwoteer op jou versekering?” is na ons mening nie die ideale vertrekpunt nie aangesien dit weer eens net op premie (wat maklik manipuleerbaar is) fokus. Probeer verstaan hoe die betrokke makelaar oor risiko dink en luister spesifiek na voorstelle wat gemaak word om nie net jou premiegroei te bestuur nie, maar ook jou risiko en eiserekord.
  • Ondervinding is belangrik, of jy dit nou wil weet of nie. En weer eens, hoe meer gekompliseerd jou behoefte is, hoe belangriker is dit om met iemand met ondervinding of wat toegang tot daardie ondervinding het, te werk.
  • Het die adviseur die nodige ondersteuningspan? Korttermynversekering is ’n arbeidsintensiewe bedryf en iemand wat nie hierin spesialiseer of nie die nodige ondersteuningspan en stelsels het nie, gaan beslis die bal laat val.
  • Kyk na vergoedingstruktuur: Ons meen dat die tradisionele vergoedingsmodel (kommissie op die premie) ’n potensiële belangebotsing veroorsaak aangesien ’n laer premie ook ’n laer inkomste vir die makelaar teweeg bring. Ideaal gesproke moet wat met jou premie gebeur nie ’n uitwerking op jou adviseur se inkomste hê nie sodat hy/sy bloot kan adviseer met jou beste belang as enigste prioriteit.
  • Vra oor kwalifikasies: Kan jou adviseur bewys lewer van deurlopende opleiding vir homself en sy personeel?

Ten slotte: As jy die afspraak met jou adviseur afskeep en dit net so gou moontlik verby wil kry omdat die premie relatief tot die res van jou uitgawes klein is, maak jy die fout dat jy slegs na die premie kyk maar die potensiële risiko’s ignoreer.

’n Fout op hierdie gebied kan jou miljoene rande kos. 

  • Willie Griessel is ’n direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management en is ook die hoof van korttermynversekering. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.
Meer oor:  Versekering  |  Finansiële Beplanning  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2085,82 (-20024)
  • Top 40 51145,55 (37671)
  • All Share 57123,78 (34185)
  • Resource 10 44133,06 (45362)
  • Financial and Industrial 30 78010,93 (42741)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.