Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Voel jy arm? Doen dié toets

Dis ’n refrein wat jy dalk gereeld hoor: Suid-Afrika is een van ongelykste lande ter wêreld.

Ongeag hoe bleek jy dink jou spaarvarkie is, gaan dit dalk beter met jou as met die meeste van jou landgenote. Foto: Pixabay

Die meeste van ons – oorlaai met motor- en huisskuld en die stygende koste van opvoeding, kos en brandstof – dink nie aan onsself as “ryk” nie.

’n Nuwe skaal wat ekonome van die Universiteit van Kaapstad se navorsingseenheid oor arbeid en ontwikkeling (Saldru), ’n afdeling van die skool van ekonomie, geskep het, kan jou dalk anders laat dink daaroor.

Hier is die rekenaar: Ongelykheid in Suid-Afrika

In Suid-Afrika is jy reeds in die sogenaamde 1% – die heel rykste deel van die bevolking – indien jy ná belasting meer as R48 753 verdien. Dis vergeleke met die VSA, waar die 1% minstens $32 453 per maand (nagenoeg R440 000 per maand) verdien.

’n Hele 50% van Suid-Afrikaanse huishoudings het ’n maandelikse inkomste van slegs R1 149 per capita.

’n Geweldige 79% van Suid-Afrikaners woon in huishoudings met ’n inkomste van minder as R3 500 per capita – die nuwe minimum loon wat eersdaags in werking gestel word.

Die Saldru-span het ’n aanlyn rekenaar geskep waarmee jy kan uitvind hoe welaf jy vergeleke met jou landgenote is. Jy gee geen persoonlike inligting (soos jou naam of woonplek) weer nie en Saldru verseker hy vorder geen inligting met die werktuig in nie.

Jy antwoord drie vrae met behulp van ’n maklike glyskaal:

  • Wat is jou totale huishoudelike inkomste?
  • Hoeveel mense is in jou huishouding?
  • As jy moes raai, waar dink jy val jy op die skaal (van die armste 1% tot die rykste 1%)?

“Die meeste mense is verkeerd oor waar hulle op die inkomsteverdeling geplaas is. Dié werktuig is ontwerp om mense te help verstaan wat die aard en omvang van Suid-Afrika se ongelykheid is,” verduidelik die webwerf.

Volgens Saldru se navorsing sukkel arm Suid-Afrikaners om aan armoede te ontsnap. Die middelklas is boonop baie kwesbaar en kan maklik terugsak.

50% van Suid-Afrikaners is chronies arm; 20% behoort aan wat as die “stabiele middelklas” beskryf word en 4% word as ’n elite beskryf. Die res behoort aan mense wat net kortstondig arm is, dus as hulle byvoorbeeld tydelik werkloos is, of aan die kwesbare middelklas behoort.

Die kwesbare middelklas word beskryf as mense wat “net een salaristjek van armoede af” is.

Dis nie die eerste sodanige skaal ter wêreld nie, maar die eerste wat spesifiek na Suid-Afrikaanse omstandighede kyk.

Volgens Saldru is dit problematies dat armoede oor generasies heen voortduur. Dit lyk nie asof Suid-Afrika ’n oplossing daarvoor kan vind nie en intussen word dit “genormaliseer”.

Volgens prof. Murray Leibbrandt, direkteur van Saldru, het hulle die skaal ontwerp om mense te help om hulself te sien as deel van ’n groter Suid-Afrikaanse verhaal. “Ons hoop elke Suid-Afrikaner wat daarmee omgaan, sal dink oor waar hulle in die groter prentjie inpas en watter rol, indien enige, hulle kan speel om die status quo te verander.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.