Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Voel jy armer? Blameer Eskom!
Suid-Afrikaners voel nie net armer nie, hulle is. Die nuutste Welvaartindeks wys die waarde van bates het gedaal. Foto: Pixabay

Jy voel nie net armer nie, jy is! Boonop kan jy Eskom ’n deel van die skuld daarvoor gee.

Momentum en Unisa se Welvaartindeks vir die derde kwartaal van 2019 wys dat die waarde van Suid-Afrikaners se bates met minder as hul uitstaande skuld toegeneem het.

Eskom se onvermoë om genoegsame elektrisiteit op te wek, het volgens Momentum en Unisa se navorsing bygedra dat die land se ekonomie verlangsaam, wat dan die gevolg het dat huiswaardes daal of minstens traer groei.

Die handelsoorlog tussen Amerika en China en vrese oor ’n ekonomiese resessie in Amerika en moontlike internasionale terroristeaanvalle is ook bydraende faktore.

Tuis is dit nie net Eskom wat Suid-Afrikaners armer maak nie, maar ook staatskaping en die swak ekonomie.

“Die daling in die reële waarde van huishoudelike netto welvaart is byna uitsluitlik veroorsaak deur ’n afname in die reële waarde van huishoudings se bates. Dit is ondanks die feit dat meer geld in pensioenfondse gespaar is, wat onder normale omstandighede moes bydra tot ’n toename in die reële waarde van bates,” lui die verslag.

“Meer spesifiek, die bogenoemde internasionale gebeure het ’n ernstige negatiewe invloed op die werklike waarde van Suid-Afrikaners se pensioenfondse en beleggings, terwyl binnelandse gebeure ’n groot rol gespeel het in die voorkoming van ’n sterk groei in die reële waarde van hul eiendomme.”

Die jongste Welvaartindeks is Woensdag bekend gemaak.

Luidens die meegaande verslag bestaan mense se bates hoofsaaklik uit hul spaargeld in aftree-instrumente, beleggings en wooneiendom, terwyl hul laste hul uitstaande krediet- en ander skuld behels.

Die verslag is saamgestel deur Johann van Tonder, ekonoom van Momentum, prof. Carel van Aardt van Unisa se Buro vir Marknavorsing en prof. Bernadene de Clercq van Unisa se departement van belasting.

Die totale netto welvaart van Suid-Afrikaanse huishoudings beloop nou R6 966,7 miljard. Dit is R237 miljard minder as aan die einde van die tweede kwartaal van 2019 en R133,7 miljard minder as ’n jaar tevore aan die einde van die derde kwartaal van 2018.

Momentum en Unisa raam dat huishoudings se netto welvaart van 276,2% in die tweede kwartaal van 2019 van hul bruto inkomste (inkomste voor aftrekkings) tot 266,7% in die derde kwartaal gedaal het.

So daal waarde van bates

Die waarde van huishoudings se bates het met R240,9 miljard tot R8 381,9 miljard in die derde kwartaal van 2019 teenoor die tweede gedaal.

Die daling kan toegeskryf word aan dalings van finansiële en residensiële bates.

Die JSE se indeks van alle aandele wat gedurende die kwartaal met 6,8% gedaal het, was een van die groot redes vir dié daling.

Momentum en Unisa sê die daling in waarde van pensioenfondse het die nuwe bydraes oorskadu wat lede gedurende die derde kwartaal bygevoeg het.

So neem waarde van laste toe

Huishoudings se skuld het in die derde kwartaal van 2019 met R3,9 miljard tot R1 415,2 miljard gedaal. Dit is teenoor die tweede kwartaal van 2019.

Wanneer dit met die derde kwartaal van 2018 vergelyk word, het laste egter met R20,6 miljard gestyg.

Momentum en Unisa sê die tendens dat huishoudings krediet gebruik wanneer nood druk, kan duidelik in die syfers gesien word.

Uitstaande persoonlike lenings het in reële terme met 1,6% op ’n kwartaal-tot-kwartaal-grondslag gestyg.

Uitstaande skuld op kredietkaarte het egter met 1,6% afgeneem. Dit was 2,4% in die tweede kwartaal.

Uitstaande huisverbande beloop nou 0,3%. Dit is teenoor die 0,6% in die tweede kwartaal.

Meer oor:  Eskom  |  Salaris  |  Inkomste  |  Geldsake  |  Welvaart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.