Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Wenke vir Spaarmaand #19: Geskenke uit die hart

20 dae, 20 onderwerpe, 20 wenke vir elkeen – kom ons wys jou hoe jy dié Spaarmaand (Julie) kan spaar en dít sonder om arm te voel of te lyk! Hier is raad om te bespaar selfs wanneer jy geskenke koop, hetsy vir verjaardae, Kersfees, ooievaarstees of Moeders- en Vadersdag.

  

Nog 19 wenke hieronder!

  

As ’n mens die sente moet omdraai, is geskenke koop nogal stresvol. Jy wil immers nie lyk asof jy iemand afskeep nie. Hier is raad.

  

Beplanning is die heel eerste stap as jy wil keer dat jy oorboord gaan met geskenke. Foto: Pixabay

1. Beplan, beplan, beplan

Die enkele beste manier om seker te maak jy gee vir iemand iets wat hulle regtig wil hê én wat jou nie ’n fortuin kos nie, is om betyds te begin dink daaroor.

Met meer tyd kan jy kreatief wees en jy sal nie méér bestee omdat jy haastig is nie. ’n Geskenk wat met sorg uitgekies is, beteken altyd meer as een wat duur is.

Maak ’n lysie van almal vir wie jy verjaardag- of Kersgeskenke wil gee. Skryf deurlopend idees neer – iets wat jy raaksien waar jy ook al gaan wat dalk by iemand pas.

  

Só spaar ons

20 dae, 20 onderwerpe, 20 wenke – hier is wat ons reeds in Spaarmaand (Julie) gedoen het:

  1. Klere: Mooi op ’n begroting
  2. Motor en brandstof: Rem jou vervoerkoste
  3. Behuising: Jou huis is nié jou kruis
  4. Bankkoste: Lag heelpad bank toe
  5. Kos: Eet lekker terwyl jy spaar
  6. Selfoonrekening: Selfoon kán minder kos
  7. Skoonmaakmiddels: Skoon huis vir minder
  8. Vakansie: Jou billike wegbreek
  9. Mediese uitgawes: ’n Pil vir mediese koste
  10. Troeteldiere: Begroot vir Wagter
  11. Grimering: Minder is mooier!
  12. Tuinmaak: Groen, maar geldslim
  13. Restaurante: Eet uit vir minder
  14. Korttermynversekering: Rég verseker
  15. Babas en kleuters: Babatreë!
  16. Krag: Gee ons krag!
  17. Vermaak: Pret wat minder kos
  18. Drank: Lig die glas... stadiger

2. Begroot vir geskenke

Maak ’n onderafdeling in jou begroting vir geskenke. As jy in ’n sekere maand nié ’n geskenk hoef te koop omdat niemand verjaar nie, spaar die geld (in ’n koevertjie in jou kas of in ’n ander bankrekening, hoe dit ook al veilig sal wees) vir ’n volgende maand, wanneer twee mense dalk verjaar.

En sit heeljaar lank ’n ietsie ekstra in die koevert vir Kersgeskenke sodat jy nie jou hele dertiende tjek (as jy so gelukkig is!) op geskenke moet blaas nie.

  

3. Maak jou lysie korter

Jy hoef nie vir al jou kollegas verjaardag- of Kersgeskenke te koop nie. As daar ’n ongemaklikheid kan ontstaan, gee eerder vir niemand iets nie as vir net sommige mense. Skryf eerder vir iemand ’n e-pos of kaartjie met ’n persoonlike boodskap as om geskenke te koop.

Beperk só jou lysie tot gesinslede en nabye vriende.

  

4. Moenie geskenke oorsee pos nie

Stuur liewers ’n geldjie oorsee (dis heel maklik met PayPal, byvoorbeeld) as om geskenke te koop en dit ten duurste oorsee te pos. Dit kan jou baie maklik drie keer die waarde van die geskenk kos om iets oorsee te stuur.

  

5. Kom ooreen op ’n bedrag

Belê ’n vergadering met jou gesin en besluit wat die maksimum prys van verjaardag- of Kersgeskenke vir die jaar gaan wees. Op dié manier weet almal waar hulle met mekaar staan en is daar nie druk om op loop te gaan met geskenke nie.

  

Dit het dalk gewoonte geraak om vir kinders ’n hele hoop geskenke te gee vir hul verjaardag en weer vir Kersfees. Een geskenk is genoeg! Foto: Pixabay

6. Koop minder geskenke

Elke kind hoef nie vyf verjaardag- of Kersgeskenke te kry nie.

  

7. Koop saam een geskenk

Koop as gesin saam ’n enkele geskenk vir elke gesinslid of as gesin vir ’n ander gesin oor Kersfees, pleks daarvan dat almal ’n geskenk vir almal moet koop.

As dit kom by ooievaarstees of trougeskenke is dit ’n goeie plan om met ’n klomp ander mense saam te span en een geskenkbewys te koop. Dis veral ideaal as almal nie ewe welaf is nie. Dan maak dit nie saak wie R50 gegee het en wie R500 gegee het nie – stel dit ook aan almal duidelik dat elkeen na sy vermoë mag gee sonder dat iemand sal oordeel.

  

8. Bly weg van handelsname en modegiere

Klein kinders heg tipies geen waarde aan duur handelsname nie. Koop vir hulle gehalte- en praktiese speelgoed, maar jy hoef hulle nie met internasionale handelsname te probeer beïndruk nie. Hulle gaan waarskynlik net so lekker met die verpakking as die speelding self speel.

Bly ook weg van die nuutste gier, hetsy dit nou fidget spinners, aandenkings van die nuutste animasiefliek of hoverboards is. Dit gaan vir vyf minute gewild wees en dan stof vergader in ’n kas.

  

Jy hoef nie ja te sê vir elke kinderpartytjie waarheen jou kind genooi word nie. Foto: Pixabay

9. Moenie elke kinderpartytjie bywoon nie

Dink mooi na oor watter partytjies jou kind kan bywoon. Baie ouers nooi deesdae die hele klas na hul kind se verjaardig. Woon net partytjies by van maatjies met wie jou kind regtig speel.

   

10. Benut spesiale aanbiedings

As jou kind nog klein is en uitnodigings na baie verjaardagpartytjies deur die loop van die jaar kry, koop aan die begin van die jaar sommer ’n paar boeke by ’n afslagboekwinkel wat jy as geskenke kan gebruik. Buiten dat dit goedkoper is as om die nuutste speelgoedgier na te jaag, hoef jy ook nie met elke partytjie rond te hardloop en te wonder wat jy moet kry nie.

Kyk ook uit vir uitverkopings en promosies van geskenke wat op jou lysie is en koop geskenke vooruit – maak net seker jy vergeet nie daarvan nie.

Soos altyd is dit ook belangrik dat jy niks onnodig koop of méér koop omdat iets goedkoper is as gewoonlik nie – die idee is dan juis om te spaar.

    

Herontdek jou kreatiwiteit deur jou eie kaartjies te maak. Foto: Pixabay

11. Maak jou eie kaartjies en papier

Kaartjies en geskenksakkies of -papier is deesdae amper so duur soos die geskenk self. Wees kreatief met verpakkings – bruinpapier met ’n lint kan byvoorbeeld baie stylvol wees – en maak jou eie kaartjies.

Lees ook: 20 mooi, sakpas geskenkpapier-idees

     

12. Bêre die pakkies

Hou alle geskenksakkies wat jy en jou gesinslede ontvang netjies in ’n boks of in ’n kas en gebruik hulle weer. Nie net bespaar jy geld nie, maar met herwinning help jy ook die omgewing.

   

13. Maak self

Van koekies tot tuisgemaakte klei, van iets wat gebrei of gehekel is tot iets van hout – as jy handvaardig is, is daar ’n oneindige aantal moontlike selfgemaakte geskenke. Soek ’n bietjie op Pinterest na billike geskenkidees.

Lees ook:

     

14. Sê vir jouself “nee”

Navorsing wys dat mense wat geskenke vir ander mense gaan koop, dikwels ook iets vir hulself koop – en dikwels sommer iets duur. Herinner jouself dat jy nie op jou eie lysie is nie, maar wel op iemand anders s’n, en weerstaan die versoeking om jouself te “bederf”.

  

15. Hergee (re-gift)

Het jy in die jaar ’n geskenk ontvang wat heel oulik is, maar net nie vir jou nie? As dit ongebruik is en as dit pas by iemand anders, gee dit gerus weg – solank dit natuurlik nie is aan of in die teenwoordigheid van die persoon wat dit vir jou gegee het nie.

  

Gee iets wat vir jou sentimentele waarde het, al is dit nie nuut nie. Foto: iStock

16. Gee iets ouds . . . van waarde

Dalk is daar ’n ornament of paar oorbelle wat jy weet waarvan ’n vriendin baie hou, of ’n boek wat vir jou baie beteken het wat jy wil deel, of ’n melkbekertjie wat aan jou ouma behoort het wat jou suster graag wil hê, of dalk net ’n paar gholfstokke wat ’n pel baie sal waardeer nadat jy reeds opgegradeer het. Dit is nie noodwendig ’n afskeepgeskenk nie maar kan regtig uit die hart uit kom.

  

17. Koop so veel as moontlik aanlyn

As jy ’n lysie het van wat jy wil koop, kan jy aanlyn pryse vergelyk en jy kan by die meeste winkels aanlyn koop, van Woolworths tot Absolute Pets en van Musica tot Takealot.

Deur aanlyn te koop, spaar jy baie tyd, energie en brandstof. Jy loop nie op en af in rakke en laai goed in wat jy nie nodig het nie. Jy gaan drink nie tussendeur koffie of eet middagete nie.

Jy moet wel versigtig wees dat jy nie virtueel ook maar net inlaai nie.

Dis ook belangrik dat jy betyds bestel – veral oor Kerstyd wanneer die e-winkels besig is.

  

Gee jou tyd of maak self iets - steeds die beste manier om te wys jy gee regtig om. Foto: Pixabay

18. Gee jou tyd

“Geskenkbewyse” vir dinge wat jy vir iemand anders kan doen, kan regtig vir ’n besige ma of verswakte oupa baie beteken. Bied aan om iets te doen wat daardie persoon regtig nodig het – soos inkopies gaan doen, in ’n ry gaan staan om ’n rekening te betaal, iets in die huis regmaak of kinders oppas sodat ’n egpaar ’n slag ’n aand kan uitgaan.

As jy van kosmaak hou, bied dalk aan om ’n heerlike maaltyd af te lewer.

  

19. Gee ’n herinnering

Raam ’n foto van julle saam of van ’n ma saam met haar baba of van jou kinders saam (wat ook al iets vir die persoon sal beteken). Omdat so baie van ons foto’s deesdae op ons fone of aanlyn op Facebook of Instagram is, vergeet baie mense om dit uit te druk en by hulle te hou. ’n Mooi foto wat ’n mens teen die muur kan opsit of langs die bed kan staatmaak, is altyd ’n wenner.

  

20. Gee net vir kinders

Veral as dit by Kersfees kom, is dit ’n goeie plan om vooraf te besluit dat grootmense “groot” genoeg is om sonder geskenke klaar te kom.

Meer oor:  Spaarwenke  |  Geskenke  |  Kersgeskenke  |  Spaar  |  Kersfees  |  Spaarmaand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.