Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Wenke vir Spaarmaand #20: Geldslim met kinders

20 dae, 20 onderwerpe, 20 wenke vir elkeen – kom ons wys jou hoe jy dié Spaarmaand (Julie) kan spaar en dít sonder om arm te voel of te lyk! Hier is algemene raad om geld te bespaar as jy kinders het.

   

Nog 19 wenke hieronder!

Dis nie goedkoop om kinders te hê nie – maar dis ook darem ’n enorme voorreg om ’n ouer te wees.

Parent24 het onlangs berig dit kos nagenoeg R90 000 per jaar om ’n kind groot te maak. Dit sluit alle uitgawes in – van behuising en klere tot skoolgeld Dit beteken dit gaan jou meer as R20 miljoen kos om jou kind van baba tot ná universiteit groot te kry – en inflasie is nie eens daarby ingereken nie.

Oor die afgelope net meer as drie weke het ek wenke verskaf oor hoe jy geld op kos kan bespaar, hoe jy krag kan bespaar, hoe jy brandstof kan bespaar, hoe jy kan bespaar as jy gaan uiteet en hoe jy kan bespaar op vermaak en vakansies. Dít alles kan jy natuurlik met vrug inspan saam met onderstaande wenke inspan om vir die gesin geld te bespaar.

  

Wanneer jy jou kind se skool kies, probeer ’n besluit neem wat jy glo finansieel volhoubaar is sodat jy nie jou kind ná ’n paar jaar moet skuif omdat jy dit nie meer kan bekostig nie.

1. Dink mooi oor skole

Ons wil almal vir ons kinders die beste kans in die lewe gee wat ons kan bekostig, en ouers is in die algemeen bereid om alles moontlik te doen om hul kinders in die beste skool moontlik te kry.

Die besluit om ’n private skool te kies, het meestal groot koste-implikasies, terwyl daar wel nog uitstekende staatskole bestaan. Probeer ’n besluit neem wat jy glo finansieel volhoubaar is sodat jy nie jou kind ná ’n paar jaar moet skuif omdat jy die betrokke skool nie meer kan bekostig nie.

Doen jou ondersoek nie net op grond van die skoolgeld nie, maar ook op grond van enige bykomende koste. Watter uniforms dra die kinders? Moet hulle ekstra betaal vir sport, musiek of kultuur? Is daar beurse beskikbaar?

Onthou ook dat jy heelwat aan vervoerkoste bespaar indien die skool naby jul huis is of as daar ’n bussie of saamryklub is wat ingespan kan word skool toe.

  

Só spaar ons

20 dae, 20 onderwerpe, 20 wenke – hier is wat ons reeds in Spaarmaand (Julie) gedoen het:

  1. Klere: Mooi op ’n begroting
  2. Motor en brandstof: Rem jou vervoerkoste
  3. Behuising: Jou huis is nié jou kruis
  4. Bankkoste: Lag heelpad bank toe
  5. Kos: Eet lekker terwyl jy spaar
  6. Selfoonrekening: Selfoon kán minder kos
  7. Skoonmaakmiddels: Skoon huis vir minder
  8. Vakansie: Jou billike wegbreek
  9. Mediese uitgawes: ’n Pil vir mediese koste
  10. Troeteldiere: Begroot vir Wagter
  11. Grimering: Minder is mooier!
  12. Tuinmaak: Groen, maar geldslim
  13. Restaurante: Eet uit vir minder
  14. Korttermynversekering: Rég verseker
  15. Babas en kleuters: Babatreë!
  16. Krag: Gee ons krag!
  17. Vermaak: Pret wat minder kos
  18. Drank: Lig die glas... stadiger
  19. Verjaardag-, Kers- en ander geskenke: Geskenke uit die hart

2. Spaar getrou vir skoolgeld

Die meeste skole bied afslag as jy aan die begin van die jaar die hele jaar se skoolgeld eenmalig kan betaal. Dit loon jou dus werklik om elke maand geld opsy te sit vir die volgende jaar se skoolgeld óf om jou bonus of dertiende tjek vir skoolgeld te gebruik.

  

3. Spaar vir tersiêre onderrig

Die koste van enige vorm van tersiêre onderrig is enorm. Begin ’n spaarplan hiervoor vir elke kind met hul geboorte.

’n Belastingvrye belegging is ’n goeie beginpunt. Jy mag op die oomblik R33 000 per jaar daarin bêre, met ’n lewenslange limiet van R500 000 (wat die belastinggaarder dalk mettertyd sal verhoog). Alle opbrengs in die belegging is belastingvry, wat dit ’n goeie spaarvoertuig maak.

As jy meer wil spaar as dít, kies beursverhandelde produkte of effektetrustfondse. Moenie bang wees vir ’n hoë blootstelling aan aandele nie, ondanks die trae mark op die oomblik, aangesien ons praat van ’n beleggingstermyn van tot 18 jaar.

Wees versigtig vir studiepolisse of ander uitkeerpolisse. Die voordeel daarvan is dat jy gedissiplineerd elke maand ’n bedrag moet spaar; die nadeel is dat dit aanvangskommissie behels, wat beteken minder geld word aan die begin belê, wat jou uiteindelike opbrengs aansienlik kan verminder.

  

Oorweeg ’n kleuterskool pleks van ’n kinderoppasser vir jou kleinding. Benewens finansiële voordele is daar ook meer gestruktureerde leer van ’n jong ouderdom af. Foto: Pixabay

4. Oorweeg ’n crèche eerder as ’n kinderoppasser

Jy kan heelwat elke maand spaar deur jou kind van kleins af in ’n crèche te plaas pleks van ’n kinderoppasser aan te stel. Daar is ook die voordeel van sosiale interaksie, meer gestruktureerde toesig en onderrig. Daarby is jy nie gestrand indien die oppasser siek word nie. Uiteraard is dié ’n baie persoonlike besluit.

   

5. Moenie ’n fortuin aan klere bestee nie

Daar is heelwat maniere om te verseker dat jou kinders se klere jou nie ’n fortuin kos nie, van die oomblik dat hulle gebore word totdat hulle tieners is.

  • Koop gender-neutrale style en kleure, wat die jonger kinders kan “erf” wanneer die ouer kinders dit ontgroei.
  • Koop klere ’n paar nommer te groot. Jy wil nou nie hê jou kind moet T-hemde so lank soos rokke dra nie, maar veral as dit kom by reënjasse, truie, sweetpakke en pajamas kan jy gerus ’n nommer of twee te groot koop sodat jou kind die klere vir meer as een of twee seisoene kan dra.
  • Maak slim planne om klere groter of reg te maak. Leer hoe om die soom van ’n sweetpak uit te haal en met ’n stuk rekmateriaal (ribbing) langer te maak of om ’n denimbroek in ’n denimrompie te omskep om dit ’n langer dratyd te gee. Pinterest en Facebook wemel van slim planne om ou klere te vernuwe.
  • Huur of leen vir spesiale geleenthede. As jou kinders ’n Valentynsbal of ’n kostuumparty moet bywoon, maak dit nie sin om iets te koop wat hulle net een keer sal dra nie. Vind uit waar jy dit sou kon huur of leen.
  • Koop so min as moontlik skoene. Omdat kinders skoene byna sesmaandeliks ontgroei, is dit belangrik dat jy die minimum pare skoene koop. Koop dalk slegs skoolskoene, tekkies vir sport en een paar “netjiese” skoene. Dit geld ook meisies, wat heeltemal op loop kan gaan met skoene!
  • Moenie jou tieners op loop laat gaan met handelsname nie. Supermarkte en goedkoop klerewinkels boots altyd die gewildste style na en min mense sal die verskil agterkom.
  • Laat weet jou vriende en familielede dat jy tweedehandse klere sal neem (of koop) wanneer hul kinders dit ontgroei het.

   

Tieners moet leer om te spaar vir luukses. Maar dan moet ouers ook gedissiplineerd wees en nie toegee net om gaaf te wees nie. Foto: Pixabay

6. Wees slim met sakgeld

Leer jou kind van jongs af die waarde van geld. Hulle kan reeds voorskools begin sakgeld kry, al is dit net sente vir hul spaarvarkie.

Vir skoolgaande kinders kan jy meer sakgeld gee en van hulle verwag om te begroot en beplan. Maak seker hulle verstaan wát hulle met hul sakgeld moet betaal. Gee dan genoeg sodat hulle dit kan koop – maar eers nadat hulle vir iets gespaar het. Dus, gee minder eerder as meer sakgeld.

Wees self ook gedissiplineerd. As jy besluit het hulle moet hul eie klere met hul sakgeld koop en jy weet jy genoeg gee dat hulle voldoende klere kan koop mits hulle spaar, mag jy nie “vou” en elke nou en dan self klere koop nie.

Een van die slimste dinge wat ek persoonlik gedoen het, was dat ek vroeg al besef het rekenaar- en konsolespeletjies gaan my ’n plaas se geld kos as ek nie ’n stokkie daarvoor steek nie. Ek het dus van jongs af vir my kind genoeg sakgeld gegee dat hy, indien hy slim spaar, so elke drie tot vier maande ’n speletjie kan bekostig. Sedertdien het ek nog nooit vir hom ’n rekenaarspeletjie gekoop nie – hy moet bloot daarvoor spaar as hy dit wil hê.

   

7. Maak entrepreneurs groot

Leer jou kind die waarde van werk en die mag van ’n plan maak. Laat hulle planne uitdink hoe hulle ekstra geld in die huis kan verdien. Later kan hulle ook hul dienste of produkte aan ander mense verkoop.

Kinders moet na regte sekere take verrig sonder enige vergoeding, bloot as volwaardige lede van ’n huishouding. Dit sluit na my mening in hul kamer skoonmaak, help met was- en skottelgoed en die versorging van troeteldiere. Dis dalk ’n idee om hulle ’n ietsie te vergoed vir bykomende of groot take (soos die motorhuis regpak of mure verf of wat ook al).

  

Seepbelle blaas tel onder die goedkoop speelgoed wat kinders ure lank kan besig hou. Foto: Pixabay

8. Moenie te veel of te duur speelgoed koop nie

Dikwels koop ouers speelgoed vir hulself eerder as vir hul kinders – of dit nou ’n kwadfiets of ’n nuwe konsole is. Vra jouself ’n bietjie af: As jy vir jou kind vir sy tiende verjaardag ’n kwadfiets koop, wat gaan jy vir hom gee as hy 16 jaar oud word?

Jy kan spaar deur speelgoed te koop waarmee die hele gesin kan speel, soos bordspeletjies.

Kyk uit vir tweedehandse speelgoed op sosiale media, webwerwe of winkels vir gebruikte goedere of koop by vriende of familielede.

Oppas om te vou elke keer as daar ’n nuwe gier is – die giere waai besonder vinnig deur ’n skool en net so vinnig weer oor. Giere het geen herverkoopwaarde nie, terwyl goeie speelgoed of bordspeletjies vir altyd hou.

Onthou die waarde van ongestruktureerde speel – elke oomblik hoef nie met ’n speelding gevul te word nie. Afvalpapier, verf, kryte en ’n skêr; wegkruipertjie; ’n kis vol ou klere; en kombers om ’n binnenshuise “tent” met te bou leer kinders om hul verbeelding te gebruik.

  

9. Wees wys met geskenke

Kinders het nie ’n piramide geskenke nodig elke keer as hulle verjaar nie – koop eerder een duursame geskenk as ’n hoop goedkoop speelgoed wat in elk geval binne oomblikke breek.

  

As jou kleinding die volgende Vanessa-Mae is, moet jy vir seker als in jou vermoë doen om daardie vioollesse te bekostig, maar álle kinders hoef nie karate, tennis, viool en kuns buitemuurs te neem nie. Foto: Pixabay

10. Beperk buitemuurse bedrywighede

As jou kinders elkeen tennis-, karate-, musiek- en kunsklasse in hul vrye tyd neem, gaan jy sink onder die koste van buitemuurse bedrywighede, en boonop gaan jy sukkel om jou tyd te bestuur.

Probeer elke kind tot een betaalde buitemuurse aktiwiteit beperk. Moet ook nie ál die toerusting daarvoor koop voordat jy bepaal het of jou kind wel daarmee sal volhou nie. ’n Mens kan byvoorbeeld ’n karatepak en –handskoene leen of ’n musiekinstrument huur voordat jy koop.

Die meeste skole bied genoeg (gratis) sport en kultuurbedrywighede aan wat jou kinders se talente sal help ontgin, tensy jou kind ’n buitengewone talent het wat verder ontwikkel moet word.

  

11. Wees wys met bykomende onderrig

Jy gaan byna elke kwartaal saam met jou kind se rapport ’n klomp advertensies kry vir ekstra klasse en rekenaarprogramme vir spesifieke vakke. Probeer oordeelkundig wees daaroor. Vra onderwysers en ander ouers se mening voordat jy ’n rekenaarprogram koop of inteken op ekstra klasse – nie alle programme het ewe veel waarde nie. Daar is ook baie gratis apps en aanlyn programme beskikbaar wat dikwels goedkoper is.

Jy gaan ook advertensies kry van voorligtingsielkundiges wat jou kind se vaardighede wil toets. As jou mediese fonds daarvoor betaal, benut dit beslis. As jou kinders enige leer- of konsentrasieprobleme het, laat hulle ook beslis evalueer. As jou kinders egter na wens presteer, wees maar oordeelkundig. Dit maak nie van jou ’n slegte ouer as jy nie jou agtjarige se talente teen ’n paar duisend rand wil laat ontleed nie.

  

12. Wees dekor-slim

Kies vandat hulle klein is neutrale kleure eerder as prentjies vir gordyne en beddegoed vir jou kinders se kamers sodat dit nie verouder voordat die beddegoed gaar is nie.

As jou tieners hul kamers wil mooimaak, laat hulle kreatief raak met verf – dis ’n betreklik goedkoop manier om ’n kamer op te kikker. ’n Mens kan meubels ook verf. (Die tydskrif Tuis is ’n puik bron van idees vir selfdoenprojekte vir alle vertrekke.)

  

13. Bou ’n netwerk

Reik altyd uit na ander ouers by jou kinders se kleuterskool of skool. Dis baie lekker om ’n ondersteuningsgroep op te bou van mense wat mekaar wedersyds kan help. Jy sal dan altyd iemand hê wat weet watter huiswerk jou kind vergeet het om neer te skryf of iemand wat jou kinders kan aanry na hul sportgeleenthede toe wanneer jy nie kan nie.

Julle kan geld aan oppassers bespaar deur mekaar se kinders om die beurt op te pas – die kinders hou van maatjies oorhê.

  

Kinders leer die waarde en plesier van gesonde kos as hulle hul eie groente verbou. Foto: Pixabay

14. Verbou jul eie groente

Dis ’n slim manier om geld op kos te bespaar en die kinders vaardighede te leer.

  

15. Gaan buite seisoen met vakansie

As jou kinders nog nie op skool is nie, moet jy beslis buite skoolvakansies met vakansie gaan as jy enigsins kan. Dit is aansienlik goedkoper.

  

16. Moenie kos vermors nie

Kinders wat vol fiemies is, laat heelwat kos verlore gaan. Probeer dit beperk deur kos te maak wat hulle wel eet, maar laat hulle altyd hul horisonne verbreed deur ’n happie te proe aan wat Ma en Pa eet. (Hou moed, dit word mettertyd beter totdat jy eendag tieners het en wens hulle wil ’n slag óphou eet!)

Skep ook kleiner porsies en laat jou kinders weer inskep, eerder as dat jy te veel inskep en kos op hul bord oorbly.

  

17. Beplan jou etes

Maaltydbeplanning is ’n groot sleutel tot besparing in ’n huishouding met kinders. ’n Bietjie beplanning van jou inkopies en die kosmakery sal keer dat julle te gereeld kitskos koop.

Soos die kinders groter word, kan hulle jou help spaar deur kos te maak as jy dalk laat moet werk.

Maak kitskos en uiteet spesiale geleenthede en jy kan honderde rande spaar.

Skep vir jouself ’n eenvoudige maaltydbeplanner. Persoonlik het ek ’n maandkalender op my yskas met net die hoofbestanddeel van elke aand daarop geskryf (soos “hoender”, “pasta” of “eiers”; “oorskiet” is ook ’n kategorie omdat ek merendeels genoeg kos vir meer as een maaltyd maak wanneer ek kosmaak). Dis in potlood, so as iets voorval, kan dit verander, maar só kan ek verseker dat ek die regte kos koop.

  

Uiteet moet altyd ’n luukse wees - des te meer as jy ’n groot gesin het.

17. Benut spesiale aanbiedings in restaurante

Weet watter aand van die week jy soveel pizza kan eet as wat jy wil (Donderdae by Panarotti’s teen R75 per persoon) of wanneer burgers goedkoper is (Spur het pas ’n Maandagaand-aanbod van R50 per burger ingestel).

Vind ook uit van restaurante se lojaliteitskaarte, wat dikwels spesiale aanbiedings vir kinders op hul verjaardag insluit.

Selfs met dié spesiale aanbiedings moet jy uiteet beperk tot spesiale geleenthede as jy ’n gesin is; en maak altyd reëls oor koeldrank (een per kind?) en nagereg (ja of nee?) voordat julle gaan.

  

18. Gaan biblioteek toe

Nie net vir die boeke nie – vind ook uit watter aktiwiteite jou biblioteek vir kinders aanbied. Daar is dikwels storieleestye, handvlyt vir kinders of selfs flieks wat vertoon word, hetsy gratis of teen ’n minimale koste. Biblioteke verhuur ook DVD’s en CD’s en soms selfs legkaarte.

  

Maak aktiewe kinders groot en jy sal minder aan elektronika hoef te bestee! Foto: Pixabay

19. Maak aktiewe kinders groot

Maak aktiewe, fikse kinders groot en jy sal baie geld bespaar aan binnenshuise vermaak soos rekenaarspeletjies, DVD’s en rolprente. Skop gereeld saam met hulle ’n sokker- of rugbybal rond, gaan stap met die honde, laat hulle fietsry (bly net veilig en laat hulle valhelms dra) - stel self die voorbeeld.

   

20. Bêre en pas op

Kinders wat hul speelgoed en skryfbehoeftes netjies wegpak elke aand, verloor minder daarvan en bespaar uiteindelik vir jou ’n klomp geld.

As dit kom by skryfbehoeftes, notaboekies, plakkers en wat nie als nie, het kinders dikwels ’n oormaat van alles, maar as die oor die hele huis verstrooi is, koop ’n mens dikwels nuwe goed uit pure frustrasie.

Bykomende bronne: Real Simple, Parent24

Meer oor:  Spaarwenke  |  Studies  |  Kinders  |  Tersiêre Onderrig  |  Kinders En Geld  |  Spaar  |  Spaarmaand  |  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.