Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Werk jy oorsee? Kry jou sake in orde voor 1 Maart!

Veranderinge oor die belastingverpligting op  Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, of oorweeg om oorsee te werk, word op 1 Maart van krag, maar baie Suid-Afrikaners het nog nie hul sake in orde nie. Riana de Lange het ’n kenner gevra wat nou gemaak.

  

emigrasie
Spreek ’n kenner voordat jy enige werksaanbod vir ’n oorsese betrekking aanvaar. Foto: iStock

Jonty Leon, regskenner oor finansiële emigrasie by Tax Consulting, sê hy was in Januarie in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en Katar om kliënte te gaan sien en dit was vir hom duidelik dat baie Suid-Afrikaners nie naastenby gereed is vir die veranderinge wat kom nie. Daar is baie mense, sê hy, wat hul koppe in die sand druk in die hoop dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) hulle nie sal uitvang nie.

Tot op hede was inkomste wat Suid-Afrikaners in die buiteland verdien in geheel kwytgeskeld van belasting kragtens art. 10(1)(o)(ii) van die Inkomstebelastingwet. Vanaf 1 Maart 2020 word dié kwytskelding op sekere voorwaardes beperk tot R1 miljoen, wat beteken sekere mense gaan in Suid-Afrika moet belasting betaal.

Sedert die beplande wetsveranderinge sowat twee jaar gelede aangekondig is, het Tax Consulting duisende Suid-Afrikaners geadviseer om te verseker dat hulle hul belastingplig steeds ná 1 Maart ten volle kan nakom.

Leon sê Suid-Afrikaanse werkers in lande in die Midde-Ooste met lae belastingkoerse of lande met wie Suid-Afrika nie ’n ooreenkoms oor dubbele belasting het nie, gaan die ergste deur die nuwe wet geraak word.

Ooreenkomste oor dubbele belasting verseker dat belastingbetalers nie onnodig in albei lande belasting betaal nie.

Leon sê die behoefte aan inligting en leiding is so groot dat Tax Consulting die afgelope week ook Mauritius besoek het.

Ook Saoedi-Arabië, Koeweit, Oman en weer die VAE is op die reisprogram.

Die SAID is baie streng oor inkomste wat nie verklaar word nie.

Leon sê tydens hul besoeke het dit geblyk talle Suid-Afrikaners ignoreer die veranderinge en dink hulle sal hul buitelandse inkomste kan wegsteek, of meen hulle sal deur hul interpretasie van die wet skotvry wegkom.

Hy sê die grootste kwessie is waarskynlik Suid-Afrikaners wat nie hul buitelandse inkomste in hul belastingopgawes verklaar het nie – hetsy per abuis of op grond van verkeerde advies.

Die SAID is baie streng oor inkomste wat nie verklaar word nie. Afhangend van die rede waarom die inligting weerhou is, kan jy ’n boete of selfs strafregtelike sanksies opgelê word as dit as belastingontduiking beskou word.

Sy raad aan diegene wat nog nie werk gemaak het van die veranderinge en die impak op hul belastingplig nie, is om professionele raad in te win van ’n gerespekteerde maatskappy wat spesialiseer in belasting op uitgewekenes.

Gebruik iemand wat die regsaspekte ken en jou persoonlike omstandighede sal verstaan, sê hy.

Die wetsveranderinge kan dit baie duurder maak vir Suid-Afrikaners om oorsee te werk.

“Advies behoort met die een of ander waarborg te kom, anders is dit nie die papier werd waarop dit geskryf is nie,” waarsku hy.

En as jy ná Maart in die buiteland wil gaan werk?

Dit hang af of jy beplan om permanent na Suid-Afrika terug te keer of nie, omdat die situasie verskil vir tydelike of permanente werk oorsee.

Spreek ’n kenner voordat jy enige werksaanbod vir ’n oorsese betrekking aanvaar.

Die wetsveranderinge kan jou sak op so ’n manier raak dat dit vir jou onbekostigbaar sal wees om in die buiteland te werk, verduidelik Leon.

Hy sê dis moeilik om te sê hoeveel inkomste die SAID kan inkry wanneer die nuwe wetgewing van krag word.

Hoewel ’n mens sou dink die SAID behoort ’n stewige bykomende inkomste hieruit te kry, merk Tax Consulting op dat al hoe meer Suid-Afrikaners hul belastinginwonerskap in Suid-Afrika laat vaar, wat beteken hulle is nie meer hier belastingpligtig nie.

Leon sê die wetsveranderinge kan dit baie duurder maak vir Suid-Afrikaners om oorsee te werk. Dit beteken minder en minder Suid-Afrikaners kan gebruik word vir buitelandse projekte.

Werknemers uit jurisdiksies met minder streng belastingbedelings sal dan eerder die geleenthede kry, wat jammer is vir Suid-Afrikaners.

  • Tax Consulting SA en die regsuitgewers LexisNexis het onlangs ’n omvattende gids, Expatriate Tax: South African Citizens Work­ing Abroad and Foreigners in South Africa, gepubliseer oor die belastingimplikasies van emigrasie en sake soos werkpermitte en -visums, vergoedingstrategieë, valutabeheer en finansiële emigrasie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.