Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Werk oorsee? Weet dít oor taks

Suid-Afrikaners wat daaraan dink om oorsee  te gaan woon en werk, het baie belastingsake om te oorweeg voordat nuwe wetgewing op 1 Maart in werking tree. Jean du Toit, ’n senior prokureur verbonde aan Tax Consulting, gee raad aan voornemende uitgewekenes.

Vergewis jou van nuwe belastingwetgewing wat van Maart geld vir Suid-Afrikaners in die buiteland.

Heelwat Suid-Afrikaners wat oorweeg om die land te verlaat, is moontlik onseker oor die belastingimplikasies wat dit kan hê.

Die belangrikste oorweging vir dié individue is ongetwyfeld in watter land hulle as belasting-inwoner geag sal wil word.

Indien ’n persoon, ondanks sy/haar emigrasie, ’n Suid-Afrikaanse belastinginwoner bly, is hy/sy verplig om sy wêreldwye inkomste aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te verklaar en is onderhewig aan belasting in Suid-Afrika op dié wêreldwye inkomste. Wanneer die persoon nie meer ’n belastinginwoner is nie, is hy/sy slegs aanspreeklik vir belasting op inkomste wat in Suid-Afrika gegenereer is.

Tot op hede het Suid-Afrikaners in die buiteland hulself nie met belastinginwonerskap bemoei nie omdat hul buitelandse inkomste in geheel kwytgeskeld was van belasting kragtens art. 10(1)(o)(ii) van die Inkomstebelastingwet.

Vanaf 1 Maart 2020 word dié kwytskelding beperk tot R1 miljoen, wat beteken sekere uitgewekenes se Suid-Afrikaanse belastingaanspreeklikheid gaan toeneem.

Belastinginwonerskap

Suid-Afrikaanse belastinginwonerskap word deur twee toetse bepaal. In die eerste instansie is ’n persoon ’n belastinginwoner as hulle “gewoonlik woonagtig” is in Suid-Afrika. Tweedens kan jy ’n belastinginwoner wees op grond van jou fisieke teenwoordigheid, maar dit is merendeels van toepassing op individue wat emigreer of dié wat inwonerskap verloor het en weer terugkom vir verlengde tydperke.

In die konteks van uitgaande uitgewekenes is die eerste toets dus die enigste een wat hier aandag kry. Die term “gewoonlik woonagtig” word nie in die wet omskryf nie, maar daar is heelwat reg­spraak oor die interpretasie daarvan.

In ’n neutedop is ’n persoon gewoonlik woonagtig in die land waar hul regte of permanente huis is, die land waarna die individu van nature en vanselfsprekend terugkeer ná sy/haar omswerwinge.

Prakties, wanneer ’n persoon Suid-Afrika verlaat om vir ’n aantal jare in die buiteland te werk, maar die bedoeling het om aan die einde van hul kontrak na Suid-Afrika terug te keer, sal hulle steeds gewoonlik woonagtig wees in Suid-Afrika.

Met ander woorde, die blote feit dat ’n individu ’n geruime tyd uit die land was, beteken nie dat hy/sy nie meer ’n Suid-Afrikaanse belastinginwoner is nie.

Met ander woorde, die blote feit dat ’n individu ’n geruime tyd uit die land was, beteken nie dat hy/sy nie meer ’n Suid-Afrikaanse belastinginwoner is nie. Die individu se subjektiewe bedoeling om terug te keer na Suid-Afrika word objektief beoordeel deur hul omstandighede te ondersoek, spesifiek die stappe wat hulle doen om hul subjektiewe bedoeling uit te voer.

Op dié punt is dit belangrik om uit te wys dat die bewyslas op die belastingbetaler is om op ’n oorwig van waarskynlikhede aan die SAID te bewys dat die belastingposisie wat hulle aangeneem het, korrek is.

Van die faktore wat in ag geneem sal word om objektief te bepaal of jy ’n belastinginwoner is of nie, sluit in:

  • Die verblyfreg wat in die gasheerland aan die individu toegestaan is. Indien die persoon se werkpermit of visum slegs vir ’n beperkte tyd geldig is, sal die argument dat die individu nie na Suid-Afrika gaan terugkeer nie, moontlik misluk. Waar iemand burgerskap toegestaan is in die gasheerland, is dit ’n sterk objektiewe faktor wat aanduidend is van ’n bedoeling om permanent in daardie land te woon.
  • Wat jy met jou bates in Suid-Afrika doen.
  • Jou bewegings na en vanuit Suid-Afrika sowel as die bewegings van onmiddellike familie.
  • Of jy ’n proses volg van finansiële emigrasie of nie. Wanneer jy deur dié proses gaan, is dit ’n duidelike objektiewe stap wat daarop dui dat jy nie van plan is om terug te keer nie.

Finansiële emigrasie is ’n tweeledige proses wat deur die Reserwebank en die SAID behartig word, en wat formeel vir albei instansies aandui dat die individu boeke afsluit in Suid-Afrika.

Wanneer die belastingbetaler aanvoer dat hy nie meer ’n belastinginwoner van Suid-Afrika is nie, maar hy het nie sy status vir valutabeheer-doeleindes geregulariseer nie, kan die SAID hierdie voorlegging maklik betwis.

Dit is dus belangrik om seker te maak die belastingbetaler se posisie is in ooreenstemming met die onderliggende objektiewe faktore, veral aspekte soos die persoon se verblyfreg en status in die gasheerland. Net so moet die proses van finansiële emigrasie nie gevolg word bloot om inwonerskapstatus te verander as dit nie werklik die belastingbetaler se bedoeling is om permanent bande met Suid-Afrika te verbreek nie.

Raad vir beplanning

Die LexisNexis-publikasie Expatriate Tax: South African Citizens Working Abroad and Foreigners in South Africa, onder redaksie van Tax Consulting South Africa, is ’n omvattende gids wat aandag gee aan die substantiewe belastingaspekte van emigrasie, asook verbandhoudende aspekte soos werkpermitte en -visums, vergoedingstrategieë, valutabeheer en finansiële emigrasie.

Die handboek is gerig op die breë publiek – van belastingspesialiste tot die leek wat sy belastingverpligtinge wil verstaan.

  • Tax Consulting South Afrika is een van die grootste onafhanklike belastingpraktyke in die land, met meer as 90 professionele kenners – meestal toegelate prokureurs, geoktrooieerde rekenmeesters, belastingspesialiste en kenners van internasionale mobiliteit.
Meer oor:  Oorsee  |  Belasting  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.