Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Werk só slim met geld in jou onderneming

Dié rubriek is die tweede in ’n reeks van vier waarin ek spaarwenke deel met individue, ondernemings en huishoudings. Die fokus vandag is op ondernemings, maar daar is beginsels wat almal kan toepas in hul eie geldsake.

  

Lees ook: Werk slim met jou belasting

Charné van der Walt

In ’n onderneming, soos met ’n huishouding, is daar net twee maniere om vooruit te kom met jou geld – verdien meer of bestee minder.

Ek wil ’n paar punte bespreek sodat jy as eienaar van ’n onderneming minstens bewus is van hoe jy slimmer met jou inkomstes en uitgawes kan werk.

As jy jou onderneming in die vorm van ’n maatskappy bedryf, sou jy gesien het dat maatskappybelasting onveranderd op 28% gebly het in vanjaar se begroting.

Hou egter in gedagte dat verskillende vorme van belastingtoegewings nie met inflasie aangepas is nie, en dus betaal ondernemings in effek wel meer aan belasting.

Dit beteken entrepreneurs moet meer kreatief en ook meer betrokke by hul ondernemings raak.

   

Algemene foute

    

Kom ons kyk na drie belangrike en meer algemene foute wat eienaars van ondernemings maak. As dit vermy kan word, kan dit besparings meebring. 

1. Kontrakte

Ek dink die heel grootste een is dat mense nie kontrakte behoorlik deurlees voordat dit onderteken word nie. Bestudeer dokumente deeglik, verstaan wat jy onderteken en win advies in waar nodig.

2. Geen opgawes

’n Tweede fout is dat mense nie genoeg van hul kommunikasie per e-pos doen nie en dan is daar nie rekords van reëlings, beloftes of bestellings nie. Dit geld ook vir skriftelike rekords van vergaderings, wat uiteindelik deel vorm van die onderneming se beleid.

Dit verwyder ook onsekerheid by werknemers oor wat van hulle in die onderneming verwag word. Werknemers se vertroue in ’n onderneming kan die omset positief beïnvloed.

3. Te lae pryse

Om jou en jou onderneming se waarde te onderskat en jou pryse te laag te maak, kan ook ’n fout wees.

Bou eerder langer aan jou onderneming se sukses maar met ’n sterker basis, waar kliënte weet wat hulle van jou kry en wat jou diens behels.

Jy kan met getroue, vriendelike en konsekwente diens ook beter verwysings vir nuwe sake inkry.

Bestuur hulpbronne só

     

spaar, ekonomie, geld
Almal moet byna oral besnoei om steeds basiese dinge soos kos en petrol te kan bekostig. Foto: Unsplash

Kom ons kyk ook na hoe ’n onderneming hulpbronne soos personeel en voertuie anders kan benader of bestuur.

1. Aanstellings

As jy ’n klein onderneming het nie en nie ’n personeelagentskap wil gebruik om mense aan te stel nie (wat op sigself ’n fout kan wees), benader die aanstellingsproses sistematies.

Stel jou eie vorm op wat aansoekers kan voltooi met inligting wat vir jou belangrik is en gaan alle verwysings persoonlik na.

Hou minstens drie onderhoude met kandidate oor ’n tydperk van ’n paar weke. Ek sou tog aanbeveel dat jy een of twee uur by ’n arbeidsmakelaar gaan sit om te help met die kontrak en met algemene advies.

Dit kan ’n onderneming duur te staan kom as werknemers eise begin instel, veral as dit vermy kon gewees het.

Stel kontrakte op, al stel jy familielede en vriende aan. Persoonlikhede verskil, maar of iemand nou ’n introvert of ’n ekstrovert is, hulle moet darem lyk of hulle wil werk (en ook by jóú wil werk!) Entrepreneurs begaan dikwels ook ’n paar foute ten opsigte van die onderneming se voertuie, wat geld kan vermors.

2. Voertuie

’n Algemene fout is om ’n voertuig wat vir die onderneming gebruik word, op die eienaar se persoonlike naam te koop omdat dit so makliker gefinansier word.

Dit is soms die enigste opsie vir ’n nuwe onderneming. Doen dan minstens die ekstra moeite om ’n ritboek te hou sodat jy steeds ’n groot gedeelte kan eis van voertuig-verwante uitgawes soos herstelwerk, bande en petrol.

As jy die onderneming kan begin met ’n goedkoper voertuig wat reeds betaal is, kan jy ’n kredietrekord opbou in die naam van die onderneming vir enige daaropvolgende voertuie. Die bykomende belastingvoordele om die voertuig in die onderneming se naam te hê, maak ’n reuseverskil. Vra jou rekenmeester se raad voordat jy ’n voertuig aankoop.

Vermy foute met jou finansies

Finansiële foute wat eienaars maak, kan ook vermy word. Kom ons kyk na drie van hulle:

1. Rekenmeester

Al kos dit meer, as ’n goeie rekenmeester werklik omgee vir jou onderneming en betrokke is by jou sake (soos om gereeld met jou kontak te hê oor jou onderneming se winste – of verliese – asook oor watter uitgawes ingeperk of verhoog kan word) gaan dit oor lang termyn jou onderneming beskerm en jou winste verbeter.

As jy net een keer ’n jaar kontak het met jou belastingpraktisyn om jou opgawes in te vul en nie verstaan watter bedrae belasting jy moet inbetaal nie, en as jy nie jou onderneming se groei gereeld monitor met ’n kundige aan jou sy nie, moet jy aandag daaraan gee.

Doen moeite om te gaan nalees en praat met jou rekenmeester sodat jy werklik die struktuur van jou onderneming kan begin verstaan. Kyk of julle ’n ander stelsel kan volg waar julle byvoorbeeld twee of drie keer ’n jaar vergader. Benader dit met erns (nie as ’n kuierafspraak nie), stel ’n agenda op en besluit ná afloop van elke vergadering wat kan jy anders kan doen.

2. Belasting

Goeie finansiële beginsel om in ’n onderneming te volg is om, met behulp van jou rekenmeester of belastingpraktisyn se berekeninge, te bepaal watter persentasie van die omset dadelik weggesit moet word in ’n ander bankrekening.

’n Nuwe onderneming sal dit nie noodwendig met groot gemak kan doen nie, maar dit moet deel wees van die onderneming se langtermynbeplanning.

Dit moet verkieslik só bereken word sodat daar genoeg is om alle soorte belasting te betaal, die onderneming se noodfonds te bly aanvul asook jaarlikse uitgawes soos bonusse of uitgawes in tye wat die onderneming gesluit is, te dek.

’n Nuwe onderneming sal dit nie noodwendig met groot gemak kan doen nie, maar dit moet deel wees van die onderneming se langtermynbeplanning.

As die onderneming kwalifiseer vir belastingkortings of laer belasting, probeer ook eerder om die belastingbeplanning teen die hoër belastingkoerse te doen.

Indien die laer belastingkoerse later wegval, is die onderneming daarop voorbereid.

3. Bly op hoogte

Bly te alle tye by met betalings aan werknemersbelasting en belasting op toegevoegde waarde. As ’n onderneming eers agter raak met hierdie belasting, is dit baie moeilik om in te haal.

Daar word onnodig tyd en energie bestee aan die regstel van hierdie sake by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wat jy eerder in jou onderneming kon ploeg.

Die 10%-boete wat aan die SAID betaal moet word (uitgesluit die rente) is werklik ’n mors van geld.

4. Versekering

Daar is ook uitgawes wat jy in ’n onderneming kan aangaan wat jou uiteindelik kan help bespaar.

Een hiervan is om lewens- en ongeskiktheidsversekering uit te neem op die lewe van noodsaaklike werknemers. As jy baie steun op die kundigheid of beskikbaarheid van een of meer werknemers of waar hul afwesigheid vir selfs ’n kort rukkie jou onderneming finansieel kan benadeel, kry kwotasies vir hierdie soort polisse.

As die premie nie as ’n uitgawe geëis word nie, sal die opbrengste belastingvry uitbetaal word en gee dit die onderneming kans om iemand anders aan te stel en kop bo water te hou met uitgawes.

In kleiner ondernemings kan dit die suksesvolle voortbestaan van die onderneming verseker en keer dat skuld gemaak moet word onder sulke omstandighede.

Hoewel die meeste ondernemings korttermynversekering het, vind ek dikwels dat die dekking nie korrek is nie. Benut iemand wat goeie kennis dra van kommersiële versekering, iemand wat jou onderneming fisiek kan besoek en wat ’n goeie gevoel het van wat gedek moet word, en vir hoeveel (veral as jou versekering bedryfspesifiek is).

Gewoonlik word hierdie polisse een keer per jaar hersien, maar as jy meer gereeld kontak maak en net vinnig gesels, kry die makelaar kans om te bepaal of enigiets in jou onderneming verander het en kan hy of sy belangrike wysigings voorstel.

Wat ek graag met hierdie rubriek wil tuisbring by lesers wat by die bestuur van ’n onderneming betrokke is, is om anders te probeer dink oor uitgawes.

Soms moet jy stadiger met sekere uitgawes om te verseker die onderneming bly winsgewend. Ander kere moet jy juis iets bestee om op ’n meer produktiewe manier inkomste te genereer, of jou inkomste te beskerm.

  • Charné van der Walt is ’n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn. Haar webwerf is www.lemons.co.za. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie. Sy skryf gereeld vir Sake.
Meer oor:  Charné Van Der Walt  |  Belasting  |  Entrepreneurs  |  Kleinsake  |  Oos-Kaap Naweek  |  Geldsake  |  Spaarwenke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2260,51 (7457)
  • Top 40 50341,63 (26385)
  • All Share 56406,88 (28305)
  • Resource 10 44220,72 (46209)
  • Financial and Industrial 30 76382,91 (30380)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.