Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
WVF en jou huiswerker: Als wat jy moet weet

WVF-registrasie is nou moeiteloos en die voordele groot, skryf Letitia Watson.

  

Dis nie soveel moeite as wat jy dink om jou huiswerker vir Werkloosheidsversekering te registreer nie.

Selfs as jou tuinier of skoonmaker net drie keer per maand vir jou kom werk, is die kans goed dat jy hulle by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) moet registreer.

WVF en die regering se ouderdomstoelaag kan goud werd wees vir jou huiswerker wanneer sy of hy nie meer ’n inkomste kan verdien nie.

As jy ’n huiswerker het wat 24 uur of langer per maand vir jou werk, is jy wetlik verplig om die persoon by die departement van arbeid se WVF te registreer.

Die voordeel is dat jy en jou huiswerker die versekering van finansiële versorging vir ’n sekere tydperk het as sy byvoorbeeld op kraamverlof moet gaan of afgedank moet word omdat jy wegtrek.

Werkgewers moet maandeliks 1% van die werkers se salaris aftrek en self ook 1% bydra.

In Desember 2018 is nuwe minimum lone bekend gemaak (kyk op www.labour.gov.za). Dit verskil vir stedelike en plattelandse gebiede en word jaarliks aangepas.

Dit is nie wat jy jou huiswerker moet betaal nie; dit is net die laagste moontlike loon. Maak seker jy gee jou huiswerker regverdige vergoeding.

Iemand wat ekstra verantwoordelikhede kry, soos om iemand te versorg benewens die skoonmakery, of sekere opleiding het, moet vergoed word.

   

Dis maklik op uFiling

  

WVF-verklarings kan na moeite lyk, maar die webwerf uFiling maak dit baie maklik. Die webwerf is onlangs opgeknap en het ’n paar geboortepyne gehad, maar met ’n toetslopie deur Rapport het dit sonder probleme gewerk.

1. Registreer as werkgewer

Jy kan dit gebruik as jy vir die eerste keer as werkgewer registreer of as jy lank reeds geregistreer is, maar die verklarings gefaks of per e-pos gestuur het.

Volg net die aanwysings op die webwerf om eers as ’n gebruiker te registreer voordat jy as werkgewer registreer. Daar is ’n gebruikersgids wat alles stapsgewys verduidelik.

2. Jy moet ook jou huiswerker registreer

Jy sal die persoon se ID-nommer moet gee en ook hoeveel die maandelikse en jaarlikse salaris is, want dit sal die maandelikse bydrae bepaal.

3. Betalings kan van die webwerf af gedoen word

Jy het altyd toegang tot ’n staat van jou betalings.

Alle inligting word geïnkripteer om dit veilig te hou. uFiling is gratis, maar as jou bank geld vra vir sekere betaalopsies, is dit bankrekeningtariewe en het dit nie iets te doen met die WVF nie.

  

Sondes word vergewe

  

Jy kan jou huiswerker registreer, al doen jy dit eers ná ’n paar jaar.

Jy kan dit op uFiling tot vyf jaar terugwerkend doen. Jy sal wel ’n boete (10%) en rente (dit is wisselend, die WVF kan aandui hoeveel) moet betaal.

Jy sal nie die boete en rente op uFiling kan betaal nie en sal die WVF moet bel om te hoor hoeveel dit kos en hoe dit betaal moet word.

Voorts mag jy nie die agterstallige WVF-bydraes van die huiswerker se salaris aftrek nie. Jy kan slegs 1% van die huiswerker aftrek van die huidige maand.

As jy die registrasie gedoen het en soms die maandelikse bydraes vergeet het, sal die werkgewer eers die agterstallige skuld moet vereffen voordat die werknemer van die fonds kan eis.

  

Wanneer kan huiswerkers eis?

  

  • Solank die werkgewer tot die fonds bydra, kan hulle eis as hulle werkloos word weens afdanking, ontslag of ’n kontrak wat verval of as hulle weens siekte, kraam of aannemingsverlof nie kan werk nie. Die eis vir werkloosheid moet binne 12 maande ingedien word.
  • As die werker vier jaar of langer deurlopend bygedra het, kan hy of sy vir tot ’n jaar eis. Vir korter tydperke kan een dag geëis word vir elke ses dae wat gewerk is.
  • Die bedrag wat uitbetaal word, is ’n persentasie van die werker se loon. Die fonds neem ook die bydraetermyn en die frekwensie van eise in ag, sê Riaan de Lange, ’n Kaapse arbeidsprokureur. Die uitbetaling verskil daarom vir almal.

  

Aftreetyd

  

Daar is nie ’n wetlike aftree-ouderdom vir huiswerkers nie, sê De Lange.

Tensy jy as werkgewer spesifiek vir die persoon geld gespaar het of volgens jul kontrak op ’n aftree-uitbetaling ooreengekom het, het die werkgewer nie ’n finansiële verpligting as die huiswerker aftree nie.

Huiswerkers kan wel van 60 jaar af ’n ouderdomstoelaag by die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) kry.

Hulle mag steeds vir jou werk en die toelaag kry. Jy mag egter nie die toelaag inreken as deel van die inkomste wat jy hulle betaal nie.

Die toelaag word op ’n glyskaal betaal – hoe groter die private inkomste, hoe kleiner is die toelaagbedrag. Inligting daaroor is op www.sassa.gov.za.

Huiswerkers kan aansoek doen by die naaste Sassa-kantoor met hul ID-dokument. Dit kan tot drie maande neem om te verwerk, maar betaling sal wees van die datum af waarop die aansoek ingedien is.

Meer oor:  Sassa  |  Huiswerkers  |  Departement Van Arbeid  |  Wvf  |  Arbeid  |  Staatstoelaes  |  Staatstoelae  |  Huishulp  |  Tuinier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.