Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
WVF kry R3,2 mjd. terug wat verkeerd betaal is

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) het reeds sowat R3,2 miljard teruggekry van Covid-19-Ters-geld wat of verkeerdelik of te veel betaal is.

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid. Foto: Argief

Marsha Bronkhorst, waarnemende kommissaris van die WVF, en Thulas Nxesi, minister van arbeid, het Dinsdag dié bedrag bevestig op ’n aanlyn sitting van die gekose komitee oor handel en nywerheid, ekonomiese ontwikkeling, kleinsakeontwikkeling, toerisme en arbeid.

Die WVF het miljarde te veel uitbetaal weens berekeningsfoute benewens die bykans R1 miljard wat betaal is aan mense wat nie daarop geregtig was nie.

Bronkhorst sê waar werkgewers nie geld terugbetaal het wat verkeerdelik betaal is nie, gaan dié bedrag in die toekoms afgetrek word van enige betalings wat aan die werkgewers gemaak moet word.

Bronkhorst sê tot dusver het die spesiale ondersoekeenheid na ongerymdhede met die WVF se Covid-19-Ters-skema 157 werkgewers weens bedrog ondersoek.

In 90 gevalle word vermoed dat die werkgewers eise ingedien het vir werknemers wat nie bestaan nie, of vir werknemers wat normaalweg met bedrywighede voortgegaan het, of vir mense wat die werkgewer se diens verlaat het voor die koronaviruspandemie.

Daar is volgens haar reeds nege werkgewers in hegtenis geneem.

“Ons verwag nog inhegtenisnemings sal binnekort volg,” sê sy.

Die stappe deur die WVF volg op ’n oudit van die ouditeur-generaal oor Covid-19-Ters-uitbetalings.

Die OG het op 2 September aangekondig dat bykans R1 miljard se Covid-19-Ters-voordele aan mense betaal is wat nie daarop geregtig was nie.

Hiervan is R441 144 aan dooies, R224 677 aan minderjariges, R169 900 aan mense in tronke en meer as R140 miljoen aan mense wat reeds ander toelae van die staat ontvang, betaal.

LEES OOK: WVF: Só word bykans R1 mjd. verkeerd betaal

Nxesi sê die departement het onmiddellik stappe gedoen nadat die OG sy oudit uitgereik het.

“Ek het die senior bestuurslede onmiddellik tydelik geskors hangende ’n ondersoek.”

Nxesi sê hoewel daar geen aanduiding is dat die bestuurslede betrokke was by enige ongerymdhede nie, was hulle verantwoordelik vir die skema.

“Ons kan nie preek dat ons mense verantwoordelik gaan hou vir wat (in departemente) gebeur, en dan niks doen nie.”

Tebogo Maruping, kommissaris, Fezeka Puzi, finansiële hoof, en Judith Kumbi, bedryfshoof, is geskors.

Bronkhorst is onmiddellik as waarnemende kommissaris van die WVF aangestel.

Eise uit die tronk, staatsdiens

Bronkhorst sê nie alle eise waaroor die OG berig het, was noodwendig foutief nie.

“ ’n Persoon jonger as 15 jaar oud mag werk. Die vermaaklikheidsbedryf is ’n goeie voorbeeld hiervan. Dit beteken dat so ’n persoon wel ’n eis kan indien. Dit geld ook vir studente wat ’n beurs van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) ontvang.

“Hulle mag werk vir ’n ekstra inkomste, net soos wat enige ander studente mag. As hulle geldige eise het, mag hulle dus eis.”

Bronkhorst sê dié eise moet egter ondersoek word.

Sy erken dat daar ongetwyfeld groot ongerymdhede was.

“Daar is geen manier dat ’n persoon wat reeds sedert 2013 in die tronk is, ’n geldige eis sou gehad het nie.”

Bronkhorst sê eise is vir vier gevangenes ingedien deur hul werkgewers.

Verreweg die meeste van die staatsamptenare wat saam R41 miljoen se voordele geëis het, het as werknemers geëis en nie as werkgewers nie.

“As hulle as werkgewer, byvoorbeeld van ’n huiswerker, ’n eis ingedien het, kan dit geldig wees. Hulle kan egter nie ’n eis as ’n werknemer indien nie.”

Bronkhorst sê die spesiale ondersoekeenheid na Covid-19-Ters-ongerymdhede vorder goed.

“Ek vergader gereeld met hulle. Hulle het reeds ’n magdom dokumente versoek.”

Oor die groot aantal buitelanders wat Covid-19-Ters-toelae ontvang het, verduidelik Bronkhorst vir dié voordeel moes werkgewers net bewys dat daar ’n amptelike werkooreenkoms tussen die werkgewer en die werknemer was.

Thobile Lamati, direkteur-generaal van die departement van indiensneming en arbeid, erken dat die voorwaardes vir dié voordele werkgewers in staat gestel het om eise in te dien sonder dat daar bewys is dat hulle ’n bydrae tot die WVF betaal het.

Lamati hulle ondersoek nog presies hoeveel geld nog teruggekry sal kan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.