Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
WVF ‘werk reeds hard’ om geld terug te kry

Haarkappers het veral van die WVF se Covid-19-Ters-skema geëis. Foto: Pixabay

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) gaan hard probeer om soveel as moontlik van die R1 miljard terug te kry wat hy verkeerdelik as deel van die Covid-19-Ters-voordeel uitbetaal het.

Luidens ’n ouditverslag deur die ouditeur-generaal wat vroeg in September uitgereik is, is dié enorme bedrag onder meer aan dooies, minderjariges, staatsamptenare en gevangenes in tronke betaal.

By verre die grootste bedrag (R685 846 671) is aan buitelanders betaal wie se werkgewers nie die afgelope jaar WVF betaal het nie.

Makhosonke Buthelezi, woordvoerder van die WVF, het Dinsdag in ’n aanlyn bespreking gesê hulle werk reeds hard om van die geld te verhaal.

“Ons werk saam met die spesiale ondersoekeenheid en die polisie om oortreders te vervolg,” sê hy.

Hy sê daar is reeds verskeie strafregtelike sake by die polisie aanhangig gemaak.

LEES OOK: WVF: Só word bykans R1 mjd. verkeerd betaal

Buthelezi het die media verseker dat die WVF se stelsel nou in so ’n mate opgeknap is dat bedrieglike eise nou vinnig opgespoor word.

Die departement van arbeid en werkskepping het reeds voorheen in ’n verklaring gesê die stelsel het reeds talle onverdienstelike begunstigdes verwerp sedert die bykomende kontroles in werking getree het.

In die vyf dae tot 26 September het die stelsel 193 aansoeke van dooies, 1 668 van staatsamptenare, twee van gevangenes en 1 968 aansoeke met ongeldige identiteitsdokumente opgespoor en afgekeur.

Wat betref geldige eise, blyk dit dat dit steeds haarkappers en restaurante is wat veral by die WVF se Covid-19-Ters-skema geëis het.

Die tien sektore wat die meeste eise ingedien het, is:

  • Persoonlike dienste: 2 620 115
  • Handel: 2 218 571
  • Konstruksie: 496 981
  • Yster en staal: 461 349
  • Professionele dienste: 436 197
  • Lugdienste: 300 200
  • Mynwese: 298 862
  • Voedselbedryf: 259 170
  • Landbou: 233 319
  • Onderwys: 223 320

Buthelezi sê die WVF het teen 26 September ’n totaal van 11 283 665 aansoeke ontvang van 1 015 529 werkgewers.

Hy sê 9 934 007 van die eise was geldig, en in totaal is daar nou reeds R43 miljard se Covid-19-Ters-voordele aan werknemers betaal.

Die grootste deel van dié geld (R20,8 miljard) is in April betaal, gevolg deur R11,9 miljard in Mei, R10,1 miljard in Junie en R543 000 in Julie en Augustus.

’n Verdere ontleding wys dat R1,6 miljard direk aan werknemers, R1,6 miljard aan buitelanders wat wettig in Suid-Afrika werk, en R214 000 aan huiswerkers betaal is.

Waar dit by die provinsies kom, lyk die uitbetalings só:

  • Gauteng: R20,8 miljard aan 4 577 956 werknemers;
  • Wes-Kaap: R7,1 miljard aan 1 657 836 werknemers;
  • KwaZulu-Natal: R6,5 miljard aan 1 580 621 werknemers;
  • Oos-Kaap: R2,4 miljard aan 563 894 werknemers;
  • Mpumalanga: R2,3 miljard aan 559 485 werknemers;
  • Vrystaat: R1,4 miljard aan 349 289 werknemers;
  • Noordwes: R1,2 miljard aan 266 310 werknemers;
  • Limpopo: R1,1 miljard aan 281 588 werknemers; en
  • Noord-Kaap: R429 864 996 aan 97 029 werknemers.

Buthelezi sê aansoeke vir die tydperk van 16 Augustus tot 15 September sal van 1 Oktober af ingedien kan word.

wvf

   

Betalings

   

Luidens die werkgewersorganisasie Neasa, wat daagliks ’n peiling doen oor hoeveel betalings werkgewers ontvang het, is daar steeds baie eise uitstaande.

Luidens Neasa het bykans geen werkgewers (1%) teen 28 September enige betalings vir Augustus ontvang nie.

Geen van die 1% wat betalings ontvang het, se eise is ten volle betaal nie.

Vir die vorige maande lyk Neasa se statistieke as volg:

  • April: 11% het geen betalings ontvang nie. Van die 89% van werkgewers wat betaling ontvang het, is 73% ten volle betaal;
  • Mei: 15% het geen betalings ontvang nie. Van die 85% van werkgewers wat betaling ontvang het, is 71% ten volle betaal;
  • Junie: 23% het geen betalings ontvang nie. Van die 77% van werkgewers wat betaling ontvang het, is 74% ten volle betaal; en
  • Julie: 93% het geen betalings ontvang nie. Van die 7% van werkgewers wat betaling ontvang het, is 47% ten volle betaal.

   

Vergoedingsfonds

   

Die departement van arbeid het Dinsdag in ’n verklaring gesê buiten vir Covid-19-Ters-voordele betaal die Vergoedingsfonds ook steeds eise uit wat verband hou met die pandemie.

Daar is reeds 7 966 eise hiervoor by die fonds ingedien. Daarvan was 4 929 (62%) regstreekse eise, 2 792 (35%) via Rand Mutual en 245 (3%) via Federated Employees. Laasgenoemde twee versekeraars dien eise namens onderskeidelik myn- en staalwerkers en konstruksiewerkers in.

57% van die eise is van vroue ontvang, en 43% van mans.

Net meer as R5 miljard is nou uitbetaal.

Dit is as volg betaal:

  • R664 322 vir tydelike ongeskiktheid;
  • R51 477 as deel van ’n enkelbedrag weens permanente ongeskiktheid;
  • R1,015 miljoen vir mediese behandeling;
  • R18 251 vir begrafniskoste; en
  • R3,257 miljoen aan die afhanklikes van werknemers wat aan Covid-19 dood is.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.