Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
2 kleiner mediese fondse smelt saam

Twee kleiner mediese fondse, Selfmed en CompCare Wellness, het goedkeuring van die Raad op Mediese Skemas (RMS) gekry om saam te smelt.

’n Nuwe mediese fonds met net die naam CompCare Wellness word geskep.

Konsolidasie van mediese fondse word nou al lank voorspel omdat groter fondse meer bedingingsmag by hospitale en ander verskaffers het. Foto: Pixabay

Josua Joubert, hoof van CompCare, sê die samesmelting is voorgestel om die twee mediese fondse te versterk.

Die lede het ten gunste van die samesmelting gestem.

Volgens hom gaan die twee mediese fondse saam onder die toptien- grootste oop mediese skemas inskuif.

Joubert het nie aangedui hoeveel lewens die nuwe fonds sal dek nie.

Die RMS se jongste jaarverslag toon in 2017 het Selfmed sowat 13 800 en CompCare 24 000 lewens gedek.

Selfmed se lede het altesaam R317,6 miljoen bygedra aan premies, en CompCare s’n R504,7 miljoen.

Joubert sê van die belangrike redes vir die samesmelting is die voordele wat dit vir lede inhou vanweë die groter mediese fonds wat meer invloed en bedingingsmag het, en die kostedoeltreffendheid wat verbeter.

Hy sê onafhanklike aktuarisse het ’n ontleding oor die samesmelting gedoen en het aangedui die nuwe fonds sal die jaarlikse verhogings in bydraes tot ’n minimum kan beperk.

Christo Becker, hoof van Selfmed, het in ’n verklaring gesê die samesmelting is versigtig oorweeg.

“Die twee mediese fondse vul mekaar aan en kan saam ’n wyer aanbod bied om in lede se behoeftes te voldoen.”

Hy sê die samesmelting plaas die nuwe mediese fonds in ’n baie sterk finansiële posisie met een van die grootse reserwes van oop mediese fondse.

Mediese fondse moet ingevolge wetgewing ’n sekere bedrag van die premies wat betaal word, per jaar opsysit in reserwes. Dié reserwes moet minstens 25% van die jaarlikse premies beloop, en volgens Becker gaan hul solvensieverhouding heelwat meer as dit wees.

Becker sê nie wat die reserwes tans beloop nie.

Die jaarverslag van die RMS toon Selfmed se solvensieverhouding het in 2017 meer as 90% beloop.

Compcare s’n het 26,6% beloop.

“Die gesamentlike balansstaat en meer lede gaan skaalekonomie en doeltreffendheid ontsluit wat waarskynlik wesenlike voordele vir lede kan meebring,” sê hy.

Dit is moontlik ook ’n verwysing na laer administratiewe koste.

Volgens die jaarverslag van die RMS het Selfmed R37,8 miljoen en Compcare R50,7 miljoen aan administratiewe uitgawes in 2017 bestee.

Die RMS het albei gelys onder die tien oop mediese skemas met die hoogste administratiewe uitgawes bo die gemiddelde van die bedryf van R140,30 per lid per maand. Selfmed s’n het R228,70 beloop en Compare s’n R175,70.

Selfmed het sy eie administrasie behartig.

Compcare is in daardie jaar deur Universal Healthcare Administrators geadministreer. Dié mediese fonds is ook gelys as een van die toptien wat die hoogste administrasiegeld per lid per maand betaal het, naamlik R211,80.

Op dié lys was Discovery Health Medical Scheme, die grootste mediese fonds in die land, egter heel bo met administrasiegeld van R288 per lid per maand.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.